praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Vlad du Plessis Boikot skandmuurseminaar

Boikot skandmuurseminaar

E-pos Afdruk PDF

Met die sg. Vryheidsparkstigting se beoogde seminaar (georganiseer deur Vryheidsparkdirekteur Wally Serote)  oor die Skandmuur (sg. Muur van Herinnering) en moontlike insette deur Afrikaners, berei die ANC nog ’n hinderlaag voor waartydens daardie organisasie die Afrikaner kan verneder.

Die regime probeer Afrikaners hierby betrek deur te kenne te gee dat dit die een of ander konsensus oor die aangeleentheid nastreef. Ons weet reeds waar konsensuspolitiek die Afrikaner gekry het. Beide Piet Retief en FW De Klerk se pogings om konsensuspolitiek in Afrika te bedryf het tragiese  en vernederende resultate opgelewer wat, sowel in 1838 as tans in die anargistiese NSA, tot katastrofes aanleiding gegee het. Danksy FW De Klerk en Roelf Meyer se geloof in konsensuspolitiek  leef die Afrikaner vandag onder ’n Afrikanistiese tirannie van die meerderheid.

Net ’n kort rukkie gelede het die Minister van Landbou, Lulu Xingwangwa, gepoog en daarin geslaag om die TLU-SA en AgriSA in ’n vernederende hinderlaag te lei. Dit het sy gedoen deur haar beraad met hulle skelm, vooraf, te laai met allerlei Boerehaatorganisasies. Natuurlik was hierdie sessie bloot daarop gemik om die boere verder te verguis. Iewers tydens hierdie  verbale aanslag sou sy dan kamstig die boere 10 minute gee om hulle saak te stel. In werklikheid was dit eerder ’n boendoehof as ’n beraad.  Dit het die minister, in haar sluheid, aangevang ondanks (of dalk eerder juis omdat) die boere met haar wou vergader weens plaasmoorde sowel as oor haar haatstokery jeens hulle. Die edele here van die TLU-SA en AgriSA het gelukkig gou gesnap wat besig is om te gebeur en het die minister ’n belediging toegesnou deur uit die vergadering te loop. 

Indien die boere, uit vorige ondervindings, sou leer dat die regime telke male leë beloftes aan hulle maak, sou hulle dalk nooit die vergadering geskeduleer het nie.  Dan, soos dit hoort  in gevalle van haatspraak, sou hulle reguit hof toe gegaan het . Die goedgelowigheid van ons mense en ons leiers is wat keer op keer tot ons vernedering lei.

Indien die selfs meer goedgelowige kultuur-omies in grys pakke egter besluit om wel Serote se sirkus by te woon sal hulle - op welke manier ook al - deur die ANC om die bos gelei en verneder word. Die probleem is egter dat, nie net hulle nie, maar ons ganse volk elke keer so verlaag word. Enige Afrikanerleiersfiguur met die geringste mate van respek vir hom/haarself en sy/haar volk sou nou reeds die rooi ligte sien flikker en weg bly van nog ’n ANC- koöptasiesessie. Indien die goedgelowige omies egter wel besluit om te gaan, wat sou hulle kon hoop om te vermag? Waarskynlik sal hulle bitter min reg kry en vernederd met leë hande huistoe gaan. As die omies egter baie "gelukkig" is, sal die regime hulle koöpteer deur toe te laat dat die gestorwe blankes/Afrikaners (uit die apartheidsjare) se name ook op die Skandmuur geplaas word. Maar is dit wat die volk wil hê? Wil ons regtig hê dat ons mense wie se lewens geneem is, herdenk word saam met die lafaards wat  Afrikanervroue en -kinders opgeblaas het, maniakke wat hul eie mense gehalsnoer het, Kubaanse soldate, Oos-Duitse  kommuniste en al die ander drek wat die  sg. ‘Struggle’ opgelewer het? Is dit hoe ons ons gestorwe helde wil vereer?

Na my mening is daar net een benadering wat vir enige regdenkende Afrikaner met selfrespek aanvaarbaar sal wees. Sloop die ding! Waarom moet ons hoofstad ontheilig word met hierdie verering van boosdoeners?

As die goedgelowige omies wil gaan sirkus hou moet hulle net een ding in gedagte neem. Die volk se gemoed is aan die skuif…Gaan praat maar met die ANC, maar onthou dat julle nie namens die volk praat nie, maar bloot namens julleself. Niemand het julle ’n mandaat gegee om daar te wees nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: