In ‘n vorige artikel het ek die punt probeer maak dat, gesien die diepverdeelde aard van die Afrikaner en verskeidenheid van organe van die Afrikaner-burgerlike samelewing, die liberale (Westminster) demokrasie nie sal werk nie en verduidelik waarom konsosiatiewe demokrasie ‘n beter opsie is.
Konsosiatiewe Demokrasie is ‘n vorm van magsdeling wat groepsverteenwoordigend waarborg. Konsosiatiewe demokrasie is deur die bekende Arend Lijphart ontwerp om konflik in verdeelde samelewings te besweer. Dit word dikwels ook beskryf as ‘n vorm van magsdeling wat teenoor die “wenner-vat-alles” staan. Dit kan ook beskryf word as korporatiewe demokrasie.
Die doelwit daarvan is die skep van stabiliteit en die vermyding van geweld en konflik. Met ander woorde: komponente in sodanige demokrasie wat min of meer dieselfde rigting beweeg, werk saam in terme van die rigting, maar met die behoud van ‘n eie organisasiestruktuur, spesifieke doelwitte en uitkomste wat eie daaraan is.
Wat die rigtingvraag betref is aansluitende samewerking tussen alle organe van die burgerlike samelewing (wat selfbeskikking# steun) wenslik en nodig, maar kan die uitkomste vir sommige kulturele# selfbeskikking (binne die grense van ‘n verenigde Suid-Afrika) wees en vir ander selfbeskikking in ‘n deelstaat# en vir nog ander in ‘n soewerein-onafhanklike# staat.
‘n Konsosiatiewe gemeenskap kan gedefinieer word as ‘n samelewing van mense wat deur interne verdelings gekenmerk word. Die verdelings kan ideologies en ook kultureel van aard wees.
Die volgende eienskappe word aan konsosiatiewe demokrasie verbind:
· Een of twee leiers van elke komponent kom bymekaar om gesamentlik oor die rigtingvraag (bv. selfbeskikking) te besin en om doelwitte te formuleer.
· In die geval van groot organisasies word proporsionaliteit tot die maksimum van vyf lede per organisasie aanbeveel.
· Die doelwitte word of afsonderlik deur alle organisasies gedoen of word na ‘n spesifieke organisasie of organisasies gedelegeer.
· Meerderheidsbesluite word deur konsensus geneem.
· Uitvoerende magte word tussen die deelnemende instansies gedeel.
· Die deelnemende partye geniet in die uitvoering van doelwitte outonomie.
· ‘n Goedgeformuleerde grondwet bepaal magte en funksies.
· ‘n Regskomitee besleg konflik en verskille.
· ‘n Neutrale voorsitter wie se magte omskryf moet word, reel verhoudinge.
· ‘n Vaste (verteenwoordigende) sekretariaat onderneem administratiewe pligte.
· Die verhouding van die verteenwoordigers tot mekaar is primus inter pares.
Die voorstanders van konsosiatiewe demokrasie toon aan dat liberale demokrasie tot oorheersing van ‘n sterk of goedgeorganiseerde groep oor ander is. Daar word daarop gewys dat in België, die Libanon en Switserland en ook die Europese Unie volgens die beginsels van ‘n konsosiatiewe demokrasie suksesvol regeer word. Mag word tussen die konstituerende komponente dusdanig uitgebalanseer dat beide besondere/partikuliere belange gedien word. Die Daytonverdrag (1992-95) tussen Bosnia en Hertzeggovina is op die konsosiatiewe demokrasie geskoei. Ook die Belfast-ooreenkoms van 1998 in Noord-Ierland is konsosiatief van aard, asook Singapoer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





