Henry Jeffreys van Beeld op 2 Junie skryf dat 31 Mei 'n herdenking maar nie 'n "viering" is nie. Hy kerm en kreun dat sy ouers en hy natuurlik nie in 1910 stemgeregtig was nie en dat, te dien gevolge sy soort polities ontmagtig was. Om nie te kan stem nie is om as tweedeklasburger te leef. Nouja, toenou! Jeffreys het nou stemreg en ten spyte daarvan gaan die land teen "rasse" skrede tot niet.
Jeffreys moet leer dat die reg om te stem nie sukses vir 'n land waarborg nie en dat, binne die Afrikakonteks, demokratiese vryheid van keuse dikwels die einde van die liberale demokrasie beteken het. Hier is dit nie anders nie, want ons sit nou met die diktatuur van die ANC.
Dit is hoe 'n land bestuur word, wat die waarborg vir sukses is. Die vraag word al meer en meer gevra of die liberale demokrasie as sulks binne ontwikkelende gemeenskappe werk. Die politieke keuses wat in 'n hoogs geïndustrialiseerde en tegnologies gevorderde staat gemaak moet word, is so kompleks dat dit die beste vaardighede van die leierskorps vra. President Zuma sit in die onbenydenswaardige posisie dat hy politieke keuses moet maak, sonder dat hy 'n lang akademiese en/of beroepsverlede gehad het, wat daardie keuses tussen verskillende opsies en alternatiewe vergemaklik.
Die tragiek van SA is dat daardie bevolkingsdeel wat altyd op die minderwaardige Bantoe-onderwysverlede wys, hulleself nou so knap ag dat hulle, ten spyte daarvan beter weet, alles beter kan doen en die wiel heruitvind, terwyl die wiel in Afrika nooit in Afrika, voor die koms van die Hollanders en Engelse, gefigureer het nie.
Jeffreys spring ook sommer vanaf Uniewording na Republiekwording. Daar is dramatiese verskille tussen hierdie twee gebeurtenisse.
Uniewording volg op 'n knaende en bloedige oorlog tussen die Boere-republieke en die Britse Imperium; 'n imperium wat helaas nou so getaan het, dat daardie eiland met die geringste tsunami onder die golwe kan verdwyn. Die Vrede van Vereeniging het daartoe gelei dat 'n aantal onafhanklike Republieke en swart gebiede in een staatkundige bedeling ingebed is. Daardeur is die eerste tree gegee om die roereier-SA van vandag te skep. Insgelyks is die Union Jack as deel van die SA vlag ingeverf. SA was toe deel van die Britse Gemenebes en gemeen was hulle inderdaad. Die staatshoof was 'n Goewerneur-generaal wat die verteenwoordiger van haar Majesteit was. Dit was niks anders nie as 'n brutale oorwinning van die Britse koningshuis oor Republikeinse Boere-generaals.
Eers was daar opeenvolgende SAP-regerings, wat SA in die eerste en tweede wêreldoorloë betrek het. Die eerste Eerste Minister Generaal Louis Botha het glo weens depressie op tragiese wyse aan sy einde gekom. Hy is opgevolg deur generaal Jan Smuts, wat deur die Britte tot Veldmaarskalk bevorder is. Dit is dieselfde Smuts wat 'n boek geskrywe het "Een Eeu van Onreg" en wat toe na Uniewording hand-op-die-blaas met die Engelse was.
Hoe dit ookal sy. Die stryd van die destydse Nasionale Party – dit is nou voor die uitverkoopbeleid van De Klerk en Kie – was om die Engelse roereier uitmekaar te haal en om die Engelse sweep te ontstrengel. In hierdie sin was Republiekwording in 1961 'n groot sukses; 'n hoogtepunt, totdat die afdraande stelselmatig gekom het.
Miskien moet veral ons jongmense leer dat Uniewording 'n vernedering vir die Boere-republieke was en dat Republiekwording ons eer effens herstel het. Wat nou moet gebeur is eenvoudig: raak ontslae van die roereier waarin ons opgelos is en strewe na selfbeskikking.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





