In my vorige rubriek, waarvan hierdie een die vervolg is, het ek gereken dat die meeste Afrikaners so gedemoraliseerd is dat hulle in ’n dekadente styl van materialistiese vergrype en sinlose rituele soos georganiseerde sport hul toevlug vind. Hulle het een geword met die wêreldse verbruikerskultuur wat wentel om handelsmerke en laekwaliteitinligting. In die woorde van Johan Wingard is hulle eintlik internasionale zombies.
Johann Rossouw het onlangs in sy By-rubriek ’n akkurate analise gegee, waarin hy verduidelik dat die Afrikaner se verlies aan identiteit en gebrekkige aanhang van die huidige bestel se simbole die gevolg daarvan is dat hulle in der mate deur die ANC vervreem is dat hulle hul simbolieke tuiste in wêreldse aspekte soos handelsmerke en verbruikersgoedere gevind het. Dit dui myns insiens voorwaar op ’n volk in verval en kan sekerlik net as dekadent beskryf word. Dit is nie die gebrek aan respek vir die simbole van die huidige bestel wat my dit laat kwytraak nie, maar eerder die onvermoë om eie simboliek te herontdek. Ek wil Rossouw se voorbeelde net ietwat uitbrei na die Afrikaner se fenomenale obsessie met georganiseerde sportsoorte soos rugby en krieket. Dit is dan ook by sulke internasionale geleenthede dat eie waardigheid juis verder opgeoffer word deur die onderbroekvlag in obsessiewe ondersteuning vir die sportgode te waai.
Tydens provinsiale wedstryde word kitsch (ek wil amper sê obsene) simbole wat hul spanne verteenwoordig, met vibrerende entoesiasme by motorvensters en op pawiljoene rondgeswaai. Nie net is die heraldiek van die simbole aan die absurde kant nie, maar die ontwerpe is verbeeldingloos, soos die “Bulls“ se Texas-tipe bulhorings wat in hul driedimensionele vorm perfek sou pas op die enjinkap van ’n 1976 Cadillac De Ville, te vinde in die strate van New York se krotbuurtes. Dít is die nuwe nasionalisme. Hierdie is hulle trotse simbole ... ’n Volk verdiep in die oppervlakkighede van die materiële en boonop met swak smaak uitgestal ... ’n Volk met geen werklike trots of enige vatbare etniese bewussyn nie. Deur die NP uitverkoop en deur die ANC afgebreek tot die status van ondenkende, identiteitslose en materialistiese ghwarheid.
Die De le Rey-fenomeen is niks meer as die patetiese laaste geroggel van ’n sterwende, siellose liggaam nie. Selfs daardie nou befaamde Bok kruip agter sy politieke base se onderbroekvlag weg.
Instroming oor ons noordelike grense, plakkery, ’n de facto rasse-oorlog teen die blanke burgery, korrupsie, ineenstortende infrastruktuur, voortdurende verguising, ’n dreigende swart burgeroorlog en nog heelwat meer is alles op die ANC se spyskaart vir die Afrikaner, maar laasgenoemde steek sy kop net dieper in die materiële sand in.
Dan is daar die ander kant. Die minderheid wat sien wat om hulle aangaan. Meestal die denkendes waarvan baie oor uiters waardevolle vaardighede beskik. Met geen hoop dat daar hier ter plaatse ’n klaarblyklik lewensvatbare alternatief bestaan nie, stroom hulle nou na voormalige Britse kolonies in ’n patroon wat net as ’n eksodus beskryf kan word.
Kan mens hulle blameer? Ek reken nie. As jou mense nie die wil het om op te staan uit die modderpoel nie en jy kan elders jou voete op vaste grond vind, dan is hierdie individualistiese opsie dalk die uitweg vir die oorlewing van jou en jou gesin. Maar dit kom teen ’n prys. Behalwe vir kultuurskok sukkel baie immigrante finansieel in hul nuwe tuislande. Toe ek self daardie opsie in 1997 probeer het, het ek deeglik vertroud geraak met die omstandighede van die Afrikaners in Nieu-Seeland. Ek, met my nagraadse kwalifikasies, was so gelukkig om ná drie maande ʼn werk te kry as karweier van meubels in ʼn tweederangse meubelwinkel. In hierdie geval het karwei nie met ’n trollie geskied nie, maar was dit meer ʼn “optel en dra” storie ... Met ’n chroniese nekprobleem het dit maar sukkel-sukkel gegaan.
Volgens my rowwe berekening word ongeveer 70% aan haglikheid in die buiteland oorgelaat. Die eerste vraag van enige werkgewer is gewoonlik: “Do you have Kiwi/Aussie experience?” Mens is gemarginaliseerd tot werkloosheid of, as jy gelukkig is, tot die rand van die ekonomie. Voormalige professore wat petrol pomp by vulstasies, voormalige top uitvoerende korporatiewe beamptes wat rakke regpak in Food Town, huisvroue wat septiese hospitaallinne was, vorm alles deel van die groener weivelde.
As jy jou kwalifikasie aan sekere SA universiteite ná ongeveer 1997 behaal het, kan jy ook maar daarop reken dat dit waarskynlik nie erken sal word nie. Behuising vir hierdie ongelukkiges is lae kwaliteit strukture in swakker areas wat uit die nuwe tuisland se sosialistiese periode van die 60’s tot 80’s dateer. Baie van hierdie mense smag daarna om na Suid-Afrika terug te keer, maar na wat? Hulle het omtrent al hul bates gespandeer in die maande van werk soek en op die broodlyn leef. Hoe kom jy terug na die NSA met niks in die sak nie en met die wete dat jy as blanke nie ’n werk sal kry nie? In patetiese pogings om hul lewens te verbeter, gryp sulke mense desperaat na vernederende piramiedeskemas soos Amway.
So wie is die suksesvolle dertig persent? Hulle beskik oor die vaardighede wat Suid Afrika die meeste nodig het. Dit sluit in mediese dokters, geoktroieerde rekenmeesters, verpleegsters, onderwysers, ingenieurs, sielkundiges, geregistreerde welsynswerkers, IT-kundiges, sekere ambagslui, asook mense met ander uiters skaars en unieke vaardighede. Maar, onthou dat heelwat van hierdie beroepslui moeilike hertoelatingseksamens moet skryf alvorens hulle daar kan werk. Hierdie mense voer ’n aanvaarbare lewe “daar oorkant.” Ek, wat met my eerste poging bykans geen noemenswaardige werkservaring gehad het nie, is nou gelukkig om ook in een van hierdie kategorieë te val en ek erken reguit dat ek tans weer die moontlikheid van emigrasie ondersoek, want ek is nie bereid om saam met die materialistiese zombies in hierdie Afrika-sinkgat te verdwyn nie.
Vir diegene wat emigrasie oorweeg kan die volgende wenke dalk nuttig wees:
• Daar is ’n uiters strawwe puntestelsel vir al hierdie lande. As jy nie die afsnypunt maak nie, moenie eers oorweeg om aansoek te doen vir ’n permit of verblyfreg nie.
• Pasop vir sogenaamde emigrasiekonsultante wat jou gaan melk vir elke sent wat hulle kan. In sommige gevalle is hulle so gierig dat hulle selfs rekeninge hef vir elke e-pos wat jy aan hulle stuur of wedersyds! Dit is die verskuilde kostes wat nie as deel van die amptelike “fooi”, wat reeds etlike duisende beloop, aangedui word nie.
• Reël jou onderhoude met potensiële werknemers voor jy vertrek. As jy so tien onderhoude kan kry, is jy aan die veilige kant. As jy nie onderhoude kry nie, of te min kry, heroorweeg jou besluit om te skuif. (Ek verwys na onderhoude met werkgewers en nie werksagentskappe nie. Laasgenoemde kan jou wel help om werklike onderhoude te verkry).
• Sorg dat jy genoeg geld saamneem om jouself en jou gesin vir ten minste drie maande tot ’n jaar (afhangende van jou arbeidsmarkwaarde) te onderhou. Ek het selfs hoogs gekwalifiseerde mans gesien wat al vir drie jaar werkloos was. Onthou die Rand is baie swak teen die Australiese en
Nieu-Seelandse dollars.
• Wees vriendelik en beleefd. Hulle vind ons baie maklik aggressief sonder dat dit ons bedoeling is.
• Neem in ag dat jou kultuur nie daar gaan oorleef nie. Jou kinders gaan onmiddellik begin verengels en jou kleinkinders sal jou nie verstaan nie.
• Neem ook in ag dat sommige mense baie na Suid-Afrika terugverlang.
• Verder moet jy jouself daarop voorberei dat meeste immigrante nooit daarin slaag om op sosiale vlak met die gemeenskap in hul nuwe tuisland te integreer nie. Hulle bevind hulself dus in Afrikaner-klieks wat oor dekades wegkrimp terwyl hul kinders wel Aussies of Kiwi’s word. Jy bly ʼn vreemdeling in ʼn ander se land. Die Boere van Patagonië dien as perfekte voobeeld. Anders as die Jode het ons nie ’n unieke geloof wat ons kultuurgroepering onbeperk in die vreemde laat voortleef nie. Afrikaans is nie ’n geloof nie. Dit is ’n kommunikasiemedium wat in die vreemde nie van waarde is nie en dus nie oorleef nie. Tans word sulke buitelandse Afrikanergemeenskappe nog aangevul deur die konstante eksodus van Afrikaners, maar neem in ag dat die poel van Afrikaners wat in staat is om die land te verlaat vinnig besig is om te krimp en so sal die aanvulling van daardie gemeenskappe stop. Tyd sal dan daardie gemeenskappe mettertyd tot niet maak.
Emigrasie kan vir jou ’n wonderlike suksesverhaal wees of dit kan die grootste tragedie in jou lewe raak. Baie verval in depressie. Ek het selfs gesien hoe gesinne uitmekaar spat weens die desperaatheid, maar dan het ek ook mense gesien wat markwaarde gehad het en net van krag tot krag gegaan het. Dit kom alles neer op jou waarde in die arbeidsmark en hoe sterk jou geliefdes is wat jy saamneem.
Doen baie navorsing voor jy gaan en sorg dat jy weet wat om te verwag. Onthou ook dat net omdat jy kwalifiseer en dalk ’n goeie lewe daar kan voer nog nie noodwendig genoegsame rede is om tasse te begin pak nie. Daar is wel ander opsies hier ter plaatse. Dinge met unieke Suid-Afrikaanse intrinsieke waarde gaan jy gewis daar verloor.
Laastens is dan ook daardie denkendes onder ons wat nie deel van die meerderheid materialistiese rugbymalkultus is nie en wat dalk glad nie wil emigreer nie. Sommiges van hierdie Afrikaners kan waarskynlik ingevolge die puntestelsel kwalifiseer, ander nie, maar hulle het een ding in gemeen en dit is dat hulle hier wil bly. Hiermee is ook niks verkeerd nie. Diesulkes hoef nie in die Afrika-sinkgat, saam met die res van die NSA weg te sink nie, en beslis ook nie in die internasionalistiese zombie- kultuur op te gaan nie (die zombies se dae is in elk geval getel) ... Wat ek in gedagte het kan met ʼn mate van wilskrag die uitweg vir hulle wees en ek dink daar is potensiaal, maar meer daaroor binnekort.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





