praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Jesus het opgestaan! Maar hoe?

Jesus het opgestaan! Maar hoe?

E-pos Afdruk PDF

Dit woel in kerklike kringe. Rapport (23 Mei 2010) lewer verslag dat “Amerikaanse teoloë ‘kom kerk in SA help red’ met debatte”, oor ondermeer die opstanding.  Op die Pretoriabyeenkoms argumenteer die Amerikaners dat “Bybelskrywers se verslae oor die opstanding aan die vereistes van betroubare geskiedskrywings voldoen”.

Oor die vermeende wetenskaplike benadering van die Amerikaanse fundamentaliste reageer Wolmarans dat hulle insette nie in die kraam van “akademiese debatte” val nie. Hy sê die Amerikaners skep die skyn dat hulle na tradisionele godsdienstige waardes wil terugkeer, maar hulle aggressiewe vorm van Christendom kom neer op retoriese geweld.

Spangenberg, die Outestamentikus, beskuldig die Amerikaners dat hulle met ‘n fundamentalisties Skrifbeskouing werk. Hulle interpreteer die Bybel letterlik.  Daar is geen teenstrydighede daarin nie.  Sien Eindnota  1.  Met hierdie vertrekpunt kom hulle tot die gevolgtrekking dat Jesus letterlik, histories en liggaamlik uit die dood opgestaan het.

In sy “A New History of Early Christianity” skryf  Charles Freeman (p. xiv) dat alhoewel die geskiedkundige en teoloog oor die lewe, dood en opstanding van Jesus soek na die waarheid, beide egter met gebrekkige bewyse sit.  Hy skryf: “most historical solutions exist as hypothesis, vulnerable to the discovery of new evidence or to be left for ever unproved.”

‘n Ernstige probleem in sake die wetenskaplikheid van die evangelies oor die opstanding is dat, volgens Freeman, die meeste van Jesus se dissipels analfabete was.  Daar is nie ‘n dokument bekend wat deur ‘n ooggetuie geskryf is nie.  Die vier kanonieke evangelies wat in die jare 70 tot 100 na Jesus geskryf is – Mattheus, Markus, Lukas en Johannes – is deur Grieke geskryf; Grieke wat Jesus nooit geken het nie en bloot op mondelinge oorlewering staatmaak.  Hoe betroubaar is ‘n notule van gebeure wat dertig en langer jare na die gebeure geskryf is, vra Freeman.

Dan is daar kerklike weerhouding van dokumente wat strydig met die aanvaarde dogma is. Die Evangelie volgens Petrus wat in Egipte gevind is, is deur biskop Serapion van Antiochië vernietig, omdat die verhaal van die kruisdood en opstanding nie daarin vervat is nie.  Die aanname kan gemaak word dat as bewys kan word dat Jesus inderdaad nie liggaamlik opgestaan het nie, die teologiese bodem uit die Roomse Kerk teologie uitval.

Een feit staan in die Bybelse antropologie egter vas en dit is dat die mens per definisie onsterflik is en dat op grond van hierdie stelling algemeen aanvaar kan en moet word dat Jesus opgestaan het.  Hoe die opstanding plaasgevind het, weet niemand verseker nie en hang dus van verskillende skole van denke af.  Die debat oor die opstanding herinner dus sterk aan twispunte soos onderdompeling of besprinkeling en ander kwessies in die teologie.

Vir die Amerikaanse kerklikes  van die Southern Evangelical Seminary in Noord-Carolina  het Jesus letterlik uit die dood opgestaan.  Hierdie stellingname is volgens andere strydig met God se wetsorde en strydig met die Bybelse standpunt dat by dood ‘n vleeslike liggaam ontbind en dat ‘n geestelike liggaam opgewek word.  As Jesus die Messias is, soos die Profete verwag het sal gebeur, dan moes Jesus na sy opstanding ‘n segetog na Jerusalem onderneem het om die troon van David te vestig. Dit het nie gebeur nie.  Daarna is verwag dat die wederkoms vinnig sal plaasvind.  Ook dit het nie gebeur nie!

Uitgaande van die veronderstelling dat Jesus gekruisig en begrawe is, redeneer Freeman dat dit in die belang van hoëpriester Kajafas en die Romeinse Owerheid was dat die liggaam van Jesus nie in die hande van die apostels en Essenaars val nie.  Derhalwe is dit net goed moontlik dat die liggaam van Jesus deur Kajafas uit die tydelike graf verwyder en iewers in die woestyn begrawe is.

Peter Lemesurier  in sy boek “Messiaanse Profetieen – Grote zieners en de Dode-Zeerollen” (1984) verbind Jesus direk aan die Esseense godsdiensbeweging .  Sien Eindnota 2.  Die Messias moes verwek word . Maar, om dit te kon doen moes die juiste voorwaardes geskep word. Die Messias moes ‘n afstammeling van koning Dawid wees. Die vader van Jesus word getipeer as ‘n lid van die Nazareense of Nazoreense subgroepe van die Essenaars.

Die interpretasie van Lemesurier en andere is dat die Esseners die liggaam van Jesus verwyder en begrawe het en dat die wederkoms van Jesus op die korttermyn verwag is.

Intussen het die navolgers van Paulus die teologie van die Messiaanse Beweging gepaar met die Hellenistiese lewenswyse en filosofie. Op basis van die onbetroubare Griekse Septuagint is “jongvrou” met maagd vervang.  Die godmens Jesus kon nie ‘n aardse vader gehad het nie. Derhalwe is Josef nie die vader van Jesus nie. Dit ten spyte van twee geslagsregisters (in Matt. 1:1-7 en Lukas 3:23-28) wat die bloedband tussen Jesus en Josef onderstreep. Die geboorteverhaal is met mites verfraai. Die idee van die herders is van die Mithrasgodsdiens oorgeneem.  Die ster wat ook by die geboorte van Nero ‘n rol gespeel het is verchristelik.

Soos dus gesien kan word, is daar nie net een skool van denke rondom Jesus, sy kruisdood en opstanding nie.  Wat van teoloë-in-debat verwag kan word is dat die verskillende skole van denke objektief aan die orde gestel sal word, sodat elkeen maar sy eie kuise maak.

Afgesien van verskillende Skrifbeskouings wat die twee groepe gehuldig het, het hulle ook verskillende wêreldbeelde gedeel. Die wyse waarop William Craig die liggaamlike hemelvaart van Jesus probeer verduidelik, is hiervan ’n sprekende voorbeeld. Om te sê dat Jesus se liggaam êrens in ’n ander dimensie as die wat ons ken, verkeer, is volgens Spangenberg ‘n onwetenskaplike stelling. ’n Mens aanvaar die moderne wêreldbeeld of jy verwerp dit.

Nota 1:

Deist toon in sy Historiese Heuristiek, Teologiese Hermeneutiek en Skrifgesag (1979):

Daar is twee skeppingsverhale wat glad nie met mekaar te rym is nie (Genesis1:1–2:4a en Genesis 2:4b–3:24).

Van alle lewende wesens moes daar twee-twee na die ark gebring word (Gen 6:19–22; 7:15–16). Van alle onrein diere kom daar twee-twee na die ark, maarvan alle rein diere kom daar telkens sewe pare aangestap (Gen 7:2–3).

Die tempelreiniging van Jesus. Volgens die Johannesevangelie vind dit aan die begin van Jesus se optrede plaas (Joh 2:13–25), terwyl die sinoptiese evangelies dit aan die einde van Jesus se optrede plaas (Mark 11:15–18; Matt 21:12–17; Luk 19:45–48).

Navorsers het ook ontdek dat daar materiaal in die Bybel voorkom wat aan ander kulture ontleen is. Hiervan is die vloedverhaal of dan die verhaal oor Noag en die ark (Gen 6–9) en die spreuke in Spreuke 22:17–24:22 van die bekendste voorbeelde. Die vloedverhaal kom ooreen met die Mesopotamiese vloedverhaal bekend as die Gligamesj-eposverhaal. Die gedeelte in Spreuke is ontleen aan ’n Egiptiese wysheidsgeskrif bekend as die Wysheid van Amenemope.

Eindnota 2:

Die Esseense godsdiensbeweging is in die jaar 150 vC gestig.  Die stigter is by name onbekend, maar was waarskynlik ‘n Priester uit die nageslag van Zadok (die hoëpriester). Die stigting het dan ook saamgeval met die aanvang van die astrologiese tydperk van die Vis.  Hulle staan dan ook bekend as “vissers van mense, wat nogal sterk herinner aan die beeldspraak van Jesus self.

Die daarstelling van Qumran in die woestyn, hou dalk verband met Jesaja 40:3: “Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God.” Hierdie pioniersgroep van manlikes (ben) moes deur hulle vrywillige lyding en selfverloëning ‘n versoenende funksie vervul vir die sonde van Israël. Die Qumran-woestyngemeenskap moes die weg berei vir die aanbreek van die Messiaanse Eeu.

In die tydvak van die Joodse historikus, Josephus (37-100 nC), was daar bykans in elke stad van Israel en selfs in afgeleë gebiede Esseense gemeenskappe.  Net ‘n hervormingsbeweging van buitengewone krag en strengheid wat deur ‘n afgesonderde en toegewyde elite onderneem is, sou die nodige religieus-politieke hervorminge laat slaag. Hulle het ‘n lewe van asketisme gevoer. Hulle het soos die Nasareners geleef:  nooit hulle hare geknip nie, nie hulle liggame – soos die Grieke – geolie nie, en ook nie alkohol gebruik nie.

Soos Jesus was hulle eerder moraliste as wettisiste, eerder manne wat God lief gehad het as godsdiensfanate, en eerder die wese van die wet as die letter van die wet gevolg het. Die Boek van Meditasie is in feite hulle Bybel.

Die hipotese, gebaseer op skriftelike en argeologiese gegewens , is dat die Essenaars twee oorhoofse doelwitte nagestrewe het. Dit is die herinstelling van die:

  ·    Levietiese Priesterskap en

·        Dawidiese koningskap.

Die politiek van die Essenaars was om die profete tot vervulling te bring.  Sodoende het hulle ‘n stewige greep probeer uitoefen op die politiek van hulle dag.

Die Essenaars het redeneer dat as die Messias moet verskyn hy dan aan die hand van die profesieë van die Eerste Testament voortgebring moet word . In die waarmaking van die profesieë het hulle die voorwaardes geskep vir die aanvaarding van Jesus as die Messias . Die voortbrenging van die messias het afgehang van die “regte” ouers . Die moeder van die messias moes kom uit die geledere van die Esseense tempelmaagde wat op die berg Karmel diens gedoen het .

Die Messiasverhaal in die Joodse godsdiens het dan ook sy hoogtepunt, tot en met die kruisiging, bereik. Die kruisiging word direk verbind aan die feit dat Jesus homself aangebied het en deur die Esseense beweging bemark is, as die regmatige koninklike troonopvolger, ingevolge die goddelike belofte van God aan Dawid.

Die uitwissing van lede van die messiaanse dinastie het nie  met Jesus geëindig nie.  Tydens die regering van Trajanus word bv. die honderdjarige Simon ben Kleopas vermoor, omdat hy ‘n lid van die messiaanse dinastie was .

Uit die Damaskunsgeskrif van die Qumrangemeenskapsdokumente (wat in 1947 gevind is),  is elke gemeenskap deur ‘n mebaqqer  of Priester-Leviet en opsiener gelei.  Hy is ondersteun deur  ‘n Meester (maskil) of uitlegger van die wet . Die driemanskap was ook ondersteun deur ‘n Raad van twaalf leiers. Totale gehoorsaamheid is vereis vir die seshonderd en dertien bepalinge van die Wet van Moses. Nalewing van die sonkalender, wat in die Boek van die Jubileum vervat is, is gevolg. Die Paasfees en Loofhuttefees het altyd op ‘n Woensdag geval, die Groot Versoensdag op ‘n Vrydag en die Fees van die Weke altyd op die eerste dag van die week, die Sondag.

Die Esseners het volgens die dokument die Reëls van die Gemeenskap hulle eie interne geheime jargon ontwikkel en hulleself as die “manne van volmaakte heiligheid” genoem . Jonathan Makkabeüs is as die slegte priester aangedui. Die Sadduseërs was Manasse genoem.  Die Grieke en Romeinse was die Kittim. Na hulle stigter is verwys as die Leraar van Geregtigheid.

Aanbidding is deur rituele reiniging en onderdompeling in water vooraf gegaan. Ook persoonlike eiendom is gemeenskaplik besit, soos tewens die navolgers van Jesus na die kruisiging gedoen het.

In die antropologie van die Essenaars is die mens ‘n mengeling van twee geeste: die gees van die waarheid/lig en die gees van die leuen/duisternis .

Na die ballingskap vestig die Esseense “hoofkwartier” van 250 persone hom by Qumran en tel die totale Esseense beweging ongeveer vierduisend persone .

Subgroepe van die Esseners het bestaan uit die Nazireërs, die Nostrum of Nazoreërs (“bewaarders”), die Nazareërs (“hoeders”), die dopende Mandaeërs en selfs Samaritane (Sjamerim).

 

 

 

 

 

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: