Dr. Dan Roodt van Praag het so pas 'n e-boek in Engels via Amazon.com se Kindle-stelsel gepubliseer met die titel Johannesburg in five. Die verhaal handel oor vyf minutein Johannesburg waartydens 'n moord in 'n parkeergarage in Sandton City plaasvind, asook 'n skaremoord op 'n Malawiër in Diepsloot.
"Ek was eintlik besig om James Joyce se Ulysses te lees, wat in Dublin binne een dag op 16 Junie afspeel. Daarom dag ek toe, waarom nie 'n halfuur, of selfs vyf minute van Johannesburg nie?"
Toe hy uitgevra is oor die genre van sy kort Kindle-e-boek, wat as 'n "Kindle Single" bekendstaan, het hy laggend gesê: "Dis 'n soort ontmoeting van James Joyce met Mickey Spillane, deureenvermeng met 'n ietsie van die Franse nouveau roman. Johannesburg is sinoniem met uitspattige inkopies en lukraak moorde, dus het ek dit in my storie probeer weergee. Dis ook baie eenvoudig geskryf, vir die globale leser."
Waarom skryf Roodt in Engels op Kindle en nie op papier in Afrikaans soos voorheen nie? "Wel, ongelukkig aanvaar Amazon slegs Engels, Frans, Spaans, Duits, Italiaans en Portugees. Miskien sal ek later Frans probeer; dit kan nogal pret wees! Ek ek wil ook vir Amazon kontak om hulle te vra wanneer hulle e-boeke in Afrikaans gaan begin publiseer, aangesien Facebook en al die ander globale internetmaatskappye gaande oor Afrikaans is. En dan was die Afrikaanse literêre establishment nog nooit baie ingenome met my skryfwerk nie. Hoewel ek slegs hier en daar iets in Engels geskryf het, dring 'n hele klomp mense in die VSA egter daarop aan dat ek meer in Engels moet skryf sodat hulle my óók kan lees. Ek is nogal ontroer deur 'n groep Amerikaanse studente wat wil hê dat ek aanstaande maand in Februarie 'n konferensie in Washington moet bywoon, maar ek is nie seker of ek sal kan gaan nie."
Roodt is ook besig om 'n bundel van sy essays in Engels saam te stel, wat insgelyks as Kindle-e-boek gepubliseer sal word, met 'n papieruitgawe wat oor die volgende paar maande sal verskyn. Hy werk ook aan ten minste twee romans in Afrikaans, 'n wetenskapfiksieverhaal oor 'n beskaafde planeet wat deur barbare uit die buitenste ruim binnegeval word en 'n lokasieroman. "Ek wou nog altyd 'n lokasieroman skryf. Eens op 'n tyd het my ouers naby die Alexandra-lokasie in Bramley gebly en daar is klokslag elke maand by ons ingebreek, dus meen ek ek het reeds ervaring van die lokasielewe. Ook het ek onlangs heelwat oor Sophiatown en sy bendekultuur gelees, waaronder Nadine Gordimer se 'A world of strangers', wat verder my belangstelling in die genre geprikkel het," sê Roodt.
Intussen kan sy aanhangers hom op die Kindle lees. "Onthou net, jy het nie 'n Kindle nodig om my Kindle Single te lees nie. Enigiets elektronies met 'n internetverbinding sal werk: jou rekenaar, jou selfoon, jou tablet, wat ook al. Laai net die toepassing af en siedaar! Gaan na my outeursblad op Amazon.com of na danroodt.com waar ek ook 'n skakel sal plaas."
Om 'n e-skrywer te wees, is harde werk, volgens Roodt. "Dit is e-puttend! Asof ek nie reeds genoeg webwerwe het om na om te sien nie, benewens duisende Facebook- en Twitter-vriende, moes ek nogmaals 'n tuisblad danroodt.com vir my globale Engelse lesers skep. Dis nog heel eenvoudig, maar ek is van plan om heelwat biografiese inligting daarop te plaas, om 'n begrip van myself en my lewe in 'n vreemde land soos Suid-Afrika oor te dra."
Boeke


Vroeër vandeesmaand is die skrywer Michel Houellebecq met die grootste Franse literêre prys, die Prix Goncourt, bekroon vir sy jongste roman La carte et le territoire (Die kaart en die grondgebied). Hoewel die Goncourt slegs omtrent twee rand aan prysgeld bedra, word die ontvanger oornag beroemd en kan ook op boekverkope van etlike honderde duisende reken.
In 

