praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Vlad du Plessis Een minuut oor twaalf

Een minuut oor twaalf

E-pos Afdruk PDF
In 1982 het ek vir my ouers gesê dat ons die land moes verlaat en na Australië moes trek. In daardie dae was dit net PFP-gesindes wat vies was vir die apartheidsregering wat padgegee het, hoewel ’n kleiner groepie Afrikaners toe reeds die skrif aan die muur gesien het en begin het om die land te verlaat. My pa, ’n mediese chirurg, en my ma, wat onderhoof van ’n laerskool was, sou maklik tot Australië toegelaat word. Ons het menige aand hieroor gestry. Wanneer my ouers moeg geraak het vir my hardkoppigheid was die antwoord gewoonlik: “Die Bantoes gaan nie vannag oorneem nie; gaan slaap nou liewers.”

Hulle het my konstante gesanik oor Australië maar as die kinderlike obsessie van ’n 14-jarige gesien. Ek is uiteindelik gepaai met ’n pragtige panoramiese prent van die Sydney-operahuis wat in my kamer opgehang is. Dit was egter net olie op my vuur.

Hoewel ek hulle toe al gewaarsku het dat ’n swart regering binne tien jaar sou oorneem (ek was so 2 jaar uit met my berekening) en dat so ’n regering ons nie goedgesind sou wees nie, het hulle, soos meeste Afrikaners in daardie dae, geglo dat so iets onmoontlik was. Ek blameer nie vandag my ouers nie, want hulle was soos die meeste mense nie werklik polities ingestel nie. Soos baie Afrikanermans was my pa meer versot op sy geliefde sport rugby en my ma was op haar beurt baie doenig met haar werk en lewendige sosiale kring.

In die dae van PW Botha se ryk het die Afrikanerdom onoorwinbaar voorgekom. Enigiemand wat net beweer het dat die land eendag ’n swart president sou kry, is summier uitgelag, as kommunis bestempel of as effe van lotjie getik beskou.

Toe ek teësinnig begin deelneem het aan kadette is ek erg deur ons onderwyser betig: “Wat is fout met jou?” wou hy weet. “Nee, daar is nie fout nie,” het ek geantwoord. “Ek gaan Australië toe, en daar is nie Bantoes en dus ook nie kadette nie.” Hy was verbysterd.

My mede-leerlinge, in een van daardie gesogte Paarlse skole, het my menige kere uitgelag, en sommige onderwysers het gedink ek is ’n kommunis of selfs ’n AWB-fanatikus. Wat hulle nie verstaan het nie, was dat ek die land se toekoms en ons oorlewing hier werklik gevrees het. Dat anders as hulle, ek ’n donker wolk uit die noorde sien aankom het. Vir my was dit egter duidelik dat die lewe vir hulle net om die onmiddellike gegaan het. Hulle kon nie verder as die volgende rugbywedstryd sien nie. Ironies genoeg woon daardie slimmes wat die lekkerste gelag het en intussen dokters geword het, vandag in yskoue Kanada.

Selfs toe die verraaier De Klerk op Rooi Vrydag sy nou reeds beroemde aankondiging gemaak het, was daar miskien onder Afrikaners ’n mate van ongemaklikheid, maar is daar gou weer berusting gevind in die wete dat die NP die land nooit aan die swart massa sou oorgee nie.

’n Jaar gelede het Suid-Afrikaanse koerante die mening uitgespreek dat die Zimbabwiese ekonomie (wat toe reeds ’n inflasiekoers van 1000% had) op die rand van ’n ineenstorting was. My reaksie was dat die ineenstorting reeds plaasgevind het en dat hulle nou bloot d.m.v. onwettige immigrante in SA op ons ekonomie parasiteer. Zimbabwe se “ekonomie” is dus net ’n patetiese verlengstuk van ons eie. Ek lees so twee weke gelede in die befaamde Business Day dat die inflasiekoers in ons buurland nou op 15 000% staan, “op die rand van induiestort.” Daaroor kan mens net jou kop skud.

Hierdie week emigreer my broer, ’n mediese doktor van Kaapstad (daardie laaste hoopvolle vesting van blankedom in Suid Afrika) na Australië. Die verhuisingsmaatskappy vertel hom dat hulle (en dit is net een maatskappy) per maand 30 gesinne van Kaapstad buiteland toe verskuif. ‘n Vriendin verlaat Pretoria vir die Verenigde Koninkryk en haar verhuisingsdiens vertel weer dat hulle gemiddeld 120 gesinne per maand buiteland toe verskuif. Gister het ek my rekenmeester in Pretoria besoek. Hy het erg bekommerd gelyk. Ek vind toe uit dat dit nie my finansies is wat hom kwel nie, maar die feit dat soveel van sy kliënte die land verlaat dat hy ongemaklik oor die toekoms van sy besigheid begin voel. ’n Ander aspek wat hom pla, is dat so baie van sy kliënte ten duurste SEB-vennote in diens moet neem. Hierdie vennote voeg egter geen waarde toe en die een besigheid na die ander maak toe weens die parasiet wat die gasheer leeg suig.

Op pad huis toe vanaf die rekenmeester in Pretoria sien ek gistermiddag hoe swart massabehuising in die noord-ooste van Pretoria verrys. Op die snelweg val die aantal swartes agter die stuurwiele van BMW’s, Mercedese, Audis en ander eksklusiewe motors my op. Daarna draai ek op die Albertina Sisulu-hoofweg (wat op aarde het Mama Sisulu van siviele ingenieurswese verstaan?) om verby die OR Tambo-lughawe suidwaarts huis toe te ry. Ek neem toe die agterpaadjies via Boksburg na Germiston en ry daarna verby nimmereindigende plakkerskampe (van meesal onwettiges) wat drie jaar gelede nie daar was nie. Uiteindelik kom ek by die huis aan om deur my pragtige Prinsevlag, wat teen die fasade wapper, begroet te word. Vir ’n oomblik het ek asem geskep, maar terselfdertyd ook besef dat die koeël deur die kerk is.

Gereeld sê ons vir mekaar dat ons nou vinnig iets moet doen “want daar is min tyd oor.” Ek meen egter dat die tyd reeds verby is … Daar is eenvoudig nie meer tyd oor om Afrikaners op te roep om op een of ander vorm van outonomie aan te dring nie. In 1994 was hier ongeveer 5,5, miljoen blankes in SA. Ons is nou maar ongeveer 3,8 miljoen. Intussen het die swartes met ongeveer 12 miljoen toegeneem. Ons stede is deurweek met swart plakkerskampe en laermiddelklas swart behuisingsprojekte.

Die kans is verspeel en ons het hierdie rondte verloor. In sy wêreld van luukse winkelsentrums, sy viertrekvoertuig, DSTV, Supersport en rugby, sit die Afrikaner onbewus daarvan dat sy tyd verby is. Die horlosie het oorgeslaan. Dit is nou een minuut na twaalf.

My ma vertel dikwels hoe, toe sy nog ’n kind was, hulle op die Bolandse dorp waar sy grootgeword het noodoefeninge moes doen. Almal moes ’n sekere tyd in die aand ligte afskakel. Klaarblyklik is daar gevrees dat indien die veldslae van die Geallieerdes in Noord-Afrika sou misluk, die Axis-magte dan Suid Afrika sou teiken, soos wat die Japannese met Darwin, Australië, gedoen het. Haar pa (my oupa), wat ’n Duitse simpatiseerder was (hy het Berlyn in 1932 besoek en verlief geraak op die stad), was uiters depressief toe die berig per draadloos kom dat Unter den Linden platgeskiet is. My ma wou in haar kinderlike naïwiteit weet: “Waarom is Pa so ontsteld daaroor? Dis immers die vyand.” My oupa het geantwoord: “My kind, wat vandag vernietig is, is ’n enorme verlies vir die ganse wêreld.”

Maar Oupa, wat ’n denkende mens was, het ook oor ander sake depressief geraak. My ma vertel dat hy af en toe onder die veranda gaan sit het en dan voor hom uitgetuur het ... My ma (die ewige optimis) sou dan vra: “Waarom is Pappa so neerslagtig?” Waarop Oupa sou antwoord: “My kind, ek is baie bekommerd oor julle en jul kinders se toekoms in hierdie land. Die swartes gaan nog ’n groot probleem in julle toekoms word. Daar is ’n vloedgolf op pad na ons stede en daarmee saam gaan enorme probleme kom.” Te verstane was my oupa verheug toe dr. Verwoerd aan bewind gekom het. Oplaas iemand met insig en ’n plan! Die sluipmoord op Verwoerd het hom egter so ontstel dat hy ’n week later aan ’n beroerte oorlede is.

Ek het nooit my oupa geken nie, maar voorwaar glo ek dat hy insig in ons situasie gehad het. Ek probeer nie hiermee te kenne gee dat ek Oupa se insig oorgeërf het nie, maar soos ek verstaan was hy ’n belese man wat homself op hoogte van gebeure gehou het. Ek glo dit is elkeen se plig om dit ook te doen. Tog weet ons dat slegs ’n klein persentasie van ons hiervan werk maak. Dit moet hier egter nie net om die kommunikasiemedia (boeke, TV, Internet, ens.) gaan nie; ons moet ook die wêreld om ons “lees” en interpreteer.

Wat sê die werklikheid vir jou?

Vandag meen my ouers: “Het ons maar net vroeg in die tagtigs na jou geluister...” My antwoord aan hulle is wat ek glo ons almal nou moet begin begryp: Ons gaan die massa materialistiese Afrikaners nie wakkermaak nie, hulle gaan waarskynlik op tragiese en dalk katastrofale wyse wakkergeskok word, maar ons wat die werklikheid begryp, wat besef dat ideologiese beïnvloeding van die Afrikaner ’n verlore saak is, moet nou kyk na wat te redde is en hoe dit gedoen kan word. Nóú moet ons die realiteit in die gesig staar en ophou droom.

Maar meer hieroor volgende week.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: