Met die flymskerp Juan de Jong vroeg beseer, was die hemelbesem-slot van die WP, Andries Bekker, 'n paar keer die Stormers se beste agterspeler...
Dit som miskien ten beste die eindstryd van die Super 14 op, wat as rugbyskouspel dalk nie geslaag het nie, maar waar die sterker span waarskynlik as die wenners van die veld gestap het.
Dat die Bulle suksesvol kon skop en storm, moet nie die illusie laat dat dit in enige span se broek sit om dieselfde te doen nie. Vra maar die Cheetahs wat wedstryd na wedstryd ook so probeer maak en in die proses met mamparraskoppe besit aan die opponente present gegee het. Eers laat in die reeks het die Cheetahs hul eie rugby begin speel en weer begin wen.
Die Bulle se skoppe was meestal op 'n tiekie, met 'n hele bondel naelende Bulle wat meeding wanneer die bal net buite die Stromer-kwartlyn afkom, met nog 'n bondel om enige moontlike stroomop-aanvalle in die kiem te smoor.
Die gevolg was dat die Stormers, in plaas van aanval met die balle wat hulle wel kon bemeester, benoud mamparraskoppe geloods het.
Tog...met die skoppery het die Stormers twee drieë teen een gedruk. Trouens, so hitte-titte was daar nog 'n drie of twee teen die Bulle op die telbord.
Die Stormer-base sal seker hul hare uit hul kop trek dat hulle JC Kritzinger as impakspeler opgestuur het. Dié knaap het gevou en Morné Steyn kon die telbord na vallende skrums aan die gesels hou. Boonop het Bekker en Duanne Vermeulen losskrum-sotlikhede begaan wat nog ses punte gekos het.
Maar in alle eerlikheid, as die Stormers die pyp gerook het, sou dit nie die verhaal vertel het nie.
Die Bulle het van die begin tot die einde die Stormers se agterlyn bitter min beweegruimte gegee. Wanneer dit lyk of die Stormers besit vir 'n agterlynaanval het, is die Bul-agterlyn versterk en het dit soms gelyk of daar 'n stuk of 20 manne is wat agterlangs 'n muur vorm.
Die Stormers se taktiek om met voorspelers die bresse agterlangs te slaan, het net meer tyd aan die Bulle verskaf om die verdegingslinie op te stel. Die Stormer-voorspelers wat in die agterlyn geboer het, het op die uitsondering na van Bekker, min deurdringingsvermoë getoon, en die bloot die spoed waarmee die bal agterlangs versprei is, vertraag.
Waar die opstuur van Kritzinger 'n blaps was, was die laat opstuur van Deon Fourie as plaasvervanger-haker ewe-eens 'n blaps. Tiaan Liebenberg was gebruiklikerwys 'n yster, maar Fourie se impak was uitsonderlik.
As in gedagte gehou word dat daar nog spelers van formaat in ander Suid-Afrikaanse spanne en oorsee is, is dit duidelik dat 'n Springbokspan van gehalte met nog volop diepte gekies kan word. Dit is nie nodig om ander toetslande met eksperimentele en raap-en-skraapspanne aan te durf nie.