Mulder se onderskeid moet breër uitgewerk word. Daar moet onderskei word tussen staat, regering-van-die-dag, regerende party teenoor instellinge van die burgerlike samelewing (soos bv. 'n godsdiensinstelling).
Die SA-staat word deur staatswetenskaplikes getipeer as 'n grondwetlike/konstitusionele staat. Hiervolgens is die Handves van Regte (Hoofstuk 2) voorskriftelik en bepalend vir die staat self, vir die regering-van-die-dag, vir die regerende party en ook vir instellinge van die burgerlike samelewing.
Die aard en inhoud van die SA-staat word deur die inhoud van die Grondwet (1996) bepaal. Die dilemma is dat nie net die ANC (die meerderheidsparty) nie, maar ook die VF+, die DA of selfs die SA Kommunisteparty die land in terme van dieselfde grondwet kan regeer. Hoe so? Dit is omdat Hoofstuk 2 van die Grondwet 'n "beperking van regte"-klousule bevat. Dit beteken dat 'n reg in die Handves van Regte kragtens 'n algemeen geldende regsvoorskrif beperk kan word, mits die beperking redelik en regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing. By naderende ondersoek blyk dit dat 'n bepaling in die Handves deur 'n wet van die Parlement beperk word. Dit is ook so dat 'n instelling van die burgerlike samelewing die Handves binne 'n eie dogmatiese raamwerk eiesoortig kan vertolk.
Die regering-van-die-dag (in hierdie geval die ANC wat die president en kabinet aanstel) gebruik artikel 36 van die Grondwet om ieder en elke artikel van die grondwet te interpreteer en wel binne sy eie ideologiese raamwerk.
'n Voorbeeld: artikel 11 van die Handves lees "elkeen het 'n reg op lewe". Die ANC interpreteer die artikel sodanig dat die doodstraf daarmee afgeskaf, maar aborsie by wyse van wetgewing gewettig word.
Sou die VF+ aan bewind kom is dit goedskiks moontlik dat, in terme van die beperking-van-regte-bepaling, artikel 11 so geïnterpreteer sal word dat aborsie onwettig is (want lewe onstaan by konsepsie) en dat die doodstraf ingebring word (want, volgens die regstaat mag die staat die swaardmag gebruik om lewe te beskerm).
Ook 'n godsdiensinstelling sou kon redeneer dat die reg-op-lewe-artikel aborsie onwettig maak en dat die doodstraf binne die konteks van 'n bepaalde Heilige Geskrif regverdigbaar is.
Die regering-van-die-dag regeer ingevolge sy eie interpretasie van die grondwet, maar is nie gelyk aan die staat nie. Insgelyks sou 'n godsdiensinstelling kon redeneer dat hy die grondwet, binne die konteks van sy Heilige Geskrif, anders lees en verstaan. Vandaar die behoefte van Godsdiensinstellinge om 'n akte vir die bevordering en beskerming van die reg op godsdiens te formuleer – soos onlangs gebeur het.
'n Ander voorbeeld is die Handves se omskrywing van die reg op gelykheid (artikel 9). Voorstanders van die liberale standpunt maak nogal veel van die nominale gelykheid tussen die geslagte. 'n Godsdiensinstelling sou artikel 9 anders kon interpreteer. Gelyke beregtiging van man en vrou beteken nie dat man en vrou geskik en toeganklik vir alle ampte is nie. In so 'n geval is daar sprake van gedifferensieerde gelykheid van die ampte binne verskillende kontekste. Nog belangriker: die grondwet [a. 9(2)] bepaal dat spesiale maatreëls getref mag word wat ontwerp is "vir die beskerming en ontwikkeling van persone of kategorieë van persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is". Vir die ANC het die "affirmative action"-klousule op die Swartes betrekking. Klaarblyklik vir tyd en ewigheid, omdat daar nie 'n tydsbeperking daaraan gekoppel is nie. 'n Godsdiensinstelling of party soos die VF+, wat ingestel is op barmhartigheidsdienste, sien artikel 9(2) waarskynlik as 'n artikel wat die owerheid onder plig plaas om alle agtergeblewe gemeenskappe binne alle kontekste op te hef.
Die regerende party is ook nie die owerheid/regering nie, omdat die owerheid 'n eie struktuur en funksies het. Die regering-van-die-dag regeer in die algemene (publieke) belang en nie in die belang van die ANC nie. Alhoewel die ANC as politieke entiteit sekere ekstreme bepalinge in die Freedom Charter ingesluit het, het hulle as regering-van-die-dag (nog) nie elke letter en bepaling van die Freedom Charter deurgevoer nie. Eenvoudig omdat dit 'n rewolusie sal ontketen.
Die onderskeid tussen meerderheidsparty en die owerheid-van-die-dag moet dus gehandhaaf word. Derhalwe het 'n funksionaris van die regerende party, soos Malema, nie sonder meer funksies binne die owerheidsektor en staat nie.
Die ANC maak hierdie onderskeide moeilik, omdat die ANC fundamenteel 'n magstaat nastreef, ingevolge waarvan die grense tussen staat, regering en party stelselmatig uitgewis word.
Dr. Mulder is dus reg dat die vermenging van staat, party en etnisiteit, soos hy dit stel, "van die grootste probleme (is) wat demokrasie in Afrika laat misluk". Wat 'n godsdiensinstelling moet doen – soos in die godsdiensakte verwoord is – en wat 'n party soos die VF+ behoort te doen is om sy interpretasie van die Grondwet kundig te maak en sinvol met die ANC-standpunt te kontrasteer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





