Dit het 'n stereotipe geword dat die Suid-Afrikaanse grondwet (1996) "die beste ter wêreld is". As iemand 'n twyfelagtige ding kwyt raak en 'n volgende én nog 'n volgende persoon herhaal dit, ontstaan 'n persepsie. 'n Persepsie wat uitkring word 'n stereotipe. 'n Stereotipe is 'n sosiale konstruksie met wye aanhang. Volgens sosiale wetenskaplikes is dit besonder moeilik om 'n stereotipe af te breek.
Die vraag is dus: is dit waar dat die SA Grondwet die beste ter wêreld is? Hierdie stereotipe kan net gedekonstrueer word, as die grondwet self aan indringende kritiek onderwerp word. Hierdie artikel beoog presies die dekonstruksie van die SA Grondwet!
Dit is van groot betekenis dat Suid-Afrika in die verskanste grondliggende bepalings getipeer word as "een, soewereine demokratiese staat" (a.1), wat artikel 235, die reg op selfbeskikking, wesenlik van nul en gener waarde maak. Ook in artikel 235 word die reg op selfbeskikking van 'n gemeenskap ondergeskik gemaak aan die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking", dus binne die raamwerk van 'n eenheidstaat (a.1).
In hierdie eerste artikel word net op die Menseregte-akte, Hoofstuk 2 van die Grondwet, gefokus. Die Handves word beskryf as die hoeksteen van die demokrasie in SA (a.7). Die Handves bind die staat en staatsorgane [a.8(1)] asook 'n persoon en 'n regspersoon [a.8(2)].
Reeds by die aanvang van die dekonstruksie moet die klem op die sg. beperking-van-regte-klousule (a.36) van die grondwet geplaas word. Hiervolgens kan 'n reg in die handves beperk word [a.36(1)]. Die beperking van 'n reg is onderhewig aan faktore soos redelikheid en regverdigbaarheid in 'n oop en demokratiese samelewing. Dit is redelik om te aanvaar dat die grondwetlike hof uiteindelik sal besluit wat redelik en regverdigbaar is, maar gesien die feit dat die howe in die proses van transformasie, dus verafrikanisering verkeer, is dit voor die handliggend dat presidensieel aangestelde regters die ghong van die staatshoof sal slaan.
Naas die beperking-van-regte-klousule word sommige artikels van die Handves reeds in ander artikels beperk, soos later uit die analise sal blyk. Daarnaas moet bygevoeg word dat wetgewing van die regering 'n artikel van die Handves nader kan bepaal en dus beperk.
Die gelykheidsklousule (a. 9) is 'n goeie voorbeeld waar hierdie klousule reeds deur werkreservering vir swartes tot nadeel van wittes beperk word en waar die wet op gelykheid verdere inhoud daaraan gee. Artikel 9 beoog gelykheid maar in 9(2) word legitimiteit aan wetgewende en ander maatreëls gegee wat daarop bedag is om voorkeur aan persone te gee wat deur onbillike diskriminasie benadeel is. Wetgewing wat gelykheid nader kwalifiseer definieer die benadeelde persone as swart.
Artikel 11 verklaar ewe vroom dat elkeen die reg op lewe het. Op grond hiervan is die doodstraf afgeskaf. Die ongebore kind word egter van 'n reg op lewe uitgesluit en kan binne die perke van tydsraamwerke geaborteer word. Selfs sonder goedkeuring van ouers op die vroeë ouderdom van twaalf jaar.
Die reg op vryheid en sekerheid van die persoon (a.12) word bely, maar dit het al staande praktyk geword dat witmense laat op 'n Vrydag of oor die naweek in hegtenis geneem word, om borgtog en die verkryging van die dienste van 'n prokureur te bemoeilik. In aanhouding word ook die reg op sekerheid en beheer oor die eie liggaam [a.12(2)] genegeer, wanneer aangehoudenes in toestande aangehou word waarin verkragtings moontlik is.
Daar is groot twyfel of die reg op privaatheid (a.14) deur die owerheid van die dag en sy organe gerespekteer word. Daar is bewyse dat die gesprekke en korrespondensie van persone sonder hulle toestemming bekom en ontleed word.
Terwyl die akte godsdiensvryheid (a.15) bely, word godsdiensbeoefening by staats- en staatsondersteunde instellinge beperk deurdat 'n orgaan van die staat die reëls bepaal ingevolge waarvan dit toegelaat word. Hier is dus 'n direkte politieke ingreep in die reg op godsdiens.
Dit staan elke burger vry om 'n politieke party te stig (a.19(1)(a)), maar desondanks word die stigting van 'n politieke party onderhewig gemaak aan allerlei voorskrifte en bepalinge van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Deelname van 'n gestigte party aan 'n nasionale verkiesing kan soveel as vyf honderd en veertig duisend rand beloop. Indien so 'n party nie 'n setel verwerf nie, word die deposito verbeur.
Die reg op vryheid van beweging en verblyf (a.21) maak dit wesenlik onmoontlik vir die owerheid om te beplan, want 'n persoon (of persone) en selfs gemeenskappe kan oornag besluit om van bv. 'n landelike gebied na 'n stedelike gebied te verhuis, sonder werk of vaste adres. Artikel 26 in sake die reg op toegang tot geskikte behuising moet met artikel 19 saamgelees word. Hierdie ongebreidelde reg werk die krotwoonbuurtes in die hand en is strydig met die reg op vrye beweging in moderne regstate soos Duitsland. In Duitsland is 'n persoon wat van een gebied na 'n ander verhuis verplig om by vertrek by die polisie af te teken en by aankoms in die nuwe gebied te registreer. Registrasie is net moontlik as daar bewys is van 'n vaste adres en werk. By registrasie word 'n "Ausweiss" of identifikasiedokument uitgereik; 'n dokument wat verlang word selfs by die huur van 'n DVD of aankoop van 'n motor.
Die reg op 'n vakbond (a.23(2)(a)), wat aan kollektiewe bedinging verbind is, gee aan arbeiders regte wat nie net tot nadeel van die land in die geheel kan strek nie, maar tewens die regte van werkgewers oorheers.
'n Knelpunt in die handves van regte is die eiendomsklousule (a.25). 'n Persoon kan sy eiendom ontneem word ingevolge 'n geldende regsvoorskrif of wet (a.25(1)) wat deur die owerheid van die dag uitgevaardig kan word. Ook die reg op eiendom is dus 'n relatiewe reg wat onderhewig aan die politieke ideologie gemaak word. Ook hier speel "regstellende aksie" 'n rol. Persone wat hulle eiendom in die verlede ontneem is, ingevolge bv. die beleid van afsonderlike ontwikkeling, kan binne die nuwe konteks weer daarop aanspraak maak (a.25(7)). Die owerheid-van-die-dag word nie verhinder om grond-, water-, en verbandhoudende hervormings deur te voer nie (a.25(8)).
Die reg van die kind (a.28) en die kind se beste belang na die oordeel van die howe kan die reg van 'n ouer oorwoeker. Soos bv. in die geval van die reg op aborsie kan selfs 'n twaalfjarige kind sonder ouerlike medewete of toestemming besluite neem.
Die reg op onderwys (a.29) is 'n knelpunt in SA. Die reg op onderwys in 'n openbare skool word onderhewig gemaak aan die onderwysorgane van die staat se oordeel of daardie onderwys "redelikerwys doenlik" is (a.29(2)). Insgelyks word diegene wat hulle kinders in "onafhanklike skole" wil plaas in die nadelige posisie geplaas dat daar nie 'n reg uitgeoefen kan word op belastinggeld vir die instandhouding van onafhanklike skole nie. Selfs aan openbare onderwysinstellinge word ouerlike organe in bestuursliggame onderhewig gemaak aan die politieke diskresie van 'n onderwysorgaan, soos in onderwyswette beliggaam word. Bestuursliggame word in feite substrukture van die onderwysorgane en daarmee word die onderskeid tussen organe van die burgerlike samelewing teenoor organe van die staat opgehef. Hierdie tendens is strydig met artikel 31(1)(b) wat duidelik verklaar dat persone nie die reg ontsê mag word om saam met ander lede van 'n gemeenskap hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie.
Terwyl die reg op taal en kultuur (a.30) geformuleer is, word Afrikaans en die ander inheemse swart tale onderhewig gemaak aan die owerheid se keuse van Engels as algemene bestuurstaal. Dít ten spyte van die feit dat daar elf amptelike tale is (a. 6).
Uit die bg. analise of dekonstruksie kom dit voor dat die beginsels wat in die handves van regte vervat is, nie fundamenteel is nie, maar relatief. Die relatiwiteit van die beginsels word beoordeel en bepaal deur die owerheid-van-die-dag. Indien 'n instelling van die burgerlike samelewing die owerheid-van-die-dag in die hoër howe en uiteindelik in die grondwetlike hof wil aanvat, gaan dit gepaard met 'n geweldige finansiële las om regspraktisyns en hofkostes te betaal. Ook in hierdie opsig word instellinge van die burgerlike samelewing in 'n nadelige posisie geplaas.
In 'n opvolgartikel sal besin word in hoe 'n mate die res van die grondwet aan die eise van 'n gedesentraliseerde en gedifferensieerde regstaat voldoen.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





