Die ANC het gister gesê die manier waarop Atletiek Suid-Afrika die gouemedaljewenner Caster Semenya hanteer het, is afstootlik.
"Ons moet opreg wees as dit daarby kom om amptenare af te keur wat die aangeleentheid hanteer het," het die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, tydens 'n persvoorligtingsessie in Johannesburg gesê.
"Die ANC se NUK het in die Caster Semenya-kwessie ingekyk en gevoel dat dit afstootlik is hoe dit gehanteer is... ASA het nie die saak met die uiterste deursigtigheid en eerlikheid hanteer nie."
Die kritiek het gevolg nadat ASA se hoof, Leonard Chuene, onder druk erken het dat hy oor die aangeleentheid gelieg het. Hy het klaarblyklik geweet dat ASA geslagstoetse op Semenya voor haar vertrek na die wêreldkampioenskapbyeenkoms uitgevoer het. Hy het aanvanklik ontken dat dit gebeur het.
Semenya is in omstredenheid gedompel deur vrae wat oor haar vroulikheid gevra is nadat sy die 800 meter op die byeenkoms gewen het.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





