praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Sport Krieket Krieket: As die stert die hond swaai

Krieket: As die stert die hond swaai

E-pos Afdruk PDF
"Die stert swaai nou al te lank die hond."

 

So stel 'n sportskrywer die situasie waar die Proteas se senior spelers skynbaar so magtig geword het dat die afrigters deurentyd op dun ys en die keurkomitee die trekpas gekry het.

Die boodskap is skynbaar: Vat aan Graeme Smith, Jaques Kalis en sy boesemvriend Mark Boucher, en jy is in die sop.

Dié situasie skep veral in Pro-20-wedstryde probleme wanneer een of meer van die toporde-spelers nie die lopiekraan oopgedraai kry nie, en uiteindelik van Albie Morkel verwag word om die onmoontlike reg te kry.

Al hoe meer vrae word oor Smith se kapteinskap gevra.

Toegegee, Suid-Afrika se krieket- en rugby-ondersteuners is enkeldimensioneel. Solank hul spanne wen, is alles klop-disselboom. Verloor hul span egter, is die lang messe uit en word vir lykskouing ingespan.

Wanneer 'n patroon egter ontwikkel, kan leunstoelkritiek egter nie onder die mat ingevee word nie.

Die probleem kan basies soos volg opgesom word: Te veel sektorale belange moet gedien word. Daar moet ten eerste nie aan die senior speler-Sanhedrin getorring word nie, kwotas moet in die oog gehou word, gekontrakteerde spelers moet speelkans kry en oplaas, in krieket is dit noodsaaklik dat jong vormspelers die aansporing van blootstelling kry. Vir laasgenoemde is daar, veral in wêreldbekertoernooie, nie nog plek ook nie, met die gevolg dat te veel spelers wat die kluts kwyt is, weens die ander belange die wa deur die drif moet trek.

Vandat AB de Villiers die handskoene teen die Wes-Indiërs by Mark Boucher oorgeneem het, wen die Proteas weer. AB is ongetwyfeld 'n beter paaltjiewagter as Boucher, en die keurders kan as AB agter die paaltjies stelling inneem, nog 'n spesialiskolwer inspan, Boucher se geskiedenis met die kolf ten spyt.

Spelers wat groter as die spel geword het, het die Bafana Bafana lank in die woestyn laat beland. Eers toe die prima donnas van die koring geskei is, kon aan die span se vertoningslys gewerk word. Krieket, so lyk dit, is nou by dieselfde kruispad.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: