Die IAAF het gister gesê hulle werk nog agter die skerms met Caster Semenya en die Suid-Afrikaanse regering om aangeleenthede rakende die agtienjarige atleet se geslag en toekoms op te los.
Die beherende atletiekliggaam sê hulle kan nog nie die Suid-Afrikaanse regerings se aansprake dat ‘n ooreenkoms wat Semenya sal toelaat om die wêreldtitel en die prysgeld wat sy in Augustus gewen het, te hou en dat haar geslagtoetsresultate geheim gehou sal word, bevestig nie.
‘n Segsman vir die Internasionale Assosiasie van Atletiekfederasies, Nick Davies, sê dat die partye "amper daar" is met die bereiking van komplekse onderhandelinge.
"Dit is voortydig om die inhoud van wat die Suid-Afrikaanse regering gesê het, te bespreek totdat ons sê ja, ons stem honderd persent saam daarmee," het Davies gesê. "Dit word versigtig polities op een vlak hanteer, maar ook op medies-wetenskaplike gebied.
"Uiteraard werk ons voluit agter die skerms om dit op te los. As ons gelukkig is, kom ons gou daarby uit."
Die omstandighede waaronder Semenya toegelaat sal word om haar loopbaan voort te sit, bly onseker.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





