Beide die WCRC en besluit 54 laat na om te verduidelik welke politieke model Godwelgevalle is. Die apartheidsdebat is in ieder geval deur die nuwe grondwet (1996) agterhaal. 'n Reaksionêre twis oor apartheid is nie in die belang van die koninkryk nie. Dit is belangriker om vas te stel of die NHK, in die lig van die reeds aanvaarde Godsdiensakte, kan saamleef met die bepalinge van die grondwet van SA, 1969.
God is 'n God van geregtigheid wat nooit van gelowiges vra om 'n bepaalde politieke model as uitgangspunt te neem nie. Dit neem nie weg nie dat die geregtigheidsvraag die sinkern van staatspolitiek is. Geregtigheid setel nie in die struktuur van 'n politieke model nie, maar in die wyse waarop die persoon/persone in die owerheidsampte met gesag omgaan.
Besluit 54 laat na om aan te toon dat die huidige ANC-owerheid nie in die algemene belang regeer nie, maar in die parsiële belang van sy swart kiesers [vgl. die ANC se rassistiese interpretasie van artikel 9(2) van die grondwet in sake wetgewende en ander maatreëls vir die beskerming van agtergeblewendes].
By ontleding van besluit 54 dit blyk dat die skrywers daarvan die liberalisme as ordeningsbeginsel en die liberaal-demokratiese staatsmodel normatief vir die NHK stel. Ook word die oop-vir-almal liberale kerkidee as uitgangspunt geneem.
Die kerk/ecclesia is fundamenteel 'n aanbiddingsorgaan van gelowiges met 'n bepaalde visie op God en die Christelike geloof. Die liberale kerkidee roep 'n kollektivistiese kerkgedrag in aansyn .
Die SkepperGod het midde die eenheid 'n radikale verskeidenheid in die skepping ingebou. Elke skeppingdaad van God verraai 'n eiesoortigheid. In teenstelling hiermee oorbeklemtoon besluit 54 die eenheid ten koste van die verskeidenheid.
Ook die onderliggende antropologie tot besluit 54 is 'n gevaarlike sosiaal-ekonomiese determinisme, wat gebaseer is op die Grieks-dualistiese mensbeskouing (m=s+l). Daar en teen is die konkrete mens net mens in verhoudingsverbande. Die Bybelse antropologie beklemtoon die eenheidsmens (m=sl). Die eenheidsmens leef in gemeenskapsverband en verwerf saam met gemeenskapsgenote 'n gemeenskaplike genepoel.
Die NHK sal 'n duur prys betaal deur verhoudinge met die WCRC hoër te stel as die groeiende uitsigloosheid/nihilisme van die meerderheid lede van die NHK. Die volledige teks in sake hierdie berig kan elektronies aangevra word van clandman@netactive.co.za
| < Vorige | Volgende > |
|---|





