praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Christo Landman Selfbeskikking binne die konteks van die Menseregteakte van die Grondwet 1996

Selfbeskikking binne die konteks van die Menseregteakte van die Grondwet 1996

E-pos Afdruk PDF
In die daarstelling van selfbeskikking is daar twee kontekste wat verreken moet word: binne die grondwet of buite die grondwet.

Die bewandeling van die weg na selfbeskikking buite die raamwerk van die grondwet lei na donker situasies wat vooraf nie voorsien kon word nie.

Alhoewel die grondwet vol gebreke wat strydig is met die stereotipe dat die grondwet (1996) so fantasties sou wees, bied desondanks die gebreke daarvan tog skuiwergate wat gevolg kan word.

Om dinge te bemoeilik word die grondwet dikwels uit verband geruk.

Uitleg van die Grondwet:

Elke bepaling van die menseregte-akte moet in verhouding tot alle ander bepalinge van die grondwet uitgelê word.
'n Bepaling kan dus nie in isolasie of in abstraksie gelees word nie. Artikel 235 van die grondwet oor selfbeskikking moet dus teen die normatiewe/voorskriftelike agtergrond van die Menseregte-akte van die grondwet beoordeel word.

Onverdeelbaarheid van SA:

Reeds die Aanhef van die grondwet is deel van die grondwet en kan beskou word as 'n grondliggende bepaling.

Volgens die Grondliggende Bepalings, wat slegs met 'n 75% stem in die Parlement gewysig kan word (a.1), is SA "een ... demokratiese staat". SA behoort in die Aanhef aan almal wat daarin woon.

Gemeenskaplike burgerskap word in 3(1) beklemtoon.
Niemand mag sy burgerskap i.t.v a.20 ontneem word nie.
Die Grondwet in a.21 waarborg vryheid van beweging en verblyf.

In 235 word die reg op selfbeskikking onderhewig gemaak aan die reg op selfbeskikking van die SA-bevolking in die geheel daarvan.

Oppergesag van die Grondwet:

Die Grondwet verteenwoordig die hoogste reg (a.2).

Die Handves van Regte verskans die regte van alle burgers [a.7(1)], is van toepassing op die totale reg en is bindend op die staat en sy organe, op natuurlike persone en ook op regspersone [a.8(1)(2)].

Dit beteken dat die res van die grondwet en elke wat van 'n wetgewende liggaam binne die konteks van die Menseregte-akte gesien en beoordeel moet word.

Volkeregtelike gewoontereg word in a.232 ondergeskik gemaak aan die Grondwet.

Etlike bepalinge van die Grondwet word in 'n bepaling beperk, soos in a.9(2) in sake die bevoorregting van agtergeblewe gemeenskappe.

'n Bepaling van die Handves kan in a.36 deur 'n regsreel of wetsvoorskrif beperk word.
Dit beteken dat letterlik enige party – vanaf die HNP en VF tot die ANC en SAKP – ingevolge dieselfde grondwet kan regeer.

Die Grondwet maak in 234 wel vir bykomstige aktes voorsiening, wat deur die burgerlike samelewing opgestel en deur die Parlement aanvaar moet word.

Gelykheidsklousule:

A.9 is 'n verbod op diskriminasie maar bevoordeel agtergeblewe gemeenskappe in a.9(2) welke bepaling deur die ANC geïnterpreteer word as bedoelende swartes.
Dit is 'n ander vorm van werkreservering, met die verskil dat net die pigment se kleur verander het.
A.9 balanseer nie individuele regte met gemeenskapsregte uit nie.

Privatisering van regte:

Vryheid van godsdiens in a.15 word geprivatiseer in bv. godsdiensinstellinge [a.31(1)(b)] en in a.29(3) in onafhanklike onderwysinstellinge, sonder 'n juridiese plig op die staat op subsidie.

In die mate waarin godsdiens by staats- en staatsondersteunde instellinge [a.15(2)] beoefen mag word, lê die staat die voorwaardes vir deelname neer.

Die reg op taal en kultuur in a.30 en 31(1)(b) en op die vorming asook instandhouding van georganiseerde taal-, godsdiens- en kultuurinstellinge is 'n private aangeleentheid.

Selfbeskikking buite Hoofstuk 2:

Bepalinge buite hoofstuk 2 - soos in 235 oor selfbeskikking - moet binne die grondwetlike bepalings en menseregte-akte verstaan word en is met die owerheid onderhandelbaar maar is nie afdwingbaar nie.

Die reg op selfbeskikking van 'n taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskap is onderhewig aan die reg van die SA-bevolking op selfbeskikking en afhanklik van nasionale wetgewing (a.235).

A.185 maak voorsiennig vir 'n Statutêre (sg. onafhanklike) Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van

Gemeenskapsregte.

Hierdie gemeenskapsregte kan in Rade beliggaam word [a.185(1)(c)].

Instellinge van die burgerlike samelewing word in a.185 aangemoedig om taal-, godsdiens- en kultuur- en ander rade in privaatregtelike rade volgens Wet 19 van 2002 te formaliseer.

Artikel 185, as dit reg bedryf word – wat terloops nie die geval is nie – gee beslag aan privaatregtelike gemeenskapsregte.

Gevolgtrekking:

Die begrip gemeenskap in artikel 185 en Wet 19 van 2002 wat in rade manifesteer stipuleer wel kultuur, taal en godsdiens maar maak ook voorsiening vir ander rade welke ander rade nie gedefinieer word nie.

Die ander Rade waarvoor voorsiening gemaak word bied 'n skuiwergat wat op defilering wag.

'n Gemeenskapsraad - anders as 'n taal-, kultuur- en godsdiensraad - kan hom dus in terme van die grondwet self definieer, solank die definisie in direkte verband tot gemeenskapsregte (soos die reg op veiligheid, skoon lug, skoon water, ens.) staan.

Hieruit volg dat 'n de facto georganiseerde en geformaliseerde gemeenskap in Rade 'n beter kans staan op de jure erkenning as en wanneer die selfbeskikkingsideaal reeds verwesenlik is.

'n Raad wat nie erkenning by die 185 Kommissie het nie is kragteloos.

Omdat die 185 Kommissie onder ANC (swart) beheer is en die personeel volgens werkreservering aangestel is en die kommissarisse gemarginaliseer is, is dit vir ons doeleindes verlore.

Gevolglik sal die 185 Kommissie vir selfbeskikking van die ANC opgeeis moet word.

Die Grondwet is klaarblyklik vir verskillende interpretasies vatbaar.

Die interpretasie van die grondwet deur die ANC maak die politieke skikking nul en void, mbt:
· Die ontmanning van die Volkstaatsraad
· Die eensydige anneksasie van die 185 Kommissie
· Die nie-gedefinieerdheid van gemeenskapsregte
· Die vergete akkoord van 23 April 1994 met die VF
· Die doodswye van 235

My advies aan organe van die burgerlike samelewing is dus:
· Skop die grondwetlike deure oop
· Verklaar 'n dispuut met die ANC
· Verklaar die politieke skikking nul en void
· Definieer gemeenskapsregte en formuleer 'n akte vir gemeenskapsregte en voer dit in terme van a.234 in by die Parlement

Ek vrees nie die chaosmagte van die ANC nie, maar ek verval in depressie oor die pasifisme en politieke onbeholpenheid van die Afrikaner. Omdat 235 oor selfbeskikking in die parlement onderhandel moet word, is dit gewoon dom om die rug op die binne-parlementêre prosesse te keer.

Centurion
3 September 2011


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: