In die jare toe Curriebekerspanne nog met die trein gereis het, en geld bitter skraps was, het ‘n Vrystaatspan bestaande uit net die 15-tal Nuweland toe gereis. Op die trein is lekker gekuier, en een van die voorspelers het sy knie seergemaak. Toe dié speler die Saterdag op Nuweland se stasie afklim, is die been stokstyf. Omdat hy noodgedwonge moes speel, is hy aangesê om na die beste van sy vermoë die laaste vesting saam met die heelagter te verdedig.
Met die broeke wat destyds tot by die knieë gekom het moes die speler wat so met sy stywe been heen en weer oor die veld gepiekel het ‘n groot indruk gemaak het.
Na die wedstryd is die Vrystaatse kaptein naby die Suid-pawiljoen, toe een van die toeskouers vir hom vra: “Waar kry mastah-hulle daai voelbek met die houtbeen?”
Saterdag in die halfeindstryd op Nuweland kon die voelbek met die houtbeen netsowel gespeel het.
Oor twee weke spook die Haaie en die WP in Durban sake om 2010 se Crurriebeker uit.
Met die Blou Bulle se neerlaag van 16 – 12 in Durban teen die Haaie, was kanse vir ‘n eindstryd in Bloemfontein daarmee heen – wat in elk geval geblyk het van akademiese belang te wees toe die Cheetahs vergeet het om op Nuweland op die veld te draf.
Die halfeindstryd in Durban sal waarskynlik meer onthou word vir die byeswerms wat die aanbreek van die wedstryd vertraag het, en toe ook die Kaapse wedstryd laat laat begin het. Die Haaie het sommer met die afskop ‘n voorbeeld van balretensie gestel wat na ‘n rits fases op ‘n drie uitgeloop het.
Later het reën die bal seepglad gemaak, en veral die Bulle het meer met die voet probeer aanval, en so waarskynlik ook hul laaste wenkans verongeluk deur in die doodsnikke die bal vir die jong Lambie wat op heelagter moes uithelp geloods het, en besit afgestaan het.
Nietemin, die reën het ‘n invloed gehad, en die Bulle kon netsowel as die wenners van die veld gestap het, en sou waardige eindstrydmededingers kon wees.
Wat kan van die Cheetahs gesê word?
Die afgelope dekade al eindig die Cheetahs se “taktiese” skopwerk gereeld onder hul eie pale. Heel dikwels het hierdie stroomop-drieë die verskil tussen wen en verloor gemaak, en ‘n mens sou verwag dat die Blikore oor hierdie mamparraskoppe sou begin besin. Maar watwou, toe die sportskrywers eers begin skryf oor meer skoprugby in die uitkloprondtes, en die verwagte tweestryd tussen Generaal de Waal en Louis Strydom, was die skrif vir die Cheetahs reeds aan die muur.
Of meer hardlooprugby vir die Cheetahs veel meer heil sou bring is ook ‘n ope vraag deurdat dit by tye gelyk het of die Vrystaters die heel week aanslane geoefen het.
Die reëls van moderne rugby is egter ontwerp om balretensie en hardlooprugby te bevorder, en dit was selfs daarvóór die Wit Tornado se kenmerk. Maar stelselmatig het die bal in die hand wat die werk moet doen, plek begin maak vir uitdrukkings soos skoppe in die hoeke, en speel in die opponente se halfgebied. En dis uit daai einste halfgebiede waaruit die teenstanders nou al ‘n dekade lank pasellabesit kry en drieë druk. As dit die afdanking van die Naka en Hawies beteken om die siekte uit die Vrystaat te kry, dan moet dit so wees.
Uiteindelik was die WP 31 – 7 baas.
Op vertonings in die halfeindstryd geoordeel moet die WP – wegwedstryd ten spyt – as gunstelinge beskou word. Beide spanne het skynbaar net nie swak skakels nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





