praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Sunday, 05. February 2012

Bygewerk op:05:27:19 AM GMT

Jy is hier: Sport Rugby

Rugby

Leeus skryf 'n sprokie

E-pos Afdruk PDF

La GrangeGister, so in die vroegaand, het ’n  uitbundige, waaghalsige 22-tal jong amateurs ons herinner wat dit aan rugby is wat van ons entoesiaste gemaak het. Vir 80 luisterryke minute is geesdriftiges teruggevoer na ’n ander era, ’n heerlike tydvak voordat professionalisme, propagandageskal, politieke tusseninnery en die uitbuiting van spelers die spel omvorm het van ’n  diepgevoelde volkspel na ’n  siniese obsessie.

Rugby is toenemend ’n spel wat uitgeskrum word met tjekboeke, byvoordele, loopbaanstatistieke en bemarkersvoorkeure. Maar gister het dit terug gemigreer na ’n sport op ’n reghoekige lap dik, groen gras, afgemerk met dik kalkstrepe, verdeel in kwarte en onder die bewaking van hoë H-vormige torings. Die slagordes wat teen mekaar opgetrek het, was aan die een kant die mees professionele rugbykonglomeraat in die land, teenoor die span wat die amateursgees die beste vergestalt. Hierdie is ’n amateurisme wat nie dui op onbehendigheid nie, maar op die suiwerste vorm van die woord “amateur” wat sy beslag het in die Latynse wortel wat “liefde” beteken; liefde vir ’n  saak met die volle begrip van geesdrif, vasberadenheid, ywer...

Dit was gepas dat dit juis deur die benadering van dié twee spanne is dat ons herinner is aan wat ons met die oorgang van rugby na ’n  bedryfsport verloor het. In die middelstrook van die negentigerjare was dit die voormalige Natal en Transvaal wat die sport oorheers het. Die een, Transvaal, was ’n  stoere ou span wat onder die ysterbestuur van Louis Luyt en die begeesterde afrigting van Kitch Christie die vreugde van die sport en daarmee saam die glorie van oorwinning herontdek het. Die ander span, Natal, het in hierdie jare hulle tweederangse status ontgroei om een van die moondhede in Suid-Afrikaanse rugby te word.

Transvaal was die laaste Curriebeker-wenners van die ou amateurbedeling in 1994. Ironies, en miskien getrou aan hulle proletariese nywerheidswortels, was dit juis hierdie span wat onder François Pienaar die volgende jaar gestaak het vir gulde salarisse en daarmee die professionele era ingelui het. Die onmiddellike begunstigdes van die nuwe geldera was Natal wat daardie jaar Sir Donald se beker gewen het. In hulle geledere was dit die duur aankope wat die deurslag gegee het, spelers soos André Joubert, Henry Honiball en James Small.

Transvaal se voorloperstatus het vinnig verskiet. Die beroepsera word gestu deur borggeld en borge vereis die opgewondenheid en lojaliteit van ’n  omvangryke ondersteunerskorps. Die twee spanne wat die vinnigste aangepas het was Noord-Transvaal en Natal – nou die Blou Bulle en die Haaie – wat hulle onderskeie stadions in koorsige ondersteunerskatedrale omskep het. Transvaal het die Goue Leeus, en toe bloot die Leeus, geword. Die Bulle het Loftus en die Haaie het King’s Park, maar die Leeus kon nooit van Ellispark dieselfde soort vesting maak nie. Daarvoor is Johannesburg en sy loopbaanerts te kosmopolitaans. Wie ook al teen die Leeus speel, kan staatmaak op driftige ondersteuning van uitgewekenes uit hulle provinsies.

Die jare was nie barmhartig teenoor die Leeus nie en hulle het afgewentel tot die koddige kaalvoetklonkie van Suid-Afrikaanse rugby, ’n span om tegelykertyd te terg en te bejammer. 2010 was ’n  besondere duistere jaar vir die span; oorrompel in die Curriebeker-kompetisie en onmagtig om ’n  enkele wedstryd in die Super 14 te wen. Dit het uiteindelik gelei tot drastiese optrede deur die president van dié provinsie se rugbyraad, Kevin de Klerk, en sy bestuur. Die afrigtingspan is weggevee en die Kiwi, John Mitchell, toe tussen afrigtingposisies, is opgeraap as nuwe afrigter en Carlos Spencer, die legendariese All Black-losskakel, is deur hom betrek.

Oorwinnings het nie oornag gevolg nie en hierdie jaar het die Leeus nogmaals ’n  beteuterde Super Rugby-veldtog beleef. Maar so teen die agtergrond van die geroesemoes oor die Springbokke se Wêreldbekeraanslag, het iets op die rugbyvelde van Gauteng begin gebeur. ’n  Doodgewone span, vol onbesonderse spelers het uitmuntende spanrugby begin speel en die een skokoorwinning na die ander begin inryg. Sinici het dit toegeskryf aan die afwesigheid van die Springbokke wat oorsee diens gedoen het. Maar met die Springbokke wie se kierangs in die halfeindrondte teen Australië uitgebraai het, teenwoordig vir die halfeindrondte, het die Leeus volhard met wat hulle die hele seisoen gedoen het: Wen, en dít teen ’n  WP met die springstof van Schalk Burger, Jaque Fourie, Bryan Habana, Jean de Villiers en ander terug in die magasyn.

Die Leeus het een Springbok teruggewen: die ietwat afgeleefde Butch James. As span is hulle saamgestel uit tuisgekweekte talent, uitstkotspelers uit ander provinsies en winskopieonderdele. Daar is geen huishoudelike naam in die span nie. Hulle Jaco Taute, byvoorbeeld, het nie die bemarkingsglans van ’n Frans Steyn nie. So gemeet is Doppies la Grange nie ’n  Jean de Villiers nie en Derick Minnie geen Heinrich Brüssow nie. En tog het die span ’n  flonkerende eenheid geword wat saam in die voorpakloopgrawe geveg het, op krummelbesit geaas het en dit hersirkuleer het as goud en van hulle onderdele, soos Michael Killian en Taute die heelagter, met amper vervelige reëlmaat oor die doellyn deurgepons het. Die kruit in hulle dop was juis die suiwer lewensvreugde – die amateur se liefde – waarmee hulle die spel gespeel het. Ander provinsies se ondersteuners, of hulle spanne teen die mynwerkers gewen of verloor het, het gehou van wat hulle sien. Die Leeus het meeste van hulle se naasgunstelingspan geword.

As die Leeus ’n voertuig van gelapte en uitverkopingsonderdele is, is elke deel van die Haaie duur gekoop en gemasjineer: ’n Volle Springbok-voorry wat die wêreld se beste haker, Bismarck du Plessis, bevat; Springbokke op flank en agsteman; Franse genie op losskakel; gesoute toetsspelers op senter; Springbok-vleuels en op heelagter ’n wunderkind.

Om hierdie professionele masjien te stuit het die Leeus presies twee Springbokke in die beginspan gehad – CJ van der Linde en Wikus van Heerden, beide van hulle as surplus deur hulle vorige provinsies beskou. Van der Linde en Van Heerden en Josh Strauss, die man agter die baard. Daardie baard sou die simbool word van die herrysende Leeus; nie ’n  netjies gekapte baard soos Ross Skeate van die Haaie s’n nie, maar ’n  woeste, welige, wonderlik romantiese raafswart bos van uitbundige harde hare. Maar ’n baard maak nie die man nie en Strauss het opgeskiet as die kavalier van Suid-Afrikaanse provinsiale rugby, ’n  groot, worstelende, aggressiewe, charismatiese grotman van ’n speler en spankaptein.

Met die aanloop tot die wedstryd was dit die algemeen aanvaarde wysheid dat die Leeus ‘n sprokie deur die seisoen geskryf het wat nou brutaal kortgeknip sou word deur die ervare, metaalagtige Haaie. Naspers se Christo Buchner het voldaan uit Johannesburg – nogal – laat weet dat die Durbaniete se vaste vyf die lewe uit die Transvalers sou wurg. Dit was Dawid teen Goliat, jy weet. Tog ’n  snaakse beeld, dié, wat so kwistig deur die week gebruik is. Het almal dan vergeet wie dáárdie eindrondte gewen het?

Dawid teen Goliat. ’n Ander wedywering wat so beskryf is, was die boksgeveg, amper vyftig jaar gelede, tussen die brutale swaargewigkampioen, Sonny Liston, teen die vermaaklike nuweling Cassius Clay. Liston, die Goliat, sou onmoontlik kon ondergaan teen dié Dawid. Ná die geveg het ’n  boksskrywer verwonderd gevra hoe dit is dat niemand voor die geveg agtergekom het dat dié besondere Dawid groter, langer, swaarder en sterker as sy Goliat was nie. Liston het ’n  afgedankste loesing van die lenige jong Clay ontvang.

En dis hoe dit gister op Ellispark was. Die jong, onderaangeskrewe Leeus was vinniger, vaardiger, harder, sterker en dodeliker as die Haaie. Die Durbaniete het ontbrand maar die Leeus het geknal. Die Natallers het hulle rugby bedryf soos vakmanne, asof elke beweging, lak en vaste faset ’n  bedryfstoets was. Maar die Leeus was voetbalspelers, spelers!, in die volle sin van die woord. Hulle het gespeel terwyl die Haaie gestoom, gemor, geknor, gegrom, geploeter het. Elke geleentheid om punte te bank het hulle met die grootste opgewondenheid aangegryp. Elton Jantjies, die klong wat rugby speel asof hy die hele tyd na reggae op ingeboude oorfone luister, het twee strafskoppe met die grootste ongeërgdheid in drietalle omskep. Jaco Taute het Frans Steyn se patentreg oortree en ’n strafskop vanuit sy eie halfgebied oorgelanseer.

Dat die Haaie oorgerus was dat hulle die Leeus se voorspelers uit die spel kon roller was gou duidelik toe hulle geweier het om pale toe te skop en probeer het om vanuit ’n  kortafstandlynstaan oor te maal. ’n  Straatbrak het nog nooit ’n  sopbeen met groter venyn verdedig as waarmee die Leeus hulle lywe tussen die Natallers en die doellyn ingewerp het nie. Die Haaie het vreugdeloos en vrugteloos gesoek na ’n  swakplek wat hulle nooit kon vind nie. Die kwesbaarheid wat wel blootgelê is, was tussen die Natalse verouderde senters toe Doppies la Grange daardeur gekloof en vir Michael Killian afgevuur het vir die Leeus se eerste drie. Skielik was die jong Leeus dertien punte voor, en toe was dit die einde van die eerste helfte.

Voorsprong ofte nie, die verwagting was dat die Leeu-sprokie se laaste reëls geskryf is, dat die Natallers ’n hoër versnelling sou selekteer, dat die gewig van die geleentheid die Leeus sou aftam, dat hulle vingers en hande gladgesweet en onseker sou word. En toe Willem Alberts ’n  onverdiende en onregmatige drie vir die Haaie druk, het die ou gryses geknik. Vir ’n paar minute daarna was die Leeus onseker op die verdediging en huiwerig op die aanval. Die Haaie het met groter sekerheid begin beweeg en daar was bloed in die water. Maar sommige sprokies is bestem om uitgespeel te word. Net so skielik, toe slaan die wedstryd weer reg agteroor toe die Leeus die Haai-verdediging verskeur en Patrick Cilliers die strooptog met ’n  drie afgesluit het. Kort daarna was dit Michael Killian wat die verdediging losgetorring het waarna hy ’n wye boog gehardloop het om vir Jaco Taute te vind vir ’n drie wat die Haaie se vinne finaal gepluk het.

Die sprokie het ’n  legende geword en die legende is nou voetbalgeskiedenis.

In ’n jaar waarin ons die onsmaak van ’n  aangetaste Springbokspan moes sluk, waarin rugby ’n vulgêre ekshibisionistiese bedryf geword het, het hierdie oorwinning van ’n span alledaagse spelers oor ’n versameling ego’s ’n  waardevolle intermezzo geword. Vir ’n klein rukkie het rugby in Suid-Afrika sy onskuld herontdek.

Wie gaan volgende jaar se Super Rugby-kompetisie wen? Beslis nie die Leeus nie, dié weet ons almal, net soos ons geweet het hulle kan nie vanjaar se Curriebeker wen nie.

Laas Opdateer op Sondag, 30 Oktober 2011 06:16

Dis Haaie teen WP

E-pos Afdruk PDF

In die jare toe Curriebekerspanne nog met die trein gereis het, en geld bitter skraps was, het ‘n Vrystaatspan bestaande uit net die 15-tal Nuweland toe gereis. Op die trein is lekker gekuier, en een van die voorspelers het sy knie seergemaak. Toe dié speler die Saterdag op Nuweland se stasie afklim, is die been stokstyf. Omdat hy noodgedwonge moes speel, is hy aangesê om na die beste van sy vermoë die laaste vesting saam met die heelagter te verdedig.

Met die broeke wat destyds tot by die knieë gekom het moes die speler wat so met sy stywe been heen en weer oor die veld gepiekel het ‘n groot indruk gemaak het.

Na die wedstryd is die Vrystaatse kaptein naby die Suid-pawiljoen, toe een van die toeskouers vir hom vra: “Waar kry mastah-hulle daai voelbek met die houtbeen?”

Saterdag in die halfeindstryd op Nuweland kon die voelbek met die houtbeen netsowel gespeel het.

Oor twee weke spook die Haaie en die WP in Durban sake om 2010 se Crurriebeker uit.

Met die Blou Bulle se neerlaag van 16 – 12 in Durban teen die Haaie, was kanse vir ‘n eindstryd in Bloemfontein daarmee heen – wat in elk geval geblyk het van akademiese belang te wees toe die Cheetahs vergeet het om op Nuweland op die veld te draf.

Die halfeindstryd in Durban sal waarskynlik meer onthou word vir die byeswerms wat die aanbreek van die wedstryd vertraag het, en toe ook die Kaapse wedstryd laat laat begin het. Die Haaie het sommer met die afskop ‘n voorbeeld van balretensie gestel wat na ‘n rits fases op ‘n drie uitgeloop het.

Later het reën die bal seepglad gemaak, en veral die Bulle het meer met die voet probeer aanval, en so waarskynlik ook hul laaste wenkans verongeluk deur in die doodsnikke die bal vir die jong Lambie wat op heelagter moes uithelp geloods het, en besit afgestaan het.

Nietemin, die reën het ‘n invloed gehad, en die Bulle kon netsowel as die wenners van die veld gestap het, en sou waardige eindstrydmededingers kon wees.

Wat kan van die Cheetahs gesê word?

Die afgelope dekade al eindig die Cheetahs se “taktiese” skopwerk gereeld onder hul eie pale. Heel dikwels het hierdie stroomop-drieë die verskil tussen wen en verloor gemaak, en ‘n mens sou verwag dat die Blikore oor hierdie mamparraskoppe sou begin besin. Maar watwou, toe die sportskrywers eers begin skryf oor meer skoprugby in die uitkloprondtes, en die verwagte tweestryd tussen Generaal de Waal en Louis Strydom, was die skrif vir die Cheetahs reeds aan die muur.

Of meer hardlooprugby vir die Cheetahs veel meer heil sou bring is ook ‘n ope vraag deurdat dit by tye gelyk het of die Vrystaters die heel week aanslane geoefen het.

Die reëls van moderne rugby is egter ontwerp om balretensie en hardlooprugby te bevorder, en dit was selfs daarvóór die Wit Tornado se kenmerk. Maar stelselmatig het die bal in die hand wat die werk moet doen, plek begin maak vir uitdrukkings soos skoppe in die hoeke, en speel in die opponente se halfgebied. En dis uit daai einste halfgebiede waaruit die teenstanders nou al ‘n dekade lank pasellabesit kry en drieë druk. As dit die afdanking van die Naka en Hawies beteken om die siekte uit die Vrystaat te kry, dan moet dit so wees.

Uiteindelik was die WP 31 – 7 baas.

Op vertonings in die halfeindstryd geoordeel moet die WP – wegwedstryd ten spyt – as gunstelinge beskou word. Beide spanne het skynbaar net nie swak skakels nie.

Laas Opdateer op Sondag, 17 Oktober 2010 09:34

Curriebeker: Kushalfeindstryde

E-pos Afdruk PDF

Saterdagoggend 9 Oktober 2010 moes nog net twee vrae beantwoord word: Gaan die Cheetahs Nuweland toe moet reis vir sy halfeindstryd teen die WP, en gaan Bjorn Basson die alleenhouer vir die meeste Curriebekerdrieë in ‘n seisoen word?

Dit was na die Leeus die vorige aand aapstert by die Pumas gekry het en die Johannesburgers se buitekans om nog ‘n halfeindwedsteyd te haal, omtrent soos om bloed uit ‘n klip te wurg, verongeluk het, en die Cheetahs met die Luiperds weggehol en volpunte gekry het.

Voor die WP-Haaiewedstryd het nog net een vraag oorgebly: Halfeindstryd op Nuweland of in die Rosestad? Bjorn het toe reeds twee keer agter sy toekomstige werkgewers se doellyn gaan kuier en die seisoenrekord syne gemaak, sonder die voorreg om nog in ‘n halfeind of eindstryd betrokke te kon wees en sy rekord te rek.

Op Nuweland het die WP Haaibiltong gemaak. Die gevolg is dat Cheetahs die WP op Nuweland moet aandurf om sy kleim vir die eindstryd af te pen. Die Bulle is al span wat geen kans meer staan op ‘n eindstryd op sy tuisveld nie.

In dié stadium lyk dit glad nie onwaarskynlik nie dat die Blou Bulle die eindstryd sal haal nie. Die Pretorianers se Springbokke het nou kans gehad om teen die omgesukkelde Griekwas ‘n voete in die span te vind, en dit sal ‘n goed-geoliede masjien sonder swak plekke wees wat Durban toe opruk. Die Haaie het heelwat dinkwerk om te doen. Die beginkombinasie wat teen die WP ingespan is, het van die Haaie sardientjies gemaak, en eers na Skote Petoors teruggestuur is pawiljoen toe, Lambie na losskakel teruggekeer het en Louis Ludick uit die laaste vesting kon aanval, dat die Haaie na ‘n span gelyk het wat nie Nuweland toe gekom het om aanslane te kom oefen nie. Beide spanne het drie drieë gedruk. Al het Francois Louw sy kompas tuis laat lê wat hom op die regte koers moet hou vir indons by losskrums, en al het Generaal de Waal ‘n paar keer misgekorrel, was die WP se oorheersing so sterk dat die Kapenaars genoeg korrelkans pale toe gekry het om betreklik maklik te wen.

Die Bulle sal dus nie deur ‘n eksperimentele span onthaal word wanneer die twee reuse mekaar in die halfeind die stryd aansê nie. Die Natallers kan nie nog so ‘n getjommel soos die Nuwelandse affêre bekostig as die Natallers nog Curriebekerdrome wil koester nie. Hierdie wedstryd kan baie maklik harder rugby as die uiteindelike eindstryd oplewer.

Al was die Cheetahs in die vorige kragmeting teen die WP baas, wag ‘n baie moeilike taak op die Blikore. Die Cheetahs het vanjaar uiters wisselvallig verdedig – van briljant tot uitermate vrot. Die span se min bonuspunte dui ook op ‘n probleempie met deurdringingsvermoë, grootliks te wyte aan dieselfde wisselvalligheid as met die verdediging. Dit het die Cheetahs voortdurend in die versoeking gestel om die verdediging met “taktiese” skopwerk te deurpriem, maar dié maparraskoppe het meermale pasellabesit aan die opponente se snellers besorg en agter die Blikore se eie doellyn geëindig. Dat die span – die verdoemende statistieke hieroor ten spyt - steeds volhou en byvoorbeeld Tewis de Bruyn juis weens “skopvermoë” bo die skerper Tertius Carse in te span, gee min aanduidings dat die Cheetahs hieroor gaan herbesin.

Tog, die Cheetahs het die bal effens meer begin dra, wat tot ‘n paar drieë deur die vleuels gelei het, Meyer Bosman weer laat ontpop het, en Coenie Oosthuizen en selfs WP Nel drieëvrate gemaak het, terwyl Ashley Johnson week na week die oog vang. Teen die WP, met manne soos Gio Aplon agterlangs, kan mamparraskoppe erg berou word.

Die WP kan goed voel oor hoe sy Springbokke ingeskakel het, en selfs ‘n paar buite-posisionele skuiwe genoodsaak het. Boonop, as plaasvervangings aangebring word, word die span eerder versterk as verswak. As Francois Louw net sy kompas gaan opspoor of ‘n GPS persent kry, gaan die WP moeilik uit ‘n eindstryd gehou word.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL