praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Twee mossies vir 'n stuiwer

Twee mossies vir 'n stuiwer

E-pos Afdruk PDF
By die eerste kennismaking van minister Pik Botha met Wynand du Toit, na sy vrylating, het die Minister aan Du Toit 'n pennie/stuiwer gegee. Dit is na analogie van die Bybelse beeld van twee mossies vir 'n stuiwer. Du Toit is toe vrygelaat – ja uitgeruil – vir die Nederlander, Klaas de Jonge. My vermoede is dat die twee Mossies Du Toit en De Jonge is.

Du Toit was tot sy vrylating 835 dae in eensame aanhouding in Angola in gevangenis en De Jonge vasgekeer in die Nederlandse Ambassade, toe in die middestad van Pretoria.

Du Toit was 'n recce in Angola en De Jonge tot sy gevangneming deur die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste 'n ANC-koerier.

Daar is egter 'n storie agter die storie van beide se vrylating. Dit was 'n Vrydag in die Suid-Afrikaanse Ambassade in Den Haag/Nederland. Op my dagboek, so kwartvoor-twaalf het die naam van mev. Zoutendijk geskryf gestaan. Sy was 'n gesiene en belangrike dame in die Liberale Party van Nederland. Haar man was die leier in die Eerste Kamer.

Ek het haar ontvang en sit gemaak. Koffie is aangebied. Sy het 'n versoek aan my, het sy gesê. Haar beste vriendin het 'n dogter met die naam Helena Pastoors. Pastoors, het sy gesels, het beide 'n Belgiese en Nederlandse paspoort. Sy reis van tyd tot tyd na Suid-Afrika. Sy, wat mev. Zoutendijk aanbetref, vermoed vuilspel. Pastoors is in by die Nederlandse anti-apartheidskliek. Haar versoek is dat ek 'n visum aan haar weier. Sy wil enige konflik met die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste uitsluit.

Ek het notas geneem. Selfs die paspoortnommers afgeskryf. In 'n gees van "ek sal kyk wat ek kan doen" het ek haar by haar motor afgesien. Ek het terug gestap kantoor toe. Op my lessenaar het die papier met die gegewens gelê. Ek was honger en wou iewers in die stad gaan eet. Ek het die papier netjies gevat, opgefrommel en in die asblik gegooi.

Zoutendijk se storie het soos wolhaarstorie geklink. Ek het geëet en van die storie vergeet.

Terug in my kantoor het ek na die papier-afvalbak, wat gereeld gesnipper word, gekyk ... om een of ander rede die vervrommelde papier uitgehaal en netjies oopgestryk.

Ek het 'n nota aan my hoofkantoor oor die gesprek geskryf en 'n profiel oor Helena Pastoors aangevra. Insgelyks het ek aan die Suid-Afrikaanse konsulêre afdelings in Brussels, met 'n afskrif aan ons eie gestuur, met die versoek: "As Helena Pastoors aansoek doen om 'n visum, lig my dadelik met reistye in en reik die visum onverpoos uit."

'n Tyd en nog 'n tyd het verby gegaan. Toe skielik kry ek 'n foonoproep van die konsulêre afdeling. Helena Pastoors is daar. My reaksie was: reik die visum uit.

Met die reisbesonderhede in my besit het ek my hoofkantoor dringend versoek om die veiligheidsdienste in te lig. Pastoors het vertrek. Op Jan Smuts Lughawe aangekom, is sy gevolg. Pastoors het die Veiligheidsdienste na Klaas de Jonge gelei. Een aand in daardie tyd is Pastoors en De Jonge gevolg na 'n wapenopslagplek iewers in bosse waar die Rooi Baron, 'n "diplomaat" (of was hy van die Nederlandse veiligheidsdienste?), met 'n Peugeot 504 Sedan met diplomatieke nommerplate op hulle gewag het. Wapens is uit die agterste sitplek van die motor in 'n grondgat oorgelaai en met grond toegegooi. Alles was op video vasgelê. Natuurlik deur die Suid-Afrikaanse owerhede! Kort hierna is volledige foto's van die gebeure in 'n Nederlandse dagblad gepubliseer.

Pastoors en De Jonge is gevange geneem. Nog later het De Jonge die polisie na 'n gebou in Pretoria geneem. Dit was die Nederlandse Ambassade. Ons veiligheidsmanne het nie die implikasie besef nie. Daar aangekom het De Jonge die voorportaal van die Ambassade ingespring. Die polisie het hom wederregtelik uit Nederlandse grondgebied verwyder. Na die wisseling van diplomatieke notas, oor en weer, moes Suid-Afrika De Jonge terugneem na die Nederlandse Ambassade.

Op 'n dag kry ek 'n telefoonoproep van minister Botha. Op daardie stadium was ek die Saakgelastigde van Suid-Afrika in Nederland. Ek moes 'n uitruiltransanksie tussen De Jonge en Du Toit help onderhandel. Ek moes persoonlik aan die Minister oor vordering rapporteer. Ek vermoed dat diplomatieke notas van Suid-Afrika ook deur die diplomatieke kanale in Pretoria na die Nederlanders gestuur sou gewees het.

My kontak by die Nederlandse Ministerie van Buitelandse Sake was 'n Ambassadeur in Spesiale Dienst. Hy sou die transaksie inisieer en het Angola toe gevlieg om die knoop deur te haak.

Intussen het die nuwe Ambassadeur, die politieke aanstelling van die eerste bruin man, dr. Frank Quint, by ons ambassade diens aanvaar. Dit was sy prerogatief, hoe jammer dit ookal is, om die saak uit my hande te neem en verder te hanteer.

Dit is die storie van Klaas de Jonge en van Wynand Du Toit. Twee mossies vir 'n stuiwer ... wat dit ook al mag beteken?


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: