Die politieke onwil van die regering-van-die-dag om Hoofstuk 9-Instellinge van die Grondwet te rasionaliseer en daarmee miljoene Rand te spaar is duidelik.
Op 31 Julie 2007 het ‘n ad hoc-komitee van die parlement ‘n verslag van 265 bladsye oor die Hersiening van Hoofstuk 9 en geassosieerde instellinge die lig laat sien. Die verslag is teen 2009-11-18 nog nie ter tafel geneem nie. Intussen is nuwe kommissarisse by die Kommissies vir ‘n verdere termyn van 5 jaar aangestel. Die chaos duur voort!
‘n Wye aantal menseregte-instrumente maak deel uit van die 1993 en 1994 grondwette. Hierdie instellinge is in Hoofstuk 9 van die 1994 Grondwet vervat. Die doelwit van die instrumente is die volledige transformasie van die samelewing. Ook om grondwetlike regering in SA te versterk. Die instellinge sou onafhanklik van die regering funksioneer. Desondanks maak die betrokke Ministers aanbevelings aan die President en die President doen die aanstellings. Daar is dus duidelike politieke inmenging.
Tien jaar later besluit die regering dat ‘n veel-party ad hoc-komitee van die parlement die prestasies van die instellinge sou ondersoek. Die ad hoc Komitee moes vasstel of die uitkomste van die kommissies in verhouding is tot die finansiële insette.
Die volgende instellinge moes voorleggings maak en voor die ad hoc Komitee van die Parlement verskyn:
* Die Openbare Beskermer
* Die Menseregte-kommissie
* Die Nasionale Jeugkommissie
* Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuur-gemeenskappe
* Die Pan SA Taalraad
* Die Kommissie vir Geslagsgelykheid
* Die Ouditeur-generaal
* Die Finansiële en Fiskale Kommissie
* Die Verkiesingskommissie
* Die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid
* Die Staatsdiens-kommissie
Elkeen van bg. instellinge beskik oor ‘n presidensieel-aangestelde voorsitter en raad, asook ‘n hoofuitvoerende beampte, in terme van finansiële wetgewing en voorskrifte, asook ‘n eie administrasie.
Die algemene bevindinge van die ad hoc-Komitee is dat die begrotings deur een instelling in die parlement beoordeel moet word; dat die voorsitters van die Kommissies deur die instellings self aangewys word; dat daar uniforme kriteria gebruik word in die aanstelling van lede; dat ministers nie inspraak in aanstelling sal hê nie; en dat ‘n toesighoudende komitee by die Speaker gesetel sal wees en nie by portefeulje-komitees nie. Daar is ook bevind dat daar spanning en oorvleueling tussen die instellinge is en dat gesagslyne tussen die uitvoerende hoofde daarvan en die uitvoerende lede onduidelik is.
Aangesien daar elf instellinge ondersoek is en oor elkeen ‘n verslag uitgebring is, word slegs in hierdie artikel op die uitkomste van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Reg van Taal-, Godsdiens- en Kultuur-gemeenskappe gefokus. Die parlementêre verslag verklaar, onder meer, dat na vier jaar op daardie stadium in die bestaan van die 185 Kommissie:
* Dat die Kommissiewet, Wet 19 van 2002, nie verstaan is nie.
* Dat die werksverhouding tussen die voorsitter van die Kommissie en die kommissarisse nie uitgeklaar is nie en deur spanning gekenmerk word.
* Dat die gemeenskapsbegrip met betrekking tot gemeenskapsrade nie opgeklaar is nie.
* Dat die kriteria waaraan gemeenskapsinstellinge moet voldoen vir erkenning by die Kommissie nie geproklameer is nie.
* Dat te veel geld aan salarisse in verhouding tot die funksies van die Kommissie bestee word.
* Dat klagtes uit die burgerlike samelewing onvoldoende hanteer is.
By die skryf van hierdie artikel het ‘n verdere twee jaar verloop. ‘n Nuwe voorsitter en kommissarisse is sedert 1 Januarie 2009 aangestel. Dit wil voorkom asof kultuur-, godsdiens- en taal-instellinge - van ten minste uit die Afrikaanse taalgemeenskap – nie weet wat die Kommissie sedertdien doen nie.
Die onafwendbare konklusie waartoe geraak word is dat daar ‘n politieke onwil by die regering-van-die-dag is om die verslag van die ad hoc-Komitee van die parlement ter tafel te neem en die bevindinge te implementeer. Daar is ook ‘n laksheid om die Hoofstuk 9-instellinge sinvol te rasionaliseer, duplikasies uit te skakel en koördinasie te bewerkstellig. Sommige van die Kommissies, soos tewens die geval by die Kommissie vir Gemeenskapsregte, is hoofsaaklik indiensnemingsorganisasies, sonder behoorlike bestuur en uitkomste betreffende die bevordering en die beskerming van taal-, godsdiens- en kultuur-regte. Daar moet gevra word hoe die Kommissie meen om regte te bevorder en te beskerm as sodanige kultuur-, taal- en godsdiensregte na ses jaar van die bestaan daarvan nie by wyse van alternatiewe aktes – tot die individuele regte-akte van hoofstuk 2 van die grondwet - geformaliseer is nie. Kommissarisse sonder behoorlike kennis van grondwetlike regte en prosesse is aangestel en sonder diepgaande opleiding in openbare posisies geplaas, waarvoor hulle nie opgelei en doeltreffend is nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





