“Die Rubicon oorsteek” is spreekwoordelik ‘n onomkeerbare daad. Die Rubicon is ‘n 29 kilometer rivier in Italië. Hierdie idioom is ontleen aan Julius Caesar wat die Rubiconrivier in 49 vC oorgesteek het, ten spyte van ‘n Romeinsregtelike verbod om so te doen. Die Rubicon was die grens tussen Noord en Suid Italië en om die Rubicon oor te steek was gesien as ‘n rewolusionêre daad van aggressie.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks is die verwagting, deur minister “Pik” Botha – ten minste aan ons amptenare verbonde aan buitelandse missies geskep - dat president P.W. Botha by die Natalse kongres van die Nasionale Party verrykende beleidsveranderinge sou aankondig. Op daardie stadium was die skrywer hiervan die Saakgelastigde van Suid-Afrika by die SA Ambassade in Den Haag, Nederland. In ‘n spesiale communiqué van die Minister is ons daarop bedag gemaak om die toespraak van die President onmiddelik by vrystelling aan belangrike meningsvormers uit te stuur.
Die presidensiële beleidstoespraak sou vooraf aan Missies gestuur word. Daar was ‘n gees van afwagting. Die teleksmasjiene is dopgehou, maar die toespraak het nie gekom nie. Die aand van die lewering van die toespraak het ons Nederlandse politici en joernaliste na die Ambassade uitgenooi. Die bedoeling was om die toespraak stuk vir stuk tot hulle beskikking te stel. Die antiklimaks kon nie groter gewees het nie. In teenstelling tot die geskepte verwagting het mnr. P.W. Botha ‘n uitdagende toespraak gemaak. Sy wysvinger het ten hemele gewys. Hy was nie bereid om die wit Suid-Afrikaners op ‘n pad van “abdikasie en selfmoord” te lei nie. Sonder wit Suid-Afrikaners, het die President gesê, sal die land deur “faksiegeweld en armoede” in chaos gedompel word. Hy het geen respek vir rewolusionêre anargiste wat Afrika in ‘n sterwende vasteland verander het nie. Mandela en “sy vriende” was in die tronk, het Botha bygevoeg, omdat hulle “’n rewolusie beplan het”. Hy sal hulle net vrylaat as hulle geweld afsweer.
Jare later, ja, kort voor die dood van president Botha, het ek ‘n gesprek van twee Nederlandse joernaliste met hom gereël. Die bejaarde president het ingewillig en was bereid om kwart oor tien een oggend met hulle te praat. Die gesprek het tot 15h00 die middag voortgeduur. Die gesprek met Botha is op band opgeneem.
Een van die vrae wat ek aan die joernaliste voorgestel het om met die president op te neem was wat die waarheid aangaande die Rubicon toespraak was. Die gryse Botha het onomwonde verklaar dat hy verskillende insette van sy ministers gekry het. So het hy advies gekry oor wat hy moes sê om verhoudinge met die buiteland te normaliseer. Botha het egter onomwonde verklaar dat hy op geen gegewe stadium laat blyk het dat hy wel verrykende politieke stappe sou aankondig nie. Hy het ook geen suggestie gemaak dat mnr. Nelson Mandela vrygelaat sou word nie. Dit was dus aannames wat sonder sy medewete en toestemming gemaak is.
Hierdie storie het my onwillekeurig laat dink aan ‘n gebeurtenis in New York. Dit was die bewindsfase van president J.B. Vorster. Die betrokke minister het ‘n toespraak voorberei wat ‘n tipe Rubicon was. Hy het sy privaatsekretaris in my teenwoordigheid opdrag gegee om die toespraak, vergesel van ‘n dekbrief aan “die baas” (dus mnr. Vorster) te stuur. Indien mnr. Vorster nie teen 15h00 terugkom nie, sal aanvaar word dat hy akkoord gaan, is in die dekbrief geskryf. Die brief is aan die privaatsekretaris gegee en toe ons wegstap het die minister bygevoeg: “Teleks dit en trek dan die prop van die teleksmasjien uit!”.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





