Insgelyks was ek leier van die Raad van Afrikaner Studente (RAS), ‘n geheime organisasie, wat as teenvoeter vir ‘n ander geheime organisasie moes optree. Ons was regs en die ander organisasie ‘n stutorganisasie van die Nasionale Party. Ons was Calvinisties, onder die leiding van prof. Piet Kock en van Herman Strauss. Ons het geglo dat die beleid van afsonderlike ontwikkelling net kan werk as die eenheidstaat kan opsplits in ‘n verskeidenheid etniese state en dat die kultuurstate in ‘n konfederale verband ‘n Suider-Afrikaanse regstaat vorm.
In die Transvaal het leiers soos Albert Hertzog, Jaap Marais, en Willie Marais, Louis Stofberg, ontevrede geluide oor die rigtinglose leierskap van John Vorster gemaak. By RAS het ons besluit om dr. Albert uit te nooi om ons te kom inlig. Die gasheer sou die Kultuur Filosofiese Studiekring wees. Ons “geestelike” leier, dr. Piet Kock, het my gewaarsku dat dr. Albert nie veel van die Calvinisme af weet nie. Maar, die uitnodiging was reeds gerig en deur dr. Hertzog aanvaar. Om my verleentheid te spaar het ek Pretoria toe gery om dr. Hertzog in persoon te vra om sy aanbieding oor die Calvinistiese boeg te gooi.
In Pretoria het ek dr. Hertzog en sy Engelse vrou in Waterkloof besoek. Ons het uitgerekte gesprekke gehad. Dr. Hertzog het my toe genooi om die toespraak vir Bloemfontein te skryf en aan hom voor te lê, wat ek gedoen het.
Notas nou nog in my besit het die volgende bevat:
· Dat die Calvinistiese samelewingsleer die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring ontwikkel het. Hiervolgens het God nie net eiesoortige plante, diere en mense geskep nie, maar ook eiesoortige instellinge van die samelewing (kerk, staat, en ander organisasies). Hierdie instellinge besit interne selfbeskikking.
· Dat die Westminster-sisteem van denke individuele menseregte oorbeklemtoon, ten koste van kultuurinstellinge.
· Dat ‘n volk in kultuurgevulde instellinge (huwelik, gesin, familie, ens.) tot uitdrukking kom en dus eiesoortigheid, veral binne ‘n plurale samelewing kan opeis.
Dr. Hertzog het getrou by my toespraak gebly en net daarop uitgebrei. Die nasionale pers-koerante het natuurlik die vure aangeblaas en begin praat van ‘n studente-opstand teen Vorster se rigtinglose geploeter in modderwater. Ek is in Bloemfontein uitgesonder en twee-drie studente in Pretoria het ‘n sg. “smeerbrief” teen Vorster versprei. Hierop het Vorster sy bekende toespraak gemaak “hulle (daardie studente) kon ‘n toekoms gehad het, maar nou het hulle nie meer ‘n toekoms nie”.
In Bloemfontein is ek gevra om by die Nasionale Jeugbond van die NP ‘n toespraak te hou. Ek het Vorster se “uitwaartse beleid” trompop aangeval. Die Sondagkoerant, Beeld, van daardie tyd, het my toespraak op die voorblad onder die kopskrif “Vuiste vir Vorster” geplaas. Daaropvolgend het die veiligheidspolisie, te same met die pro-NP-stutorganisasies ‘n veldtog teen my begin om te keer dat ek die volgende president van die Afrikaanse Studentebond word. ‘n Kolonel het prof. Herman Strauss gaan sien en versoek dat ek nie weer plek in ‘n koshuis kry nie. “Landman ondermyn die regering”, was sy woorde. Prof. Strauss het my, in die teenwoordigheid van Henry Lederle, nou ‘n professor in die teologie, iewers in die buiteland, ingelig.
In Kaapstad het dr. Albert Hertzog my toespraak gebruik om sy beroemde (of is dit berugte?) Calvinistiese toespraak te hou. Hy het Vorster se beleid indirek aangeval.
Hierdie toespraak het daartoe gelei dat eerste minister Vorster vir dr. Hertzog laat roep het. Dr. Albert is na Libertas, die ampswoning in Pretoria, ontbied. Daar aangekom was mev. Vorster in die tuin. Sy het aan dr. Albert gesê dat die Eerste Minister in die kamer op die tweede verdieping was. Dr. Hertzog het geklop. Die klop was beantwoord met “kom binne”. John Vorster het in sy onderbroek met gekruisde bene op die bed gelê.
Hy het dr. Hertzog versoek om te bedank.
Dr. Albert het botweg geweier en gewoon geantwoord dat Vorster dan maar sy kabinet moes skommel en hom wat Hertzog is uitlaat. Die koerante het gezoem en die joernalis-lakeie van die NP het geskryf en geskryf en geskryf ... om die regte klimaat te skep vir die politieke isolasie van Albert, Hertzog, Jaap Marais en Willie Marais.
Toe kom die Transvaalse Kongres van die NP. Ek was daar. John Vorster se toespraak het die deur geopen na veelrassige sport. Dr. Hertzog het opgestaan en betoog dat Vorster derhalwe dr. Verwoerd se sportbeleid wysig. Vorster en sy napraters het betoog dat die sportbeleid dieselfde bly, maar dat Maori’s wel ontvang sou word. Hertzog het opgestaan en betoog dat dit die dun wig was wat die deur na veelrassigheid sou oopmaak. ‘n Ordemosie, ‘n ou slenter, is voorgestel dat die debat gestaak word en dat daar gestem word. Die debat is kortgeknip. Die stemvee van die NP het met ‘n tiental uitsonderinge vir die Vorster-beleid gestem.
Minister Botha was die voorsitter. Hierop moes elke persoon wat teen die Vorster-beleidswysiging gestem het opstaan. Hulle name en kiesafdelings is genoteer. Langs my het ‘n organiseerder van die NP gesit. My woorde aan hom was: “nou het die begin van die einde van die NP begin”. Die Maandag daarop is die name van die dissidente op die voorblad van die NP-pers gepubliseer.
Dr. Hertzog het sy kiesafdelingsbestuur vir die daaropvolgende Saterdag byeen geroep. In Ermelo aangekom, was dr. Hertzog verbaas om te sien dat minister Van Rensburg, as ek reg onthou, deur Vorster opdrag gegee is om die kiesafdelingsbestuur in te lig. Dit sonder vooraf mededeling aan dr. Hertzog.
In kort: die tirannie van Vorster en die leierloosheid van die NP toe, het Albert Hertzog eintlik geen keuse gegee nie as om die NP te verlaat. So het my woorde waar geword. Vorster wat met sy onderbroek aan vir Hertzog probeer uitskop het, se diktatuur het die HNP tot stand laat kom. Intussen het die onderbroek van Vorster aanleiding gegee tot die kortbroek van opvolgende leiers wat die Afrikaner uiteindelik kaalgat van sy land beroof het.
So terloops, een van die uitverkopers van die Afrikaner was lid van Ras, het Ras aan ‘n ander geheime organisasie uitverkoop om sy plek daarin te verseker en uiteindelik was dit juis hy, wat die lakei van De Klerk was, wat in die onderhandelinge gekapituleer het. Julle weet wie dit is? ‘n Jakkals verander van haar, maar nooit van streke nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





