Die debat tussen Riaan van Heerden en Eusebius McKaiser in die By van 9 Oktober 2010 is so lesenswaardig dat almal daarvan kennis moet neem. Ironies genoeg is my eie standpunt nader aan dié van McKaiser, die selfgeïdentifiseerde swartman, as aan Riaan die "liberale denker". Opsom sien hulle standpunte soos volg daaruit:
* Riaan is gatvol vir teorieë oor 'n nasionale identiteit want "ons hou nie eintlik van mekaar nie". Daar is by ons 'n afkeur aan ander rassegroepe. Kinders wat saam-saam skool toe gaan, wil mekaar uiteindelik "bliksem".
* McKaiser gee Van Heerden 'n nul vir oorspronklikheid. Hy stel voor "ons laat vaar projekte rondom die idee van 'n nasionale identiteit en aanvaar diversiteit." Diversiteit in taal, kultuur en klas moet aanvaar word. Daar is 'n spanning tussen pluralisme en Suid-Afrikanerskap.
Beide Van Heerden en McKaiser het dit mis. Beteken dit dat diversiteit per definisie een nasionale bewussyn uitsny. Wat van Switserland waar Italiaanssprekendes (oorwegend Rooms Katolieke) saam woon met Duitssprekende Switsers (oorwegend Protestante) en ander groepe en tog 'n tipiese Switserse identiteit en gemeenskaplike vaderlandsliefde ontwikkel het?
Van Heerden werk implisiet met 'n dogmatiese sosiale determinisme wat in die praktyk 'n mislukking blyk te wees. Dit is dat as die sosiaal-ekonomiese en politieke speelveld gelyk gemaak word, alle verskille tussen die rasse verdwyn. Van Heerden se eensydige mensbeskouing verreken nie die feit dat die genetiese erfenis van honderde jare ook kultureel manifesteer nie. Met ander woorde: rasseverskille manifesteer ook in die uitlewing van 'n lewens- en wêreldbeskouing. Die begrip ras verwys eerder na die rol van 'n gemeenskaplike genepoel (bv. van Duitsers) as na kleur. Ingebed in die wese van die Afrikaan is 'n totaal andersoortige siening van die sosiale en politieke werklikheid. Wat ons dus in SA beleef is 'n beskawingskrisis (Westerse liberalisme versus Afrika kommunalisme). Voor 1994 het die staat aan die samelewing kunsmatig 'n Westers identiteit gegee. Met identiteit word bedoel 'n Westerse sosiale ordening. Na 1994 is die Westerse liberale samelewingsorde vervang deur 'n kommunalistiese Afrika orde wat tot die magstaat aanleiding gee. FW de Klerk en sy kronies het die onderliggende politieke beskawingsprobleem nie verstaan nie en gedink dat Afrikane deur die "liberale" grondwet van hulle beskawingserfenis ontneem kan word.
McKaiser is nader aan die waarheid en beklemtoon die diversiteitsprobleem, maar verstaan nie dat in 'n diep-verdeelde gemeenskap die konsosiatiewe demokrasie 'n beter staatkundige model is om die diversiteit te verdiskonteer en dus om aan die hand van gedeelde mag, binne 'n federatiewe staatsmodel, 'n tipiese nasionale identiteit te ontwikkel.
As Van Heerden en McKaiser se hipotese waar is dat die verskillende (mekaaruitsluitende) diverse gemeenskappe sedert 1994 nie nader aan mekaar beweeg het nie, die oorsaak gesoek moet word in die liberaal-humanistiese staatsmodel, soos verwoord in die Grondwet van SA (1996). Iewers moet iemand weer Arend Lijphart se konsosiatiewe staatsmodel vir plurale gemeenskappe opdiep en aan die kiesers aanbied.
Dit is alleen as ons binne een breë geografiese ruimte vir partikuliere identiteite ruimte maak dat 'n nasionale trots en bewussyn na vore sal tree. Daar is geen rede waarom ons mekaar moet bliksem nie! Vreedsame naasbestaan sluit konflik uit.
Dr. Landman was die voormalige grondwetlike kommissaris in sake Gemeenskapsregte (artikel 185 van die Grondwet van SA)
| < Vorige | Volgende > |
|---|





