Alles dui daarop dat die twee dominante politieke partye – die ANC en DA – wat om dieselfde liberaal-demokratiese pot lensiesop meeding, SA in ‘n dodelike sosiaal-maatskaplike krisis laat beland het.
Die sleutelwoorde is uitkomsgebaseerde plaaslike regering. Uitkomsgebaseerde plaaslike regering beteken vir Wit Eurokaners en vir Swart Afrikane totaal verskillende dinge:
- Wit Eurokane verstaan daaronder: goeie nie-korrupte regering, lae elektrisiteitsrekeninge en belasting, rybare paaie, ens. Kortom: plaaslike owerheidsdienste.
- Swart Afrikane verstaan in die taal van die “freedom charter” daaronder: gratis behuising, gratis onderwys, gratis water, gratis elektrisiteit, werk, ens. Dus die ideale van ‘n sosialistiese heilstaat.
Die een wat die meeste finansiële voordele belowe en gee, sal op die lang termyn die meeste stemme kry.
Die DA ry die diensteperd bloots. Om al die sosiaal-maatskaplike probleme onder Swart Afrikane te kan aanspreek, sal die DA die ANC moet kan uitpresteer deur miljarde rand in Swart Afrikane se woonbuurtes te investeer. Waar gaan hierdie geld vandaan kom?
Eenvoudig: die salaristrekkende werkende middelklas sal meer en meer deur beide die ANC en DA belas en so verarm word ten einde polities te kan oorleef.
Die implikasie van ‘n uitsuigpolitiek van die belasbare salaristrekkende bevolking is verarming. Dit beteken dat die etniese politiek van dr. H. F. Verwoerd nou verruil word vir ‘n klassesisteem. Aan die een kant ‘n groeiende hoeveelheid Swart en Wit meer en meer verarmde bevolking, teenoor ‘n klein materialistiese en kapitalistiese Wit en Swart minderheid. Daarmee is die grondslae geskep van die uiteindelike rewolusie van die arm proletariaat teenoor die eksklusiewe ryk bourgeoisie.
Polokwane voorspel die uitkoms: die ANC-hordes wat met taxi’s daar aangekom het, het die oorhand verkry oor die ANC-elite wat met hulle Duitse limousines daar aangekom het.
Is daar ‘n derde keuse? Ja, daar is! Al die partye wat bg. scenario verwerp, sal as saak van absolute dringendheid byeen moet kom om hande te vat in die realisering van ‘n sterk gedesentraliseerde federale regstaat. Alliansiepolitiek kan die ANC-DA troonbestyging ongedaan maak.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





