Gister, so in die vroegaand, het ’n uitbundige, waaghalsige 22-tal jong amateurs ons herinner wat dit aan rugby is wat van ons entoesiaste gemaak het. Vir 80 luisterryke minute is geesdriftiges teruggevoer na ’n ander era, ’n heerlike tydvak voordat professionalisme, propagandageskal, politieke tusseninnery en die uitbuiting van spelers die spel omvorm het van ’n diepgevoelde volkspel na ’n siniese obsessie.
Rugby is toenemend ’n spel wat uitgeskrum word met tjekboeke, byvoordele, loopbaanstatistieke en bemarkersvoorkeure. Maar gister het dit terug gemigreer na ’n sport op ’n reghoekige lap dik, groen gras, afgemerk met dik kalkstrepe, verdeel in kwarte en onder die bewaking van hoë H-vormige torings. Die slagordes wat teen mekaar opgetrek het, was aan die een kant die mees professionele rugbykonglomeraat in die land, teenoor die span wat die amateursgees die beste vergestalt. Hierdie is ’n amateurisme wat nie dui op onbehendigheid nie, maar op die suiwerste vorm van die woord “amateur” wat sy beslag het in die Latynse wortel wat “liefde” beteken; liefde vir ’n saak met die volle begrip van geesdrif, vasberadenheid, ywer...
Dit was gepas dat dit juis deur die benadering van dié twee spanne is dat ons herinner is aan wat ons met die oorgang van rugby na ’n bedryfsport verloor het. In die middelstrook van die negentigerjare was dit die voormalige Natal en Transvaal wat die sport oorheers het. Die een, Transvaal, was ’n stoere ou span wat onder die ysterbestuur van Louis Luyt en die begeesterde afrigting van Kitch Christie die vreugde van die sport en daarmee saam die glorie van oorwinning herontdek het. Die ander span, Natal, het in hierdie jare hulle tweederangse status ontgroei om een van die moondhede in Suid-Afrikaanse rugby te word.
Transvaal was die laaste Curriebeker-wenners van die ou amateurbedeling in 1994. Ironies, en miskien getrou aan hulle proletariese nywerheidswortels, was dit juis hierdie span wat onder François Pienaar die volgende jaar gestaak het vir gulde salarisse en daarmee die professionele era ingelui het. Die onmiddellike begunstigdes van die nuwe geldera was Natal wat daardie jaar Sir Donald se beker gewen het. In hulle geledere was dit die duur aankope wat die deurslag gegee het, spelers soos André Joubert, Henry Honiball en James Small.
Transvaal se voorloperstatus het vinnig verskiet. Die beroepsera word gestu deur borggeld en borge vereis die opgewondenheid en lojaliteit van ’n omvangryke ondersteunerskorps. Die twee spanne wat die vinnigste aangepas het was Noord-Transvaal en Natal – nou die Blou Bulle en die Haaie – wat hulle onderskeie stadions in koorsige ondersteunerskatedrale omskep het. Transvaal het die Goue Leeus, en toe bloot die Leeus, geword. Die Bulle het Loftus en die Haaie het King’s Park, maar die Leeus kon nooit van Ellispark dieselfde soort vesting maak nie. Daarvoor is Johannesburg en sy loopbaanerts te kosmopolitaans. Wie ook al teen die Leeus speel, kan staatmaak op driftige ondersteuning van uitgewekenes uit hulle provinsies.
Die jare was nie barmhartig teenoor die Leeus nie en hulle het afgewentel tot die koddige kaalvoetklonkie van Suid-Afrikaanse rugby, ’n span om tegelykertyd te terg en te bejammer. 2010 was ’n besondere duistere jaar vir die span; oorrompel in die Curriebeker-kompetisie en onmagtig om ’n enkele wedstryd in die Super 14 te wen. Dit het uiteindelik gelei tot drastiese optrede deur die president van dié provinsie se rugbyraad, Kevin de Klerk, en sy bestuur. Die afrigtingspan is weggevee en die Kiwi, John Mitchell, toe tussen afrigtingposisies, is opgeraap as nuwe afrigter en Carlos Spencer, die legendariese All Black-losskakel, is deur hom betrek.
Oorwinnings het nie oornag gevolg nie en hierdie jaar het die Leeus nogmaals ’n beteuterde Super Rugby-veldtog beleef. Maar so teen die agtergrond van die geroesemoes oor die Springbokke se Wêreldbekeraanslag, het iets op die rugbyvelde van Gauteng begin gebeur. ’n Doodgewone span, vol onbesonderse spelers het uitmuntende spanrugby begin speel en die een skokoorwinning na die ander begin inryg. Sinici het dit toegeskryf aan die afwesigheid van die Springbokke wat oorsee diens gedoen het. Maar met die Springbokke wie se kierangs in die halfeindrondte teen Australië uitgebraai het, teenwoordig vir die halfeindrondte, het die Leeus volhard met wat hulle die hele seisoen gedoen het: Wen, en dít teen ’n WP met die springstof van Schalk Burger, Jaque Fourie, Bryan Habana, Jean de Villiers en ander terug in die magasyn.
Die Leeus het een Springbok teruggewen: die ietwat afgeleefde Butch James. As span is hulle saamgestel uit tuisgekweekte talent, uitstkotspelers uit ander provinsies en winskopieonderdele. Daar is geen huishoudelike naam in die span nie. Hulle Jaco Taute, byvoorbeeld, het nie die bemarkingsglans van ’n Frans Steyn nie. So gemeet is Doppies la Grange nie ’n Jean de Villiers nie en Derick Minnie geen Heinrich Brüssow nie. En tog het die span ’n flonkerende eenheid geword wat saam in die voorpakloopgrawe geveg het, op krummelbesit geaas het en dit hersirkuleer het as goud en van hulle onderdele, soos Michael Killian en Taute die heelagter, met amper vervelige reëlmaat oor die doellyn deurgepons het. Die kruit in hulle dop was juis die suiwer lewensvreugde – die amateur se liefde – waarmee hulle die spel gespeel het. Ander provinsies se ondersteuners, of hulle spanne teen die mynwerkers gewen of verloor het, het gehou van wat hulle sien. Die Leeus het meeste van hulle se naasgunstelingspan geword.
As die Leeus ’n voertuig van gelapte en uitverkopingsonderdele is, is elke deel van die Haaie duur gekoop en gemasjineer: ’n Volle Springbok-voorry wat die wêreld se beste haker, Bismarck du Plessis, bevat; Springbokke op flank en agsteman; Franse genie op losskakel; gesoute toetsspelers op senter; Springbok-vleuels en op heelagter ’n wunderkind.
Om hierdie professionele masjien te stuit het die Leeus presies twee Springbokke in die beginspan gehad – CJ van der Linde en Wikus van Heerden, beide van hulle as surplus deur hulle vorige provinsies beskou. Van der Linde en Van Heerden en Josh Strauss, die man agter die baard. Daardie baard sou die simbool word van die herrysende Leeus; nie ’n netjies gekapte baard soos Ross Skeate van die Haaie s’n nie, maar ’n woeste, welige, wonderlik romantiese raafswart bos van uitbundige harde hare. Maar ’n baard maak nie die man nie en Strauss het opgeskiet as die kavalier van Suid-Afrikaanse provinsiale rugby, ’n groot, worstelende, aggressiewe, charismatiese grotman van ’n speler en spankaptein.
Met die aanloop tot die wedstryd was dit die algemeen aanvaarde wysheid dat die Leeus ‘n sprokie deur die seisoen geskryf het wat nou brutaal kortgeknip sou word deur die ervare, metaalagtige Haaie. Naspers se Christo Buchner het voldaan uit Johannesburg – nogal – laat weet dat die Durbaniete se vaste vyf die lewe uit die Transvalers sou wurg. Dit was Dawid teen Goliat, jy weet. Tog ’n snaakse beeld, dié, wat so kwistig deur die week gebruik is. Het almal dan vergeet wie dáárdie eindrondte gewen het?
Dawid teen Goliat. ’n Ander wedywering wat so beskryf is, was die boksgeveg, amper vyftig jaar gelede, tussen die brutale swaargewigkampioen, Sonny Liston, teen die vermaaklike nuweling Cassius Clay. Liston, die Goliat, sou onmoontlik kon ondergaan teen dié Dawid. Ná die geveg het ’n boksskrywer verwonderd gevra hoe dit is dat niemand voor die geveg agtergekom het dat dié besondere Dawid groter, langer, swaarder en sterker as sy Goliat was nie. Liston het ’n afgedankste loesing van die lenige jong Clay ontvang.
En dis hoe dit gister op Ellispark was. Die jong, onderaangeskrewe Leeus was vinniger, vaardiger, harder, sterker en dodeliker as die Haaie. Die Durbaniete het ontbrand maar die Leeus het geknal. Die Natallers het hulle rugby bedryf soos vakmanne, asof elke beweging, lak en vaste faset ’n bedryfstoets was. Maar die Leeus was voetbalspelers, spelers!, in die volle sin van die woord. Hulle het gespeel terwyl die Haaie gestoom, gemor, geknor, gegrom, geploeter het. Elke geleentheid om punte te bank het hulle met die grootste opgewondenheid aangegryp. Elton Jantjies, die klong wat rugby speel asof hy die hele tyd na reggae op ingeboude oorfone luister, het twee strafskoppe met die grootste ongeërgdheid in drietalle omskep. Jaco Taute het Frans Steyn se patentreg oortree en ’n strafskop vanuit sy eie halfgebied oorgelanseer.
Dat die Haaie oorgerus was dat hulle die Leeus se voorspelers uit die spel kon roller was gou duidelik toe hulle geweier het om pale toe te skop en probeer het om vanuit ’n kortafstandlynstaan oor te maal. ’n Straatbrak het nog nooit ’n sopbeen met groter venyn verdedig as waarmee die Leeus hulle lywe tussen die Natallers en die doellyn ingewerp het nie. Die Haaie het vreugdeloos en vrugteloos gesoek na ’n swakplek wat hulle nooit kon vind nie. Die kwesbaarheid wat wel blootgelê is, was tussen die Natalse verouderde senters toe Doppies la Grange daardeur gekloof en vir Michael Killian afgevuur het vir die Leeus se eerste drie. Skielik was die jong Leeus dertien punte voor, en toe was dit die einde van die eerste helfte.
Voorsprong ofte nie, die verwagting was dat die Leeu-sprokie se laaste reëls geskryf is, dat die Natallers ’n hoër versnelling sou selekteer, dat die gewig van die geleentheid die Leeus sou aftam, dat hulle vingers en hande gladgesweet en onseker sou word. En toe Willem Alberts ’n onverdiende en onregmatige drie vir die Haaie druk, het die ou gryses geknik. Vir ’n paar minute daarna was die Leeus onseker op die verdediging en huiwerig op die aanval. Die Haaie het met groter sekerheid begin beweeg en daar was bloed in die water. Maar sommige sprokies is bestem om uitgespeel te word. Net so skielik, toe slaan die wedstryd weer reg agteroor toe die Leeus die Haai-verdediging verskeur en Patrick Cilliers die strooptog met ’n drie afgesluit het. Kort daarna was dit Michael Killian wat die verdediging losgetorring het waarna hy ’n wye boog gehardloop het om vir Jaco Taute te vind vir ’n drie wat die Haaie se vinne finaal gepluk het.
Die sprokie het ’n legende geword en die legende is nou voetbalgeskiedenis.
In ’n jaar waarin ons die onsmaak van ’n aangetaste Springbokspan moes sluk, waarin rugby ’n vulgêre ekshibisionistiese bedryf geword het, het hierdie oorwinning van ’n span alledaagse spelers oor ’n versameling ego’s ’n waardevolle intermezzo geword. Vir ’n klein rukkie het rugby in Suid-Afrika sy onskuld herontdek.
Wie gaan volgende jaar se Super Rugby-kompetisie wen? Beslis nie die Leeus nie, dié weet ons almal, net soos ons geweet het hulle kan nie vanjaar se Curriebeker wen nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





