Arme professor Fourie.
Arme professor Fourie.
Nee, dit pas nie in nie.
Kom ons probeer: Arm’ professor Fourie.
Werk ook nie.
Wat ek probeer doen, is om "Arm’ professor Fourie" te neurie op die deuntjie van "Poor Professor Higgins" uit almal se gunstelingmusiekkomedie uit Hollywood se goue era, Lerner en Loewe se "My Fair Lady".
"Arme professor Higgins," sing dié akademikus se huishoudpersoneel terwyl hulle verbouereerd deur sy herehuis fladder. Hulle is besorgd dat Henry Higgins gaan uitbrand in sy poging om Eliza, die blommemeisie, te herontwerp as 'n lid van die adelstand wat volmaakte Engels met die koning se aksent praat. Hulle stof af en rig in en berei voor. Hulle skink tee, dra whiskey aan, laaf, vir al wat ons weet, met suikerwater. Agteraf gons hulle benoud in hulle kwartiere. Laatnag kriewel hulle onrustig deur die gladde, koel verdiepings van die herehuis, ongesmuk in hulle Edwardiaanse kamerjasse en slaapmusse, besorg, ontsteld, ontwrig...
Maar hier is 'n teendraadse ironie in die personeel se frenetiese optrede, beduie regisseur George Cukor se kamera. Die een wat die stang moet vasbyt in die herontwerp van die straataster is nie die bejammerde professor nie, maar die arme Eliza self. Sy word gedwing om deur eindelose repetisie haar stram tong en onbuigsame kakebeen om die vokale en konsonante van hoër Engels te kry.
Hierdie is die era – vroeg in die twintigste eeu – wat anatomie, taalkundige teorie en tegnologie in 'n soort botsing van oorywer saamsmelt. So die professor, altyd op die spits van akademiese drif, laat Eliza, byvoorbeeld, voor die trompetmikrofoon van 'n wassilinderopnemer staan om die onderdele van saamgestelde klanke naboots. Dit klink vreeslik, soos iets tussen die bulk van 'n gestrande walrus en 'n jong jakkals met intense, onverwerkte emosies: "Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU!"
Uur na uur na uitmergelende uur. Dis waaruit haar lewe nou bestaan. Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU! totdat haar tong voel of dit verstuit is en haar kakebeen asof dit in die potjies uitgewerk is, en dit alles in 'n vreemde, kil, onontvanklike omgewing.
Soms is Higgins se onortodokse metodes baie moeilik om te sluk, letterlik. Hy stop Eliza se mond vol albasters en laat haar dan oefen om te praat. Natuurlik sluk sy toe een van hulle en ons kan die stremming daarvan amper aan eie nek voel as dit in Eliza (vertolk deur die verruklike maar tengerige Audrey Hepburn) se keel afbeur. Terwyl dit biologiese openinge en kanale ooprek, sny dit ook tydelik belangrike toevoere boontoe af en die arme Eliza se oë traan en rek so rond soos die ghoen self.
"Geen probleem," beduie die professor in wat die kyker onverwags maar heeltemal te gou as bemoediging aansien. "Ons het nog baie." En daarmee, met sy eie nimlike ongeërgdheid vul hy die voorraad albasters in die verbysterde Eliza se mond met 'n nuwe aan. Hierdie akademikus word nie van stryk gebring nie.
Terwyl Eliza wankel van uitputting voor die trompetmikrofoon en die ontstelde bottelier, huishoudster en skoonmakers rondskarrel, gaan Higgins die goedgedrilde gang van die oujongkêrel wat verdiep is in sy studieveld. Ons sien hom op 'n trapleer voor die rakke boeke in sy biblioteek, met skedel en meetklamp in sy hand besig om te futsel met een of ander frenologiese vraagstuk... of hy sit en skerts met sy vakgenoot, kolonel Pickering of sit en sluimer in 'n gemakstoel met sy voete op 'n ottoman en sy tweed-hoed oor sy oë.
Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU! balk Eliza voort.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





