Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Ernie Els het weggeskram van sy beskrywing van Tiger Woods as "selfsugtig", maar steeds die uitwerking wat die Woods-skandale op die sport én sy spelers het, beklemtoon.
Els het op die vooraand van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi gesê sy uitlatings verlede maand was meer gemik op Woods se tydsberekening van sy openbare verskoning, wat op 'n Vrydag tydens 'n toernooi plaasgevind het, as na die kampioen self.
“Ek het net gevoel Vrydag was nie die regte dag nie,” het Els gesê. “Ons moes aan ‘n toernooi deelneem en miskien was dit ék wat selfsugtig was omdat ek eerder wou gholf speel in plaas van oor Tiger se privaat lewe gesels," het hy gesê.
“Dit is moeilik vir ons om oor Tiger te praat in so tipe situasie,” het Els gesê.
“Ek wil graag vra dat joernaliste ophou om ons oor Tiger uit te vra. Dis sy lewe en ons het niks verder daaroor te sê nie, vra ons liewer uit oor voëltjies en baansyfers."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





