Kan dit weer gebeur?
Vanjaar, presies ‘n 100 jaar gelede, het ‘n boek onder die naam van Jules Verne verskyn.
Die boek, Les naufragés du Jonathan, (Die oorlewendes van die Jonathan) het vier jaar na die dood van Verne verskyn, en was ‘n somber, swartgallige beskouing van die samelewing van sy tyd. Die manuskrip is reeds in 1897 neergepen, en die somberheid is toegeskryf aan Verne se goemoedstoestand nader aan sy dood in 1905.
Hierdie boek het gou in die vergetelheid geraak, en dit het in 1977 eers duidelik geword hoekom. Dit was skynbaar reeds bekend dat Verne se seun, Michel, die oorspronklike manuskrip verwerk het, maar in 1977 het Piero Gondolo della Riva van Venesië die oorspronklike manuskrip, opgespoor, en die boek het onder sy oorspronklike titel, Magellania, verskyn. ‘n Engelse vertaling het eers in 2002 die lig gesien. Toe eers het dit duidelik geword in welke mate Michel die boek herskryf, en eintlik verongeluk het.
Wat Michel beoog het is nie duidelik nie. Meestal word aanvaar dat Magellania so dramaties van Verne se ander werke verskil het, dat die uitgewer gemeen het Verne se aanhangers sou hierdie andersheid nie aanvaar nie.
Met die verskyning van die oorspronklike Magellania is egter ‘n nuwe gehalte-dinamika aan Verne se oeuvre toegevoeg, iets waarvan sy seun sy nalatenskap byna beroof het.
Selfs vandag nog beperk inligtingstukke oor Verne hom dikwels tot die vader van wetenskapsfiksie. Verne was egter geen fiksieskrywer in die egte sin van die woord nie. Talle van die tuie en instrumente wat hy in sy boeke beskryf het, het later werklikheid geword, en van die uitvinders het ook erkenning aan Verne vir hul inspirasie gegee. Onder Verne se “voortydige” beskrywings tel duikbote, helikopters, lugreëlings en rolprente.
Magellania speel hom egter op ‘n heel ander vlak af – ‘n kliniese ontleding van gemeenskapslewe, filosofie, godsdiens en die mens se posisie in die natuur. As basis gebruik hy die lot van ‘n groep skipbreukelinge wie se skip in die Straat van Magellaan vergaan het. Die oorlewendes besluit om ‘n kolonie te stig. Hul wel en weë kruis met dié van ‘n persoon van onbekende herkoms, Kaw-djer, wat voorheen net ingestel was op sy eie en die inboorlinge se behoeftes. Sy eie herkoms is in misterie gehul, en sy lewensuitkyk, “Geen God en geen meester nie” verklap die filosofiese diepte waarin die boek delf. Kaw-djer, met sy uitgebreide kennis, help die koloniste om te vestig, maar toe die gemeenskap uitmekaar begin val, is hy teensinnig om as leier oor te neem.
Kaw-Djer, wie se innerlike gemoed en gedagtegang eerder as die omgewing en gebeure die verhaal oorheers, is ‘n passiewe anargis en hy glo vas in die vryheid van die menslike gees.
Hier, aan die suidpunt van Amerika, waar Chili en Argentinië met mekaar oorhoeks is oor waar die grens tussen hulle loop, vind Kaw-djer die niemandsland waar hy sy lewensuitkyk ongesteurd kan uitleef. Met die stranding van die Jonathan, wie se skipbreukelinge eintlik na Afrika onderweg was, word sy opvattings deur praktiese realiteite uitgedaag.
Magellania was egter nie die enigste werk van Verne wat geykte opvattings van die skrywer uitgedaag het nie. Op grond van sy werk, Mathias Sandorf, wat oor ‘n Hongaarse vryheidsvegter handel, is hy soms ook as rewolusionêr beskou. Sandorf, wat as verdediger van die verdrukte volksmassa intree, is reeds ‘n voorloper van Kaw-Djer wat dieper na die lewe kyk as die geykte opvattings van sy tyd.
Dit is egter moeilik om te bepaal of Verne Kaw-Djer se lewensbeskouing futuristies op vandag se samelewing sou wou projekteer, soos hy met sy tegnologiese “uitvindings” gedoen het. Hy het immers vir Kaw-Djer ‘n afgeleë deel van die wêreld gekies wat slegs deur beperkte buite-insette aangetas is.
‘n Meer sinvolle vraag sou moontlik wees hoeveel armer die wêreld is omdat nuwe insigte nie in die gemeenskap opgeneem word nie. Skrywers, by uitstek, is aan die beoordeling van uitgewers uitgelewer of hul pennevrug die gemeenskap sal haal. Vandag bied die internet wel “aflaaiplek” en potensieel ‘n wêreldgehoor, maar dit is steeds die gedrukte media wat die denkraamwerk bepaal. By die onlangse SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesvieringe is byvoorbeeld (so ver bekend) geen kategorie geskep vir bydraes tot Afrikaans of die wetenskap wat op die internet geplaas is nie. Daar is dus geen aanmoediging of inspirasie vir internetskrywers om by standaard-taalgebruik en spelling te bly nie, en die spelling is gewoonlik ook beroerd.
Die werklike vraag is egter: Bepaal dit wat die gemeenskap verwag – dit wat binne sy gemaksone val, nie dit waaraan die denkende gemeenskap blootgestel word nie? As ‘n skrywer soos Verne amper-amper van sy diepgang en veelsydigheid beroof kon word, hoeveel ander gevalle is daar nie?
Selfs die gevestigde wêreld van die evolusioniste, insluitend die teïstiese evolusioniste, geomorfoloë en sterrekundiges word deurlopend deur jong aarde kreasioniste bygedam.
Is dit werklik in die Akademie se belang dat gemeenskappe moet ervaar dat die sepie-kultuur ‘n groter erkenning verdien as diepgang buite die gedrukte en uitgesaaide wêreld bloot omdat dit deur vooropgesette idees na die internet “verban” is?
Gaan daar oor bykans ‘n eeu ‘n Piero Gondolo della Riva wees wat daarin gaan slaag om kosbaarhede van skrywers op die internet gaan opspoor en deel van die hoofstroom-raamwerk neem? Gaan daar van gevestigde en selfs bekroonde skrywers so werke na vore kom wat die letterkunde gaan verryk, maar internet toe verban is omdat dit anders as hul geykte patroon was?