Die sokkerhoof van Japan het ook nou ook sy stem laat hoor oor die raserige vuvuzela. Hy voel dat dié tradisionele instrument nie by volgende jaar se Fifa Sokker Wêreldbeker toegelaat behoort te word nie en liewer verbied moet word.
Fifa het onlangs die versoek om die plastiekinstrument gedurende die wêreldbeker te verbied, verwerp. Japan dring egter nou daarop aan nadat hulle verlede Saterdag ‘n vriendskaplike wedstryd teen die gasheerspan gespeel het.
“Ons doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging om die geraas te verbied,” het Motoaki Inukai, die president van die Japanse Sokkervereniging (JFA) in Dinsdag se uitgawe van die Sankei Sports-koerant gesê.
"Jy kan jouself nie hoor praat nie. Ek gaan die saak met Sepp Blatter (die president van Fifa) bespreek,” het Inukai bygevoeg nadat hulle gelykop gespeel het teen Suid-Afrika in Port-Elizabeth.
"Jy kan nie jou spanmaats, wat slegs twee meter ver is, hoor nie,” het een van Japan se verdedigers, Tulio gesê.
Die vuvuzela is sinoniem aan Suid-Afrikaanse sokkeraanhangers, maar die eentonige geraas het talle klagtes van internasionale spelers, afrigters en uitsaaiers gedurende die Konfederasiebeker uitgelok.
"Miskien sal die toeskouers stil bly en die wedstryd kyk as die spelers goed speel,” het Japan se sokkerbreier, Takeshi Okada na verlede Saterdag se wedstryd gesê.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





