praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Sport Rugby Curriebeker: Kushalfeindstryde

Curriebeker: Kushalfeindstryde

E-pos Afdruk PDF

Saterdagoggend 9 Oktober 2010 moes nog net twee vrae beantwoord word: Gaan die Cheetahs Nuweland toe moet reis vir sy halfeindstryd teen die WP, en gaan Bjorn Basson die alleenhouer vir die meeste Curriebekerdrieë in ‘n seisoen word?

Dit was na die Leeus die vorige aand aapstert by die Pumas gekry het en die Johannesburgers se buitekans om nog ‘n halfeindwedsteyd te haal, omtrent soos om bloed uit ‘n klip te wurg, verongeluk het, en die Cheetahs met die Luiperds weggehol en volpunte gekry het.

Voor die WP-Haaiewedstryd het nog net een vraag oorgebly: Halfeindstryd op Nuweland of in die Rosestad? Bjorn het toe reeds twee keer agter sy toekomstige werkgewers se doellyn gaan kuier en die seisoenrekord syne gemaak, sonder die voorreg om nog in ‘n halfeind of eindstryd betrokke te kon wees en sy rekord te rek.

Op Nuweland het die WP Haaibiltong gemaak. Die gevolg is dat Cheetahs die WP op Nuweland moet aandurf om sy kleim vir die eindstryd af te pen. Die Bulle is al span wat geen kans meer staan op ‘n eindstryd op sy tuisveld nie.

In dié stadium lyk dit glad nie onwaarskynlik nie dat die Blou Bulle die eindstryd sal haal nie. Die Pretorianers se Springbokke het nou kans gehad om teen die omgesukkelde Griekwas ‘n voete in die span te vind, en dit sal ‘n goed-geoliede masjien sonder swak plekke wees wat Durban toe opruk. Die Haaie het heelwat dinkwerk om te doen. Die beginkombinasie wat teen die WP ingespan is, het van die Haaie sardientjies gemaak, en eers na Skote Petoors teruggestuur is pawiljoen toe, Lambie na losskakel teruggekeer het en Louis Ludick uit die laaste vesting kon aanval, dat die Haaie na ‘n span gelyk het wat nie Nuweland toe gekom het om aanslane te kom oefen nie. Beide spanne het drie drieë gedruk. Al het Francois Louw sy kompas tuis laat lê wat hom op die regte koers moet hou vir indons by losskrums, en al het Generaal de Waal ‘n paar keer misgekorrel, was die WP se oorheersing so sterk dat die Kapenaars genoeg korrelkans pale toe gekry het om betreklik maklik te wen.

Die Bulle sal dus nie deur ‘n eksperimentele span onthaal word wanneer die twee reuse mekaar in die halfeind die stryd aansê nie. Die Natallers kan nie nog so ‘n getjommel soos die Nuwelandse affêre bekostig as die Natallers nog Curriebekerdrome wil koester nie. Hierdie wedstryd kan baie maklik harder rugby as die uiteindelike eindstryd oplewer.

Al was die Cheetahs in die vorige kragmeting teen die WP baas, wag ‘n baie moeilike taak op die Blikore. Die Cheetahs het vanjaar uiters wisselvallig verdedig – van briljant tot uitermate vrot. Die span se min bonuspunte dui ook op ‘n probleempie met deurdringingsvermoë, grootliks te wyte aan dieselfde wisselvalligheid as met die verdediging. Dit het die Cheetahs voortdurend in die versoeking gestel om die verdediging met “taktiese” skopwerk te deurpriem, maar dié maparraskoppe het meermale pasellabesit aan die opponente se snellers besorg en agter die Blikore se eie doellyn geëindig. Dat die span – die verdoemende statistieke hieroor ten spyt - steeds volhou en byvoorbeeld Tewis de Bruyn juis weens “skopvermoë” bo die skerper Tertius Carse in te span, gee min aanduidings dat die Cheetahs hieroor gaan herbesin.

Tog, die Cheetahs het die bal effens meer begin dra, wat tot ‘n paar drieë deur die vleuels gelei het, Meyer Bosman weer laat ontpop het, en Coenie Oosthuizen en selfs WP Nel drieëvrate gemaak het, terwyl Ashley Johnson week na week die oog vang. Teen die WP, met manne soos Gio Aplon agterlangs, kan mamparraskoppe erg berou word.

Die WP kan goed voel oor hoe sy Springbokke ingeskakel het, en selfs ‘n paar buite-posisionele skuiwe genoodsaak het. Boonop, as plaasvervangings aangebring word, word die span eerder versterk as verswak. As Francois Louw net sy kompas gaan opspoor of ‘n GPS persent kry, gaan die WP moeilik uit ‘n eindstryd gehou word.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: