Dit is ‘n skokkende twintig jaar wat verby is, toe die Berlynse skandmuur spreekwoordelik geval het. So gaan die jare ongemerk verby! Stadig maar onverbiddelik.
Dit moet onthou word dat die 160 kilometer Berlynse muur van skande nie daar was om die kapitalistiese Wes-Duitsers uit te hou nie, maar om die gevangene burgers van die kommunistiese DDR in te hou. Insgelyks moet geboekstaaf word dat die muur nie geval het omdat die keiharde kommunistiese ideologie verkrummel het nie, maar juis omdat die ideologie van die kommunisme die toets om welvaart vir die bevolking te skep, miserabel gedruip het.
Enige ideologie wat ‘n greep op die vryheid en denke van ‘n beskaafde gemeenskap het, kan net bly staan as sodanige dogma sigbare welvaart, ekonomiese voorspoed en persoonsvryheid as uitkoms het. Wat dus vir die kommunistiese ideologie geld, geld ipso facto vir die ideologie van die huidige Suid-Afrikaanse politieke “teologie”. As welvaart ingeboet word, sal die huidige regime val. So seker soos die afbraak van die Berlynse muur.
Om die impak van Berlyn op die wêreldpolitiek te verstaan, moet goed onthou word dat Oos-Berlyn die spog-stad van die kommunistiese wêreld in die algemeen en van die Duits-Demokratiese Republiek (DDR) in die besonder was.
Dit moet Westerse politieke kortsigtigheid ten laste gelê word dat Duitsland na afloop van die Tweede Wêreldoorlog - soos die spreekwoordelike kleed van smarte van die gekruisigde Jesus - onder die alliansievennote geografies opgeveil en verdeel is. Die Unie van Sosialistiese Sowjet Republieke (USSR) het met Oos-Duitsland weggestap en hulle rug op die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk en Frankryk gedraai. Dit was die begin van die Koue Oorlog tussen Oos en Wes.
Die politieke etiek van lieg en bedrieg was eie aan die kommunistiese ideologie. So is die Duitsers vir geslagte lank daarvan beskuldig dat dit die Nazi’s was wat vyftienduisend Poolse offisiere vermoor het. Na die val van die USSR het dit geblyk dat dit Stalin se Bolsjewieke was. Iemand het daardie tyd geskryf dat ‘n kommunis vertrou kan word om ‘n kommunis te wees – verder niks! Daar is geen kollektiewe gewete nie, net propaganda.
Die USSR het die Duits-Demokratiese Republiek tot stand gebring: ‘n kommunistiese staat wat deur Duitse kommuniste onder toesig van die USSR regeer sou word. Die USSR het ‘n propaganda-strategie rondom die DDR ontplooi, wat waarskynlik iets met die briljante Duitse mentaliteit en vindingrykheid te make gehad het. Belangrik is dat die Duitse “volke” reeds in die eerste eeu van die opkoms van die Christendom ‘n reputasie vir tegnologiese innovasies, politieke vindingrykheid en welvaart gehad het. Potsdam, die hoofstad van die Brandenburg-provinsie, het bv. min of meer hier rondom 1992/93 die duisendjarige bestaan daarvan gevier.
Aan die ander kant was daar ‘n kenmerkende kommunistiese kortsigtigheid wat die basiese lesse van ‘n gesonde mensbeskouing buite rekening gelaat het. Die kommunistiese politici het geredeneer dat die diktatuur van die proletariaat, dus van die werkersklasse, die menslike ego tot selfverryking vernietig en dat die werkers hulle vryheid vrywillig aan die staat oorgedra het.
Die resultaat van hierdie mensvreemde ideologie op die DDR is dat die werkers hulle lus vir harde werk verloor het. Produktiwiteit het tot niet gegaan. Die infrastruktuur het gedisintegreer. Die paaie van die DDR het soos Suid-Afrikaanse weë begin lyk: vol slaggate.
Innoverende Oos-Duitsers het allerlei maniere uitgevind om die kommunistiese gevangenisskap te onvlug. Tonnels is gegrawe, lugballonne is ontwerp om Oos-Duitsers na Wes-Duitsland te neem.
In kort: met die val van die muur in 1989 was die Oos-Duitsers sowat 200 jaar agter die Wes-Duitsers.
Wes-Berlyn het egter soos ‘n blom in die woestyn oopgemaak en sy ware kleure gewys. Die infrastruktuur is gemoderniseer. Nuwe praggeboue - soos die Europa-sentrum – het in Wes-Berlyn die hoogte ingeskiet.
Selfs die verweerde geboue in Oos-Duitsland self, het soos die muur van skande geween oor wat een staat aan ‘n ander kan doen.
Die verrykendste gevolg van opeenvolgende generasies, het op twee soorte gemeenskappe gewys:
* Wes-Berlyners met ‘n sterk trek vir persoonlike en politieke vryheid wat welvaart nagestreef en geskep het.
* Die Oos-Berlyners wat kollektiviste geword het, sterk in hulleself gekeer is en met ‘n gebrek aan selfvertroue, het al die tekens van smart en rou vertoon.
Nie net in die oë van Oos-Duitsers nie, maar ook die donker, ongeverfde vaal-grys geboue van die kommunistiese argitektuur het saam met die muur self trane gestort en wanhoop uitgeadem.
Die groot vraag is of die verenigde federale Republiek van Duitsland en sy mense hulle nog gaan wreek op diegene wat hulle die politieke modder ingesleep het?
In 1992, toe ek met die vertrek van die Duitse President uit Bonn (die tydelike hoofstad) na Berlyn, die Suid-Afrikaanse Ambassade in Berlyn heropen het, is ek by geleentheid meegedeel dat daar veral in Oos-Duitsland ‘n groeiende Neo-Nazi-gevoel aan die ontwikkel is. Op daardie stadium is elke moontlike Joodse sinagoge in Berlyn deur die militêre opgepas. Van tyd tot tyd is rapporteer dat ‘n vark-kop by ‘n sinagoge gelaat is. Meeste nagklubs het geweier om gekleurdes toe te laat. Die Afrika-mens is soms van treine afgegooi ... en so sou ‘n mens kon aangaan.
Dit is soms moeilik om die waarheidsgehalte van beriggewing oor die Tweede Wêreld Oorlog te beoordeel. Die USSR het propaganda tot ‘n wetenskap ontwikkel. Die oorwinnaar het die geskiedenis geskryf en herskryf.
Wat egter vasstaan is dat die Duitse volk uit die as opgestaan het. Miljarde is in Oos-Duitsland spandeer om die Duitse wanbalans tussen Oos en Wes te herstel. In die Ooste is daar na dekades van verval weer gepleister en geverf. Die primitiewe Trabant-motortjies is met Mercedez en BMW’s vervang. Die telefoonstelsels is afgeskryf en met ultra-moderne tegnologie vervang. Winkels en restaurante het soos paddastoele in die Ooste oornag verrys.
Soos reeds geskryf, is die les van Berlyn dat ‘n volk nie onderdruk kan word nie, dat vryheid en welvaart ‘n basiese, fundamentele en onvernietigbare drang is wat elke mens, kragtens menswees, adem. Ja, ‘n politieke ideologie wat sy burgers verarm, is gedoem om onder te gaan. Dit is net ‘n kwessie van tyd!
| < Vorige | Volgende > |
|---|





