praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Die Judasbok

Die Judasbok

E-pos Afdruk PDF
Drome is soos ons menslike skaduwee. 'n Skaduwee van 'n mens kan net soms gesien word. Dit is as die son skyn. Maar, jou skaduwee is altyd by jou. Dit is soos 'n plantaat in jou mond. Dit is 'n vreemde voorwerp en tog deel van my. So is dit met drome. Slimjan vertel elke mens droom elke nag, dikwels meer as een keer. Dit is soms die vreemdste drome, van 'n werklikheid bo en buite my. Die meeste drome word gou vergeet, behalwe as jy wakker word en dit dadelik in die droomboek aanteken. Maar, dan is daar daardie spesiale droom wat nie vergeet word nie. Dit is asof die droom in die menslike brein ingegraveer, ja ingeprent word!

Die jaar is 1992. Die politiek in SA is swanger aan allerlei bose geeste, onderhandelinge, toegewings en ook kapitulasie. Ek is in Berlyn, daardie hoofstad van trane, wat vir jare deur 'n muur in twee werklikhede geskei is. Die florerende Weste. Dan natuurlik die treurende Ooste, waar die geboue bleek, gekraak en soos die wolke grys is.

Dit is nag en ek droom. Ek loop agter 'n trop skape. Dit is skape met lang wit wol. Die bruin stofpad is gelyk. En dan, skielik, is daar 'n opdraande. Eensklaps is daar 'n wal water wat vanaf die middel van die pad na regs 'n dam maak. Ek besef dat die skape dom is en nie links om die water sal stap nie. 'n Voorste skaap kies die diepwater. Die ander volg. Ek is beangs. As lang wolle aan skape nat word dan sink so 'n skaap. Dit is die beste manier om 'n trop skape vrek te maak. 'n Skaap is een van daardie diere wat watersku is en boonop nie kan swem nie. Ek storm na voor en gryp een skaap na die ander aan hulle wolle om hulle op droë grond te kry. Dan gryp ek nog 'n skaap en lig hom hoog bokant my kop op. In hierdie posisie, draai die skaap sy gesig na my toe en wat sien ek: ek kyk in die vol gesig van 'n bok met sy grys gesplete oë.

Ek word wakker. Ek is natgesweet en die toneel van die bokkop wat my vol in die gesig kyk, spook by my die hele nag. Op kantoor teken ek dit aan. Ek lees in een van my vele boeke dat die bok die simboliese dier van duistere magte is. Vir die Christendom is dit die duif. Vir die magte van die nag is dit die bok.

'n Paar dae daarna lees ek 'n berig van 'n swart leier-onderhandelaar wat verhoudinge met twee wit ministers in die reine wil bring. Hierdie swarte vlieg die ministers uit na 'n "isangoma", iewers in die berge van KwaZoeloe. Daar aangekom word die afgevaardigdes seremonieel deur die "toordokter" ontvang. 'n Bok word daar en dan in hulle teenwoordigheid nek deurgesny. Die bloed word opgevang en in die beeskraal gegooi. Dit is in die beeskraal waar offers aan die voorvadergeeste opgedra word. Die pens word oopgesny en die gal netjies in 'n houer gegooi. Die wit menere word sitgemaak en die vel van die pasgeslagte bok beurtelings om hulle skouers gedrapeer. Die gal word op en om hulle gesprinkel. Die horings van die bok word weer beurtelings op die ministers se hoofde geplaas. 'n Beesstert word seremonieel geswaai. Passies word uitgevoer en brulgeluide verlaat die keel van die isangoma en siedaar: verhoudinge is genormaliseer en nou kan die groot fees begin ...

Die droom van die bok bokant my kop en die storie van die ministers bly my pla. Ek is terug in SA. Ons is aan tafel. Ons praat hieroor en daaroor. Een van die gaste is 'n direkteur van 'n bekende abattoir. Ek vertel die storie van die droom en die bok. Daar is 'n stilte en 'n ongemaklikheid. Dan vertel die direkteur: by meeste slagpale is daar 'n goedopgeleide bok, wat die skape ter slagting lei. Net voor die skape die slagsaal van die dood bereik, swenk die bok na links en word van die skape slaghuisvleis gemaak. Ja, vertel die direkteur. Hierdie is 'n Judasbok. Toe is alles vir my glashelder duidelik!


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: