Vergeet egter nie: die stryd is dié van die terreurorganisasie Hamas wat gerig is op die vernietiging van die Israeliese staatsorde; 'n geveg wat reeds by Jakob en Esau begin het.
In hierdie verband is die Suid-Afrikaanse regering in die voorste linies om simpatie teen Hamas te betuig en die regering van Israel te kasty. Vandag het president Zuma in geen onduidelike taal nie die Israelse regering in die openbaar gerepudieer. Dit is natuurlik te verwagte. Palestina is nie 'n onafhanklike staat nie en dus onderhorig aan Israel. Desondanks word die Palestyne hier verteenwoordig deur 'n volwaardige ambassadeur met volle diplomatieke status. Slegs soewerein-onafhanklike state word in terme van die internasionale reg en praktyk met ten volle geakkrediteerde Hoofde van Missies by 'n volgende staat verteenwoordig. Die implikasie is dat die buitelandse beleid van hierdie regering uit-en-uit simpatiek is teenoor die Palestyne.
So twee tot drie jaar gelede word ek deur die Universiteit van Pretoria genooi na 'n debat tussen die Israeliese ambassadeur en die hoofverteenwoordiger van die Palestyne (wat terloops as 'n "ambassadeur" aan die gehoor voorgestel is). Die saal was volgepak. Behalwe vir die baie Jode met kenmerkende dotjies op hulle koppe, was die meerderheid van die gaste swart. Die beredeneerde voordrag van die ambassadeur van Israel is kil en afstandelik ontvang.
Die emosioneelbelaaide en propagandistiese snert wat die Palestyn kwytgeraak het, het baie herinner aan die taal en styl van die ANC in ballingskap. Soveel só dat een van die Jode neffens my onthuts aan my opgemerk het, dat hy nie besef het hoe diep die vooroordele teen Israel hier te lande is nie. Dit, ten spyte van die feit dat die Jode nogal simpatiek teen die ANC was en van die voorste kritici van die voorafgaande orde was.
'n Tweede voorbeeld! Ek is by 'n vergadering waar hoofrabbi Harris teenwoordig is. Ons skryf 'n sekere wet en 'n komitee werk aan een of ander formulering. Derhalwe sit die meeste van ons hande gevou. Ek lees uit die Genesis-kommentaar van prof. A. Van Selms. Die rabbi wil weet wat ek lees. Ek vertel. Hy vra: "Waar trek jy nou?" Ek antwoord daar waar Jakob by die Jabbok die geveg met die bo-aardse wese gehad het. "O," sê die Rabbi, "dit is net jammer julle Christene verstaan die verhaal verkeerd." "Hoe so!", vra ek. Hy meen ons interpreteer dit so dat Jakob met God geworstel het. Nee, nie met God nie maar met 'n bose gees wat Jakob wou dood. Jakob en Esau was tweelinge. Reeds in die buik van hulle moeder het hulle teen mekaar gestamp. Die rede was dat Jakob en Esau twee groot gemeenskappe, wat in vyandskap met mekaar bestaan, verteenwoordig.
In die esoteriese filosofie van die Judaïsme is die hand die begin van 'n era en die hakskeen die einde daarvan. Esau se hand kom by geboorte weliswaar eerste na buite, maar Jakob het Esau aan die hakskeen beet. Jakob en Esau kom as 'n eenheid in die wêreld en geniet dus gelyke status – totdat God natuurlik Sy keuse maak. Jakob is die uitverkorene van God. Dit is Jakob wat die seën van sy vader verkry. Derhalwe is daar dwarsdeur die geskiedenis 'n vete tussen Jakob en Esau. Jakob probeer verhoudinge normaliseer tussen hom en sy broer, maar slaag nie.
"By die Jabbok", verklaar die Rabbi "is Jakob in 'n stryd gewikkel met 'n wese wat homself nie aan Jakob wil identifiseer nie". Hierdie wese wil Jakob vernietig en slaan hom op sy dy. Maar, Jakob is die sterker een. Toe die lig breek pleit die onbekende wese by Jakob om hom te laat gaan.
Die Rabbi se verduideliking is eenvoudig. Jakob kan nie teen God of 'n engel van God wen nie. Die wese waarteen Jakob die stryd gevoer het is 'n engel van die nag: dus 'n bose gees wat die beskermgees van Esau is.
Ek toets die Rabbi toe by A. Van Selms (Genesis I, Nijkerk, 1967:140) se kommentaar (bladsye 139 tot 142). Van Selms argumenteer soos die Rabbi. Jakob wil die ezZerkarivier oorsteek. Hy stuur geskenke van vrede aan sy broer Esau. "Iemand" verhinder Jakob self om na die anderkant oor te gaan. Volgens Van Selms is die Hebreeuse "'is" se beter vertaling "iemand", in plaas van ' "'n man".
'n Worsteling van lewe en dood ontstaan tussen Jakob en hierdie boaardse wese. In die geveg word Jakob se dybeen uit die potjie geruk. Die worsteling hou aan tot die dag breek. Hierop pleit die wese dat Jakob hom moet laat gaan, omdat die dag breek. Volgens Van Selms is daar voorbeelde in die Bybel waar demone net in die nag werksaam is. Jakob eis dat hierdie wese hom seën, alvorens hy hom sal laat gaan. Die rede is volgens Van Selms dat eenmaal geseën sal so 'n duistere wese die geveg vir altyd opgee. Die Genesis-skrywer skep wel die indruk dat dit Elohim kan wees. Dit is die Godsnaam, maar, verklaar Van Selms, ook ander bo-natuurlike wesens word soms met die naam elohim aangedui. Die demoon weier om sy naam bekend te maak, want as die naam bekend is, het Jakob 'n sekere houvas op die wese.
Die Hoofrabbi fluister in my oor dat ons ander kollega, 'n fundamentalistiese Moslemgeleerde, verniet dink dat hulle Israel kan vernietig. Die implikasie is duidelik: die geskiedenis eindig met Jakob en nie met Esau nie.
"Er zijn naar zeer wijd verbreide opvattingen demone, die slegs in het duister hun werk kunnen doen (Ps. 91:5)".
| < Vorige | Volgende > |
|---|





