Twee gelukkige viere van agtereenvolgende balle deur Hashim Amla in die Proteas se eerste beurt in die laaste kriekettoets teen Engeland laat die vraag ontstaan: “Wat het van die byglip geword?”
Die met die eerste vier sou die bal moontlik kort van die byglip geland het, maar dié glip sou darem vier lopies kon gekeer het. Die volgende bal sou reguit in sy keelgat afgetrek het.
Die antwoord is moontlik so eenvoudig dat byglip nog altyd ‘n effens ongewone veldwerkposisie was, maar die opkoms van eendagkrieket en die feit dat ‘n bal wat by die bypen verbyskiet amper outomaties ‘n foutbal is, het dalk ook iets hiermee te make. Die boulers neig dus om eerder die wegkant op te soek, waar daar soms tot vier glippe wag as die bal geneig is om te swaai.
Maar is die byglip in meerdagkrieket dan werklik so oorbodig?
Skeidsregters wat streng is op boulers wat op die kolfoppervlak deurhardloop, dra ook by daartoe dat dit moeilik is om die tipiese bal te bou wat ‘n byglip in die prentjie te bring. Dit is die regterhandse swaaibouler wat om die paaltjies boul. Sy “gewone” bal sal voor die regterhandse kolwer verbyswaai en as dit die kolf se buiterand raak, na een van die ring glippe in die kordon vlieg. Hierdie scenario het hom dikwels met Gary Kirsten afgespeel, maar in ‘n omgekeerde situasie omdat Kirsten ‘n linkskolwer was. Maar net soos die kolwer hierdie “trajek” begin lees het, kom die bouler met ‘n effens voller bal, met meer spoed, wat van net buite die bypen inswaai. Voor die kolwer sy visier verstel kan kry, is hy om sy bene geboul en trek die bypen skewebek. Of, as hy wel sy kolf in die pad kan kry, glimlag die byglip breed. (Tensy die bal tussen sy tande vassit).
Daar is natuurlik ander balle wat byglip toe kan trek, soos die twee balle van Amla wat beskryf is. Amla het beide kere reg voor sy middelpen verdedigend vorentoe gespeel, en die bal wat ingeswaai het, aan die binnekant van sy kolf bygekry.
‘n Byglip, as veldwerker, kan ook die amper onvermydelike viere keer wat deesdae gereeld gesien word, wanneer die kolwer sy kolf aan die wegkant gaan uithang, en binnerand bykry, en die bal dan die paaltjies naelskraap mis, en die paaltjiewagter flous. Dit is egter onwaarskynlik dat so ‘n bal vir ‘n vangskoot tot by die byglip sal dra.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





