praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Die Terug-na-God-beweging in die teologie

Die Terug-na-God-beweging in die teologie

E-pos Afdruk PDF
Die tema "Terug-na-God" dui op 'n beduidende "nuwe" teologiese rigting van aktiewe skrywers wat die Hellenisering van die Christendom teenwerk en terug dwing na die Judaïstiese grondslae daarvan. Om substansie aan hierdie teologie te gee, verlê die klem van Paulus na Jakobus.

• Jakobus is die broer van Jesus en na die dood van Jesus die hoof van die Messiaanse Beweging. Jakobus word getipeer as 'n Nasarener en leiersfiguur van die Esseners van Qumran.
• Paulus, daar en teen, word verbind aan die Herodiane. Hierdie verbintenis verduidelik volgens Robert Eisenman Paulus se verdwynings en verskynings, sy merkwaardige ontsnappings, die magsposisie en aansien in Jerusalem, sy Romeinse burgerskap en sy aanvanklike verhoudinge met konings en goewerneurs (i.e. Institute for Jewish-Christian Origins, Californai State University at Long Island, JHC 3/1, Spring, 12966, 110-122).
In kort: binne die Qumran-literatuur word Jakobus gesien as die regverdige en Paulus as die bedrieër.
Hierdie nuwe teologiese ontwikkeling verteenwoordig 'n breuk met die Roomse Ortodokse teologie en hersien die Christologie, as leer aangaande Jesus, ingrypend. Die breuk manifesteer ook in die Roomse Kerk.
Die befaamde prof. Edward Schillebeeckx (1982:5) skryf in sy "Jezus – het verhaal van een levende" van 'n breuk tussen (wetenskaplike) teologie en die geloof van gewone mense (H. Nelissen B.V.: Bloemendaal).
Wat hy klaarblyklik bedoel is dat die teologie as wetenskap voortdurend alle reeds verworwe kennis verifieer aan die hand van nuwe insigte, dokumente en feite.
Die ortodokse skool van denke bly natuurlik hardnekkig bestaan. Laasgenoemde skool van denke hou hom/haar met die teologie besig vanuit die voorwetenskaplike raamwerk van belydenisskrifte wat nog nooit hersien is nie en van sekere dogmatiese voorwetenskaplike veronderstellinge uitgaan.
Die teologie is ook dinamies en lei tot nuwe interpretasies. Skrifvergelykende eksegese gaan dus dogmavorming vooraf. Anders gesê: vernuwende dogmahersiening volg op diepgaande skrifvergelykende eksegese. Eers wetenskap en dan dogma.
Die religieuse, sosiale en politieke konteks van die tyd waarin die verhaal van Jesus afspeel is ewe eens belangrik. Dit sluit in:
• Profesie as faktor
• Die Romeinse onderdrukking van Jode en besetting van Palestina
• Die rol van religieus-politieke groeperinge (soos die reaksionêre Silote, onder meer)
Die profesieë is dikwels baie jare na die afsterwe van die profete op skrif gestel. 'n Terugskouende benadering is dus vir die latere skrywers voor die handliggend. Die skrywers kyk oor hulle skouers na wat reeds gebeur het.
Baigent, et. al (1991:15) skryf tereg dat die optredes van Johannes die Doper, van Jesus, Jakobus en van Paulus teen die agtergrond van breër gebeurtenisse, meer persoonlikhede, groepe, instellinge en bewegings beoordeel moet word.
Die historiese teologiese skool, van mense soos John Dominic Crossan, in sy "The Historical Jesus", vra na die werklike (historiese) Jesus binne die konteks van sy tyd. Die historiese skool staan teenoor die mitiese (pre-moderne) benadering. Die kerklike Jesus is die mitologiese Jesus. Wetenskap staan dikwels haaks op mitologie.
'n Belangrike gebeurtenis op die kerklike kalender is die openbaarmaking van die Dooiesee-rolle, wat nuwe perspektiewe open. Michael Baigent (et al)(1991) skryf in "The Dead Sea Scrolls Deception" dat toegang tot die Rolle aanvanklik vir wetenskaplikes, anders as 'n uitverkore groepie van die skrifgeleerdes, weerhou is, totdat 'n hofbevel die dokumente meer geredelik vir ander toeganklik gemaak het (Cox & Wyman Ltd). Die Vatikaangroep het net dokumente vrygestel as en indien sodanige dokumente in lyn met die amptelike standpunt van die Roomse Kerk is. Hierdie onderdrukking van feite word deur Baigent as die grootste godsdiensskandaal van die eeu bestempel.
Peter Lemesurier (1981) tipeer die optredes van Johannes die Doper, van Jesus en Jakobus as selfvervullende profesie. Hulle is geprogrammeer om volgens vaste strategieë en doelwitte op te tree, ten einde populistiese steun te kan verkry. Die vraag is: watter religieus-politieke magsgroep het die Messiaanse bevrydingsteologie bedryf?
'n Aantal religieus-politieke groeperinge met verskillende benaderings het naasmekaar in Palestina in die tyd van Johannes, Jesus en Jakobus bestaan.
• Die Fariseërs het die wet noulettend nageleef en ook 'n gematigde houding teenoor die onderdrukkers openbaar.
• Die Sadduseërs was die aristokratiese priesterkliek, wat 'n groter openheid vir Grieks-Hellenistiese beïnvloeding gehad het.
• Die Essenaars het in die jaar 150 vC, met die aanvang van die astrologiese tydperk van die Vis, tot stand gekom.
Die Essenaars en die Jesusgroep het hulleself as "vissers van mense" beskou. Onderdompeling was 'n reinigingseremonie. Die oorhoofse doelwitte van die Essenaars was die herinstelling van die
• Levitiese priesterskap en
• Dawidiese koningskap
Die Nasarener, Johannes die Doper, uit die bloedlyn van Aaron, het in die rol van 'n gesalfde hoëpriester gepas (Matt.11:13,14). Hy was die wegbereider in die woestyn vir die koms van Jesus, die gesalfde religieus-politieke nasaat van Dawid.
Die beskeie geboorte van Jesus word deur Lemesurier gewyt aan die Esseense eenvoud in lewe. Beide Jesus en Johannes moes die profesieë naleef en waar maak. Jesus se oplossing van geskille (Matt. 18:15-17) was tipies van die Essenaars. Die bergpredikasie kom ooreen met geskrifte van Qumran. Die doopseremonie waaraan Jesus hom onderwerp het was 'n reinigingsrite van die Essenaars.
Volgens Lemesurier, en James Tabor (2006) in "The Jesus Dynasty" was die dood van Johannes, die kruisiging van Jesus en die steniging van Jakobus (die broer van Jesus) groot terugslae ter uitvoering vir en van die messiaanse verwagting.
In die fase na die kruisdood van Jesus het Jakobus, die broer van Jesus, die hoof van die Messiaanse Jerusalemgroep geword. Hierdie groep was nie Griekse Christene nie, maar Joodse Judaïste. Na die steniging van Jakobus het sy nog jonger broer Simon, die leisels oorgeneem. Dit alles dui op koninklike erfopvolging. Vandaar Tabor se "Jesus Dynasty".
Die Romeinse beleg van Jerusalem (70 nC) en massa selfdoding op Massada (73vC) het tot gevolg gehad dat die Essenaars hulle kosbare dokumente in kleipotte begrawe het, voordat die messiaanse beweging na Irak gevlug het.
Bg. omstandighede het die deur vir Paulus oopgemaak om as selfaangestelde sg. dertiende dissipel by die teologiese agterdeur in te glip. Daarmee is die apostoliese eis ook verbreek dat daar net twaalf dissipels kon wees en dat 'n persoon om dissipel te kon wees, Jesus persoonlik moes geken het.
Lemesurier asook Tabor en John Painter (1999), laasgenoemde in "Just James – the brother of Jesus in history and tradition" skets Paulus in 'n besondere swak lig (T&T Clark: Edinburgh). Paulus sou die aardse koninkryksidee van die Essenaars 'n transendente/hemelse karakter gee. Jesus was 'n hemelse koning. Paulus se godsdiens het sinkretisties geword, omdat hy die reinigingsrites verontagsaam het en die Mosaïese wette gerelativeer het. Sy dualistiese mensbeskouing was Platonisties en het hy die bo-redelike siel teenoor verganklike liggaam gestel. Die gees of siel is belangrik en die liggaam onbelangrik.
Charles Freeman (2009) in sy "A New History of Early Christianity" skryf dat in die jaar 325 nC het die Sinode van Nicea, onder die voorsitterskap van die heidense Romeinse Keiser Konstantyn vir Jesus tot tweede god van die Triniteitsleer verhef. In die stryd van Arius en Athanasius het eers die een en dan die ander 'n godsdienstige magsposisie ingeneem, maar uiteindelik was dit die Romeinse Keiser wat tussen twee teoloë moes kies. Sy keuse was Athanasius.
Binne die Nederlandse konteks het prof. H.M. Kuitert met 'n opspraakwekkende boek met die titel "Jezus – nalatenschap van het CHRISTENDOM" gekom (Ten Have:Baar). Kuitert was vir 24 jaar hoogleraar in die teologie aan die Vrije Universiteit. Kuitert toon aan dat die Christologie en dogmatiek in die moderne tyd 'n greepverlies ondergaan. Hy verklaar dat Jesus nie god en mens was nie (die tweenatureleer). Hy verbind Jesus aan 'n drievoudige amp: van priester, profeet en koning. Hy veroordeel die mitologiese kerklike nalatenskap in sake Jesus. Kuitert kom tot die ongemaklike gevolgtrekking dat:
• Die verering van Jesus terug geneem moet word na die verering van Jahweh.
• Jesus nie God is nie en dat moeder Maria nie die moeder van God is nie.
• Jesus 'n bystelling tot God is, want God was in Jesus maar Jesus nie in God nie.
• Jesus naas God staan en nie op die troon van God sit nie.
• Tot God na die voorbeeld van Jesus gebid moet word en nie tot Jesus nie.

Tabor twyfel of die sentrale belydenis dat net YHVH God is, met die dogma in sake die drie-eenheid te versoen is. Jesus het die koninkryk van God aangekondig en die profetiese visie van die Messiaanse verlossing van Israel probeer waar maak. In teenstelling hiermee het die latere Christelike kerk Jesus tot hemelse redder geproklameer. Jesus word God die Seun. Insgelyks word, volgens Tabor, die boodskap van die Torah gerelativeer.
Vanuit 'n profetiese persepsie was die messianisme van die Essenaars volgens Lemesurier 'n groteske mislukking:
• Die bevryding van Israel, eers deur Jesus en later deur Dawid ben Kopka (ook uit die nageslag van Dawid), het misluk (Jer. 30:8).
• Die opstanding van Jesus uit die dood en daarna die besetting van die koninklike stoel in Jerusalem het nie plaasgevind nie (Daniel 9:24; en Eseg. 43:2,7).
• Die wederkoms van YHVH is nie bewaarheid nie.
Tabor (2010) skryf op voetspoor van die terug-na-God-beweging 'n boek getitel "Restoring Abrahamic Faith". Die Hebreeuse teks vermeld EEN GOD naas wie daar niemand anders is nie (Jer. 10:10). Ons word opgeroep om vas te hou aan die Shema. Dit is die Joodse konfessie. "Hoor O Israel! YHVH is ons God, YHVH is Een! Volgens Jes. 43:10-11 is YHVH ons redder,en niemand anders nie. Jesus self vermaan dat net God goed is (Luk. 18:18-19; Mark 10:17-18; Matt. 19:17). Paulus getuig voor die Keiser dat hy YHVH na die voorbeeld van Jesus aanbid.
Dit wil dus voorkom asof die God-is-dood-teologie in wese beteken dat, binne die konteks van die dogmatiese triniteitsleer, Jesus in kerklike prediking die primaat verwerf het en dat die verering van Jesus direk gelei het tot die uitskakeling van God. Jesus word oordadig vereer. Wat doen ons met God in ons denke en aanbidding?

Slotopmerkinge

Die vraag is wat ek nou van die voorafgaande kan sê. Vir eers dat ek die Triniteitsleer nie verstaan nie.
Hiervolgens is
• Die Vader nie die Seun nie.
• Die Vader is ook nie die Heilige Gees nie.
• Die Heilige Gees is nie die Seun nie.
• Die Seun is nie die Heilige Gees nie.
• Die Seun is ook nie die Vader nie.
Tog is:
• Die Vader God.
• Die Seun God.
• Die Heilige Gees God.

Wat hieruit logies volg is dat God 'n vierde komponent is. Wie is God dan? En wat verstaan ons onder God?
My voorstel is dat in prediking duidelik onderskei moet word tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is gevolglik nie korrek om Vader en Seun as uitruilbegrippe te gebruik nie. Wanneer die King-James-vertaling met die begrip Lord die Vader bedoel word LORD in hoofletters gedruk. Die Afrikaanse Nuwe 1983-Vertaling nie. Gevolglik blyk dit dat selfs die vertaling van die Bybel dogmaties geskied.

Geraadpleegde Bronne

Baigent, M &
Richard Leigh 2001. The Dead Sea Scrols Deception. The explosive contents of the Dead Sea Scrolls and how the Church conspired to suppress them. Arrow Books. 380p.

2003. The Holy Blood and the Holy Grail – The messianic legacy. Arrow Books.

Crossan, JD 1992. The Historical Jesus – the life of a Mediterranean Jewish Peasant. HarperSanFrancisco. 503p.

Freeman, C. 2009. A New History of Early Christianity. Yale University Press: New Haven. 377p.

Kuitert, HM 1998. Jezus – nalatenschap van het Christendom. Ten Have. 320p.

Lemesurier, P. 1984. Messiaanse profetieën – Grote zieners en de Dode-Zeerollen. Tirion. 318 p.

Tabor, JD 2006. The Jesus Dynasty – The hidden history of Jesus, his royal family, and the birth of Christianity. Simon & Schuster. 363p.
2010. Restoring Abrahamic Faith. Genesis 2000. 167p.

Schillebeeckx, E. 1982. Jezus – het verhaal van een levende. H. Nelissen/Baarn. 640p.

Landman Voordrag oor Terug-na-God-teologie
Skriflesing

Deut. 6:4 Hear O Israel: The LORD our God, the LORD is one (New International Bible en ook The New King James Version 1980)

Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here (Nuwe Vertaling 1979)

Sh'ma, Yisra'el! ADONAI Eloheinu. ADONAI achad

Let op die diskrepansie in vertaling van echad tussen
One en Enigste. Echad kan vertaal word as (Tabor, J.
Resoring Abrahamic Faith, p. 10).
• YHVH ons God
• YHVH is Een
• YHVH is ons God
• YHVH alleen
• YHVH ons God is Een YHVH

Jer. 10:10 The LORD is the true God (King James Vertaling 1980)

Luk. 18:19 Jesus said to him: Why do you call me good?
Mark.10:17-18 No one is good but One, that is God (King James Vertaling 1980)
Matt.19:17

Hand.24:14 Paulus voor Feliks: Ek dien die God van my voorvaders volgens die leer van Christus (Nuwe Vertaling 1979)

Jak. 2:14 Wat help dit ... as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?
2:24 Julle sien ... dat 'n mens vrygespreek word o.g.v. sy dade en nie net o.g.v. sy geloof nie.
4:7,8 Onderwerp julle ... aan God. Nader tot God en Hy sal tot julle na


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: