Soos enige ordentlike skandaal wat 'n gevierde persoon betrek, het die Tiger Woods-drama 'n skerp styging in verkeer na webwerwe wat besonderhede van sy motorbotsing en buite-egtelike verhoudinge aangebied het, veroorsaak. Die styging sal egter waarskynlik kortstondig wees, namate die skok van die storie afneem.
Een van die werwe met die swaarste verkeer was Woods se eie webblad, waar hy sy enigste openbare opmerkings oor sy botsing geplaas het en sy vergrype erken het. Die webwerf het 448,000 unieke gebruikers gedurende die week van sy botsing gehad, 'n verhoging van die minder as 11,000 die vorige week, volgens die Nielsen maatskappy.
Die Orlando Sentinel-koerant, wat die streek van Woods se huis bedien, het omtrent 1,2-miljoen unieke gebruikers aangeteken, meer as twee-en-'n-half keer soveel as die week voor die ongeluk, sê Nielsen.
Intussen het besoeke aan die vermaakwerf, TMZ.com, en sportnuuswebblad, Deadspin.com, wat albei aap-uit-die-mou nuus oor die voorval gehad het, met meer as vyftig persent toegeneem, volgens Hitwise, nog 'n webanalisemaatskappy.
Google en Yahoo, wat meer as 80 persent van alle internetsoektogte in die VSA hanteer, sê hulle het 'n sprong in verkeer gesien van mense wat inligting oor die gholfsuperster soek.
Yahoo sê soektogte vir Woods se naam het amper 4,000-voudig toegeneem oor die voorafgaande 30 dae.
Die verkeerstoename is nie so beduidend soos dié rondom Michael Jackson se dood en Barack Obama se inhuldiging nie, sê beide maatskappye. Yahoo se uitvoerende hoof, Carol Bartz, het hierdie week egter aan 'n beleggingskonferensie in New York gesê dat die Woods-storie "beter as Michael Jackson wat gesterf het" was, as dit daarby kom om Yahoo te help om geld te maak, omdat dit makliker is om advertensies langs sappige stories te verkoop.
Bartz het selfs gesê dat Woods Yahoo "absoluut" sal help om hulle finansiële vooruitsigte hierdie kwartaal te haal, maar die maatskappy sê die hoof, wat gereeld stuitig is, het net gegrap.
'n Les van vorige groot nuusgebeure is dat internetmaatskappye vinnig moet kapitaliseer in 'n stuwing in verkeer, want belangstelling vervaag gou. Google se statistieke wys dat soektogte vir Michael Jackson sterk geloop het in die dae na sy dood maar dramaties afgeplat het binne 'n paar weke.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





