Jy is hier: Sport Sokker

Gauteng bestee R4m aan sokkerkaartjies

E-pos Afdruk PDF

Die provinsie Gauteng het R4 miljoen aan 4613 kaartjies vir die sokkerwêreldbeker bestee, het die premier Nomvula Mokonyane gister laat blyk.

Die besluit om die kaartjies te koop was gegrond op "die behoefte van die regering om stappe te neem om die geleentheid te bied aan inwoners van Gauteng wat nie die kaartjies kan bekostig nie om sekere van die wêreldbekerwedstryde by te woon," het sy in Johannesburg tydens die provinsie se uitvoerende raadsvergadering gesê.

Meer as 3000 kaartjies is aan skole, weeshuise, spesiale tuistes en amateursportklubs versprei.

"Ons het dié R4 miljoen as 'n provinsie bestee, nie vir onsself nie en nie vir ons famlilies nie.

Die res van die kaartjies was bestem vir "strategiese vennote".

"LUR'e (provinsiale ministers) het kaartjies ontvang vir die doel om met die regering se strategiese vennote te netwerk en as gasheer op te tree."

Mokonyane het die mense van Gauteng geloof vir die sukses van die toernooi. Die provinsie het omtrent 60% van die wedstryde aangebied, waaronder die openings- en sluitingswedstryde.

Die provinsiale regering het die Gauteng-stadstreekobservatorium gevra om die suksesse wat tydens die toernooi behaal is te bestudeer en te bepaal hoe om daarop voort te bou.
Laas Opdateer op Donderdag, 15 Julie 2010 08:24

Oranje deurgeroes

E-pos Afdruk PDF

Nederland en Spanje was tagtig jaar lank in ‘n oorlog gewikkel. Nou het dit Spanje 120 minute op die sokkerveld geneem om die manne van Oranje te klop, en as wêreldkampioene van die veld te stap.

In ‘n taai wedstryd waarin beide spanne blapse na die doelhok gemaak het, het die Spanjaarde vlak voor die einde van 30 minute bykomende tyd ‘n Nederlandse span wat tot tien man uitgedun is, die doodskoot toegedien.

Die Spanjaarde het deurgaans beter daarin geslaag om balbesit te behou. Die Nederlanders se pogings om balbesit te wen is erg bemoeilik deur ‘n skeidsregter wat geelkaarte soos parkeerkaartjies aan veral die manne van Oranje uitgedeel, en uiteindelik ‘n rooi kaart opgediep het.

Soos verwag is, was dit ‘n affêre so taai soos ‘n outydse Wilsontoffie. Die hoogte bo seespieël het duidelik by die manne gespook, wat moes asem oorhou vir ‘n moontlike bykomende dertig minute, wat toe ook gerealiseer het.

Uiteindelik was Spanje net daardie titseltjie beter daaraan toe. Tog het Nederland so amper-amper die knoop deurgehaak toe Arjen Robben se doelskop in gewone speeltyd die Spaanse doelwagter se hakskeen getref en wyd getrek het. Uit ‘n duisend pogings sou Robben nie daardie titseltjie teenspoed verwag het nie, en moes dit juis in die belangrikste wedstryd van sy loopbaan gebeur.

Die eindfluitjie het heel waarskynlik vir Jabulani die tokkelossiebal geblaas. Min van die deelnemers aan die toernooi in Suid-Afrika sal graag weer met ‘n bal met so ‘n wil van sy eie wil speel. Ook in die eindstryd is verskeie balle bo-oor of langs die doelhok verby, of is spanmaats heeltemal “misgeskop” wanneer aangeval is. Dié effens meer aërodinamiese bal het in die binneland baie anders as by kusvlak gereageer, en spanne wat heen en weer kus toe en binneland toe gepiekel is om wedstryde te speel, moes deurlopend aanpas.

Laas Opdateer op Maandag, 12 Julie 2010 07:01

Deutschland Jawohl, Uruguay Eisj

E-pos Afdruk PDF

Thomas MullerGietende reën en ‘n sopnat veld in Port Elisabeth was waarskynlik die vernaamste rede hoekom Duitsland en Uruguay nie die tipiese vrye spel gelewer het wat tradisioneel in die uitspeelwedstryd uitgestal word om die wêreldbeker se derde en vierde plekke te bepaal nie.

Maar dan was daar ook die Duitsers se vasbeslotenheid om met ‘n titseltjie eer uit die toernooi te tree (en Paul die seekat van ‘n calamari-einde te red), en Diego Forlàn, Uruguay se besielende kaptein.

Forlàn het soos ‘n Trojaan gespeel, self ‘n doel aangeteken en in die doodsnikke byna die telling gelykop gemaak toe hy Jabulani die tokkelossiebal teen die doelhok se bokant vasgeskop, en die bal oorgeseil het.

Die eindtelling van 3 – 2 in die Duitsers se guns was ‘n getroue weergawe van die wedstryd.

Nou lê die grote voor. Met ‘n alles-of-niks-situasie sal vanaand se wedstryd waarskynlik ‘n toffietaai affêre wees. Niemand, behalwe Paul, sal die uitslag met oortuiging voorspel nie.

Laas Opdateer op Sondag, 11 Julie 2010 08:21

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL