praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Vlad du Plessis Gevra: 'n Afrikanerbevrydingsbeweging

Gevra: 'n Afrikanerbevrydingsbeweging

E-pos Afdruk PDF
Image

Kragtige simbole is nodig
Suksesvolle rewolusies word gewoonlik gevoer deur ’n voorhoedeparty wat die onderdrukte bevolking verteenwoordig en daarna streef om so ’n bevolking se ideale te verwesenlik. Terwyl nie alle rewolusies deur die geskiedenis so verwesenlik is nie, is dit vir seker die mees doeltreffende manier om ’n doelgerigte rewolusionêre uitkoms te bereik. Die kommunistiese wêreld het hierdie beginsel met groot welslae toegepas. Die kommuniste het ook die sielkunde van massamobilisering goed begryp en met dieselfde mate van sukses benut. Hoewel ons ideologies in opposisie teen die kommunistiese ideaal verkeer, moet ons kommunistiese metodes waar nodig gebruik en nie as’t ware probeer om die wiel te herontwerp nie.

In die onlangse nasionalistiese rewolusies in voormalige kommunistiese (-gesinde) state (Oekraïne, Joego-Slawië, Georgië, ens.) is populistiese rewolusionêre beginsels met groot sukses teen daardie bewinde aangewend. Hierdie ervaring is in diepte bestudeer en gedokumenteer, in so ’n mate dat gebruikersvriendelike leesstof geredelik beskikbaar is om kitsrewolusionêre enige plek ter wêreld gou op te lei en te mobiliseer.

Vir ons as Afrikaners is daar nou ’n volledige databank van bronne beskikbaar om vinnig ’n volksbeweging tot stand te bring. Wat ons egter sal moet aanvaar, is dat die tradisionele wyses waarop ons ons mense sou mobiliseer (die klassieke partymodel, wat tradisionele denkwyses vereis) nie gaan slaag nie. Ons sal vinnig ’n breë beweging op die been moet kry. Die aanslag moet populêr wees. Terwyl intellektuele struktuur van deurslaggewende belang is, moet dit nie die algemene beeld van die organisasie wees nie. Inteendeel, dit moet eerder ’n tipe popkultuurbeeld hê. Die aanwending van sterk, populêre simbole is byvoorbeeld net so belangrik soos die goed  beredeneerde ideologie wat dit ondersteun. Simbole wissel natuurlik van die grafiese, tot musikale en verskeie ander. Die Otpor!- (Weerstand!-)beweging in Joego-Slawië en die Oekraïne het hierdie beginsels suksesvol uitgebuit.  Hier te lande het Solidariteit die lig gesien deur sy naam van MWU na ’n meer populistiese en algemeen betekenisvolle naam te verander. Ongelukkig het Solidariteit nog nooit die moed gehad om ten volle te kapitaliseer op die aantreklikheid van sy nuwe identiteit en die regime werklik die stryd aan te se nie.

’n Daadwerklike Afrikanerbevrydingsbeweging sal die moed aan die dag moet lê om wel hierdie (nie-gewelddadige) stryd te betree. Dit moet geensins skroom om die regime te verneder nie en moet bereid wees om dit op alle gebiede uit te daag deur ’n verskeidenheid populêre aksies, waarvan voorbeelde reeds so goed geboekstaaf is. Deur intellektuele krag te versoen met populêre beelde en simbole sal dit die Afrikaner vinnig aantrek en wêreldwyd die aandag op sigself vestig. Van kardinale belang, sal wees om alle Afrikanerorganisasies wat tans ideologies belyn is onder een identiteit te verenig. Dit sal daartoe lei dat genoegsame kapasiteit bestaan om ’n verskeidenheid aksies te loods. So ’n identiteit sal ’n sterk en verenigde beeld moet hê eerder as losse alliansies. Blote alliansies skep nie genoegsame struktuur en geloofwaardigheid om ’n verskuiwing in die magsbalans ten gunste van die Afrikaner (wat hou van struktuur) te bereik nie.

Ook die naam sal ’n kragtig verstaanbare en populêre aanspraak moet hê. Solidariteit het die Poolse Solidarnosc-vakbondbeweging nageaap in die skepping van sy nuwe identiteit. Solidariteit het egter nie dieselfde tipe ruggraat en morele krag as wat die Poolse vakbond, in sy stryd teen die kommuniste gehad het nie. Wat die naam (soos in die geval van Otpor!) bewys het, is dat bekenis sentraal staan, maar ook dat uitspraak, spesifiek kort lettergrepe, kragtig moet wees. Otpor! het verder gegaan deur ’n uitroep by te voeg. Lg. dui op dringendheid, aggressie (nie te skroom vir konfrontasie nie), selfversekerdheid en verteenwoordig sowel ’n aanspraak op die onderdrukte bevolking as wat dit ’n aanslag op die regime is. Terwyl dit vertroue en belangstelling by die onderdrukte publiek skep, kan die regime sien dat dit deur ’n vasberade opponent uitgedaag word.

Otpor! het ook bewys watter sukses behaal kan word deur die opponent se histories suksesvolle simbole direk oor te neem en te omvorm in die beweging se eie kleure, begrippe, ens. So het Otpor! die kommunistiese vuis binne die nasionalistiese bevrydingsideologie geherinterpreteer en toegepas. Dit het was onmiddellik en wyd byval gevind. Die kommunisties gesinde regime is geïrriteer, tot op die punt waar hulle toenemend foute begin maak het, omdat die bevrydingsbeweging so ligsinnig en uitdagend met die regime se heilige koeie omgegaan het. Ook het dit dadelik tot die massa en veral die jeug gespreek, wat gehou het van die sarkastiese rebelsheid daarvan. Onlangs het PRAAG ook daarmee geëksperimenteer om die kommunistiese ‘vryheidsvuis’ in oranje-blanje-blou te “nasionaliseer” binne die organisasie se Genoeg!-veldtog. Die publieke terugvoer wat tot dusver daaroor ontvang is, is oorweldigend positief. Kapasiteitsprobleme lê egter die implementering van die veldtog aan bande. Gesprekke is tans aan die gang met belanghebbendes en kundiges om die konsep op groot skaal suksesvol uit te rol.

Mobiliseringstegnieke hou ook sterk verband met die tydperk waarin die veldtog plaasvind. Waar openbare vergaderings nog slegs twintig jaar gelede een van die mees populêre maniere was vir ’n politieke beweging om met ondersteuners te kommunikeer, is daar vandag sms’e, webtuistes, eposse, potgooie (podcasts), ens. Amper elke jaar neem elektroniese kommunikasietegnologie kwantumspronge vooruit en skep daarmee nuwe moonlikhede vir kommunikasie en mobilisasie. Met die koms van digitale televisie sal dit moontlik raak vir ’n bevrydingsbeweging om enige plek ter wêreld programme via die internet na sy ondersteuners uit te saai. Geen lisensies of regulasies sal dit kan keer nie.  Die onlangse Oos-Europese nasionalistiese rewolusies het ook die werklikheid van kommunikasietegnologie goed besef en suksesvol aangewend.

Ook simbole is tydsgebonde. So was die kruithoring na die Tweede Vryheidsoorlog ’n  betekenisvolle mobiliserende simbool. Vandag egter , hou dit vir die Afrikanerpubliek amper geen betekenis nie. Die  rewolusionêre “bevrydingsvuis”(waarna vroëer verwys is) daarenteen is oor die jare deur Hollywood en die res van die populêre media as simbool van opstand gewild gemaak en verromantiseer. Terwyl die jeug van vandag grotendeels nie die oorsprong daarvan ken nie, spreek die vertoon daarvan onmiddellik tot hulle en met emosie. So is dit dan niks vreemds om bv. Bok van Blerk te sien vuis in die lug gooi terwyl hy “De la Rey” sing nie.

Terwyl ’n Afrikanerbevrydingsbeweging waarderend moet kyk na historiese simbole en tegnieke, moet dit veral entoesiasites omgaan met eietydse populêre maniere om mense te mobiliseer.

Om ’n verskuiwing in die magsbalans te verkry, gaan primêr om openbare persepsie. Indien die publiek waarneem dat die magsbalans verskuif het vanaf onderdrukker na onderdrukte, dan het dit in werklikheid gebeur. So ’n verskuiwing kan alleen deur ’n doelgerigte en radikaal gemotiveerde beweging bereik word. Bevryding is nie ’n saak vir ’n demokratiese organisasie/forum nie. Om lg. rede sal die ontwikkelende Afrikanerraad nooit meer as ’n “geselsforum” wees nie. Effektiewe mobilisering sal slegs deur ’n ideologies gemotiveerde, populêre Afrikaner-entiteit behaal word. Met die verwesenliking van so ’n beweging raak die behoefte vir ’n “Afrikanerleier” van minder belang. Die organisasie, sy simbole en aksies is die mobiliserende faktor en nie een of ander De la Rey–tipe figuur nie. Met sterk simbole en naam (argumentsonthalwe: Vryheid!), ’n ideologies geïnspireerde bestuur, doeltreffende openbare optrede en kommunikasie, sowel as die bereidwilligheid om ’n breë aantal ideolgies belynde entiteite saam te snoer, kan ’n populêre Afrikanerbeweging vir die ANK-regime  daadwerklik opdraand verskaf.

As Afrikaners hang ons vryheid nie van ons getalle af nie, daarvoor is ons te min. Ons vryheid hang af van die mate waartoe ons bereid is om uit ander se ervaringe te leer, ons gesonde verstand te gebruik en populêre en beproefde konsepte by ons eie omgewing aan te pas en strategies te implementeer.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: