praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Eensames van die ortodokse geloof se godsdiensrewolusie

Eensames van die ortodokse geloof se godsdiensrewolusie

E-pos Afdruk PDF

In die soeke na 'n verdraagsame gespreksruimte het die Nuwe Hervormingsnetwerk (NHN) op 31 Oktober 2004 tot stand gekom. Op hierdie dag het 'n groep mense wat hulle rug op die ortodokse leerstellinge aangaande Jesus gedraai het in Centurion vergader, onderweg na 'n nuwe spiritualiteit. Met ortodoksie word bedoel dáárdie Christene wat die leer en lewe van Jesus, op patroon van die Grieks-heidense filosofie, vermitologiseer het. Dit is die Jesus wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig en vir die sondes van die mens gesterf het en sit aan die regerhand van God. Hierdie Jesus-idee het van ewigheid tot ewigheid geleef, het 'n mens met twee nature (God en Mens in een) en 'n middelaar tussen die mens en God geword.

Die NHN-samekoms is op 31 Oktober 2009 soos volg in herinnering geroep:

  • 'n Dagkonferensie van meer as honderd - klaarblyklik uitgelese ondersteuners van die Nuwe Hervormde Netwerk (NHN) - in samewerking met die Renaissance-gemeente van dr. Abel Pienaar, met as doelwit die "soeke na 'n eietydse spiritualiteit"; en
  • 'n artikel oor 'n gesprek van Neels Jackson (die Beeld-joernalis) met Pieter van der Merwe (die voorsitter van die NHN).

Merkwaardig is die feit dat Jackson van Beeld nie 'n woord oor die inhoud en uitkomste van die konferensie geskryf het nie.

Logos versus mitologie

Dr. Abel Pienaar van die Renaissance-gemeente het die konferensie ingelui met die tema van "ewolusie van spiritualiteit". Met eietydse spiritualiteit bedoel Pienaar 'n ruimte waar mense ontmoet en na wetenskaplike waarheid streef (die logos) en nuwe spiritualiteit (die mythos) vind.

Perspektief op Jesus van Nasaret

Die Ou Testamentiese geleerde en geestelike vader van die NHN, prof. Sakkie Spangenberg, het dit gehad oor die Jood Jesus. Spangenberg het pas 'n boek gepubliseer oor Jesus van Nasaret. Spangenberg verwys na 'n verskeidenheid van gepubliseerde werke wat 'n groot invloed op sy lewe het:

  • J.H. Charlesworth (1991) se Jesus' Jewishness: Exploring the place of Jesus in Early Judaism.
  • P. Kennedy (2006) se Modern Introduction to Theology: New Qustions for Old Beliefs.
  • G. Vermes (2001) se Jesus and the World of Judaism.

Soos die Nederlandse teoloog H.M. Kuitert, in sy Filosofie van de theologie, beklemtoon Spangenberg dat Jesus buite die konteks van die Judaïsme ondenkbaar is. Soos Bultman beklemtoon Spangenberg dat Jesus 'n Jood was en nie die eerste Christen nie. Vir Kuitert in sy Jezus: nalatenschap van het Christendom moet ware spiritualiteit verlê van Jesus na God. So gesien is die teologie van Spangenberg - op patroon van Kuitert "een terug-na-God-beweging. Jesus moet terug gebring word waar hy hoort as bystelling van God. Sonder dat Spangenberg na hom verwys, betitel James D. Tabor (2008) sy boek Restoring Abrahamic Faith. Tabor verklaar, soos Spangenberg, dat "the religion that finally developed into classic, orthodox Christianity, two to three hundered years after Jesus, is a radical departure from Biblical Faith (p.4).

Spangenberg tipeer die meestersverhaal van die Christendom as 'n verhaal in krisis, waarin kerklik gevormde mites aangaande Jesus in konflik met die werklike rol en lewe van die historiese Jesus verkeer.

Hierdie konflik tussen rede en geloof kom byvoorbeeld in die volgende teenstellinge na vore:

  • As Jesus ontvang is van die Heilige Gees, dan is hy nie die beloofde seun van Dawid nie. Dan moet die Messias nog kom.
  • As Jesus God is wat mens geword het, dan sit hy nie aan die regterhand van God nie, maar dan is hy God self.
  • As Jesus God is, dan het die duiwel God op die tempeldak versoek en is God gekruisig.

Spangenberg beroep hom op Hunt (Bringing God back to Earth, 2004) wat daarop neerkom dat 'n geloofwaardige Christendom vandag Jesus moet sien as 'n feilbare mens wat vanaf die wieg tot die graf mense inspireer om na sy voorbeeld goed te doen. Soos Küng glo Spangenberg dat weens die invloed van keisers Konstantyn (275-337) en Theodotius (346-395) en die uitwerking van die Grieks geïnspireerde konsilies van Nicea (325), Konstantinopel (381) en Chalcedon (451), is die Joodse Messianisme verander in 'n kerk van nie-Jode. Die Triniteitsleer verteenwoordig 'n punt in die ontknoping van die Christendom ingevolge waarvan die Christendom gemoduleer is op 'n heidense godsdiens, haal Spangenberg vir Kennedy (2006) met instemming aan.

'n Stem uit die gehoor gaan akkoord met Spangenberg en verklaar dat die mitiese Jesus van die kerkvaders en van die daaropvolgende Rooms-Katolieke teologie die logos aangaande die historiese Jesus so oorskadu, dat selfs die logos van die teologie 'n mythos geword het.

Die Thomas-evangelie as buite-Bybelse dokument

Dr. Piet Muller beklemtoon dat vroeg-christelike Nag Hammadi-geskrifte, soos die Thomas-evangelie, besig is om die hele begrip van die ortodokse Christendom radikaal te verander. Muller tipeer die Thomas-evangelie as 'n Joodse boek wat die geheime woorde van Jesus bevat en kontrasteer dit met die deurgaans Griekse boeke van die Nuwe Testament.

Die Thomas Evangelie bring die Koninkryk van God vanaf die transendente na die aardse terug. Die Koninkryk is in ons (verwysende na die hart of siel as setel van geloof) en om ons (in die werke van die mens). Die pad na heiligmaking is volgens Muller "onthutsend en eensaam", maar die blye boodskap van Jesus is dat ons almal kinders van God is.

Die les van alle godsidees van verskillende godsdienste

Prof. Kobus Kruger, voormalige departementshoof van Godsdienswetenskap aan UNISA, stel hom welwillend krities op teenoor alle religieuse rigtings en soek in alle godsdienste na 'n teorie wat in een omvattende raamwerk geakkommodeer kan word. Vir Kruger is godsdiens 'n menslike noodsaak.

Die hoorder kry die indruk dat die boodskap van Kruger daaruit bestaan dat die verskillende godsdienste kulturele verskynsels is wat as noodsaak uit menslikheid binne 'n bepaalde konteks en geskiedenis voortspruit. Godsdienste is antwoorde op die menslike situasie. In hierdie situasie speel lyding en dood asook eksterne gevare en die onbekendheid van die toekoms belangrike rolle. In al hierdie manifestasies kan die godsdienswetenskaplike belangrike raakpunte ontdek wat die ooglopende verskille oorbrug.

Oorsigtelik

Die boeiende wetenskaplike lesing van dr. Gerrit Genis oor die mens se plek in die kosmos het die boodskap verwoord dat 'n reis deur dieptyd en 'n stilstaan by die mikro- (klein) en makro- (groteske) realiteite waarin ons leef ons tot nederigheid dwing.

Ds. Gert Janse van Rensburg van die Renaissance-kerk het aangedui binne watter konteks hierdie algemeen teologiese en wetenskaplike besinning oor die mens en sy wêreld binne die konteks van sy geloofsverband kan manifesteer.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: