praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Waarom die Belharbelydenis onaanvaarbaar is!

Waarom die Belharbelydenis onaanvaarbaar is!

E-pos Afdruk PDF
Die Belharbelydenis (BB) is in 1982 deur 'n aantal kerklikes verbonde aan die (destydse) NG Sendingkerk opgestel. By die totstandkoming van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suidelike Afrika (VGKSA) is die BB as belydenisskrif aanvaar. Nou blyk dit dat twee Kaapse NGK Sinodes reeds die BB aanvaar het en dat daar verdere druk op die NGK in sy geheel is om BB as belydenisskrif te aanvaar.

Merkwaardig genoeg is die Godsidee in die BB 'n gedifferensieerde van Vader, Seun en Heilige Gees. Die drie-eenheid is 'n dogmatiese konstruksie wat die grense van filosofiese besinning oorskry. God kan nooit die voorwerp van besinning word nie, omdat hy Der Ganz Andere is.

Omdat die BB met die mens handel, is 'n wysgerige antropologie 'n noodwendigheid. Die antropologie in die BB is 'n dualisme tussen siel en liggaam. Die heerskappy word aan siel toegeken. Hiervolgens is m = s + l. Die gelykmakende sielsbeskouing is gebaseer op die Platonisme en is vreemd aan die Christendom. In Christelike denke is m + sl en is die volle mens in sy gene vervat. Na die gene van die mens is die mens uniek en ongelyk aan ander en lê die gene potensiaal vas en lê dit ook grense op. Omdat die mens in gemeenskapsverband lewe is daar ook genetiese verskille tussen gemeenskappe.

Daar is in die BB 'n spanning/dualisme tussen eenheid en verskeidenheid wat nie bevredigend opgelos word nie. Die verskeidenheid los op in die eenheid. So word die eenheid 'n monisme.

Vir die BB konstitueer verskeidenheid ongelykheid, met die implisiete implikasie dat enige politieke sisteem wat nie 'n liberaal-humanistiese demokrasie as ideaal het nie, verdag gemaak word.

Eenheid is vir die BB die voorwaarde vir die sigbare demonstrasie van geloof. Eenheid konstitueer gelykheid. Die voorwaarde vir versoening is eenheid.

Die BB skryf van "die kerk" so asof dit nie gedifferensieerd bestaan nie. Hierdie konstruksie is vreemd aan ons ervaring. Hoe verklaar die BB bv die differensiasie tussen:

Die Grieks-Ortodokse en Russies Ortodokse kerke
Die Rooms-Katolieke Kerk
Die Anglikaanse Kerk
Die onoorsienbare verskeidenheid van Lutherse en Calvinistiese Kerke.

Is bg. kerke 'n aanduiding van sondige kerklike verskeurdheid en wie is nou reg en wie waarom verkeerd?

In wese is kerke histories gevormde instellinge met 'n datum van ontstaan en ook van vergaan. Daar is 'n noue verband tussen kerkwees en die behoeftes van 'n kerkgemeenskap wat afgestem is op taal, kultuur en godsdiens-behoeftes.

Die grondfout van die BB is dat kerk gelykgestel word aan koninkryk/basileia. Wanneer ons bid "Laat U koninkryk kom" dan bedoel Jesus allermins dat die lewe verkerklik moet word. Dit beteken wel dat elke aspek van die omvattende lewe van die mens volgens goddelike beginsels geformeer sal word. Die koninkryksidee korrespondeer breedweg met die vraag "hoe die menslike samelewing volgens godgegewe norme geformeer moet word". Ook hier speel differensiasie 'n belangrike rol in beskaafde gemeenskappe. Beskaafde gemeenskappe ontwikkel binne samelewings (wat ook afhang van die religieuse rigting en kulturele inslag daarvan) 'n verskeidenheid van sosiale instellinge (opvoedkundig, polities, taalkundig, godsdiens, ens.). Elke instelling het 'n eie unieke en nie na 'n volgende onherleibare karakter. So is die staat 'n regsverband en die kerk 'n religieuse geloofsverband.

'n Gereformeerde antwoord op die BB is soos volg, onder meer:

'n kerk is 'n aanbiddingstruktuur wat binne ruimte (lokaliteit) en tyd (jaar van ontstaan) na die aanbiddingsbehoeftes van gemeenskappe binne 'n breër Christelike gemeenskap bestaan.
'n Kerk het 'n beperkte rol in 'n Christelike samelewing wat afgestem is op: aanbidding, woordverkondiging, sakramentebediening en tug.
Die BB is 'n reaksionêre dokument wat betrekking het op 'n politieke bedeling van etniese differensiasie en selfbeskikking wat verby is en wat deur 'n nuwe klassesisteem vervang is.
Daar is 'n sigbare afwesigheid van kritiek op die grondslae van die huidige ANC-party-diktatuur/staatskollektivisme met sy tipiese rassistiese neo-werkreserverings-beleid (affirmative action).

Ten slotte moet die vraag gevra word wat 'n kerklike belydenis is? Is dit primêr 'n belydenis in sake God, hoe God ten beste aanbid of gedien moet word?

Met ander woorde: het dit 'n transdedente karakter. Indien wel misluk die BB hierin. Is dit alternatiewelik 'n belydenis wat horisontale verhoudings aanspreek en indien wel, hoe onderskei 'n mens dit van politiek as die wetenskap oor hoe samelewings ten beste regeer moet word? Indien wel is die BB wesenlik polities geïnspireerd.

'n Meer omvattende dokument oor die Belharbelydenis kan aangevra word van clandman@netactive.co.za (082 854 75 16).


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: