praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Gustav Venter Die burgeroorlog het reeds begin

Die burgeroorlog het reeds begin

E-pos Afdruk PDF

Daar is 'n oorlog in Suid-Afrika aan die gang, 'n koue oorlog, 'n koue burgeroorlog en die oogmerk daarvan is, nes die Britte s'n in 'n warm geskil 'n eeu gelede, die algehele vernietiging en verdwyning van die Afrikaner. Dit is 'n burgeroorlog want die bevelvoerders, offisiersklas, onderoffisiere en manskappe daarvan is self blanke Afrikaners. Oorlog is nooit formeel verklaar nie, en dít, volgens die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, generaal Jannie Geldenhuys, is die uitsonderlike kenmerk van 'n koue oorlog.

Wanneer daar 'n oorlog verklaar is, en 'n konvensionele stryd breek uit, is die vyand sigbaar en kan jy hom raakslaan. Maar in 'n koue oorlog klap die skote nie ooglopend nie. Dit is die terrein van die ondermyner, die propagandis, die sielkundige ondergrawer... Dit is afpersing en omkopery, agterbaksheid en geveinsdheid. Hierdie is nie 'n arena waar die Afrikaner homself tuis voel nie. En sy vyande weet dit.

Die Afrikaner is 'n taai ou boom, wat elke vorm van weerlig, veldbrand, winterkoue en droogte weerstaan het. Die manier om hom te laat val, is om hom in die wortel raak te kap. En niemand weet beter waar hierdie wortels lê as die ander Afrikaner, die liberalis, die volkselfmoordlustige nie. Hulle veldtog is nimmereindigend, onvermoeid, geslepe en dodelik.

Hulle strategie is eenvoudig maar, tot dusver, onweerstaanbaar. Hulle dring die een Afrikanerbastion na die ander in deur dit eers op 'n skrefie oop te kraak en dit dan uit te was met vreemde kulture. Hulle het dit op landsvlak gedoen: Die krakie wat hulle oopgebeur het, was om met die ANC te onderhandel. Dié het, weens hulle getalle, die politieke toneel onkeerbaar oorstroom. Die ANC, die PAC en al hulle polities-misdadige kamerade, met die geldelike en morele ondersteuning van bykans die hele wêreld, en met die daadwerklike gewig van Oosbloklande, kon nie daardie skrefie in die Afrikaner se mondering slaan nie. Dit het ander Afrikaners gevat om dit te doen, en dit was nie net FW de Klerk en Roelf Meyer se binnegekonkel wat dit vermag het nie, dit was ook die nimmereindigende gedreun, die watergedrup van die Afrikaanse pers en intelligentsia wat die Afrikaner beweeg het om die pantserdeur op 'n skrefie oop te swaai.

Daarna was dit die provinsies en die stadsrade se beurt om uitgekalwe te word. Die dodelike, eenvoudige strategie het in die staatsdiens, die hospitale, die weermag, die polisie, die staatsdiens gewerk. Noem maar die instelling en daar is 'n koor van verontwaardigde liberaliste wat jodel dat swartmense onbeperkte toegang daartoe moet hê. En sodra die eerstes opdaag, moduleer die koor na 'n ander sleutel en neurie ontsteld dat dit onregverdig is dat die Afrikanerkultuur primêr of selfs prominent in die betrokke organisasie sal wees. Elke Afrikaanse universiteit is so binnegedring en gepurgeer van die Afrikanerkultuur.

Die boom het nog nie geval nie, en het onverwagse ruimtes gevind om uit te loop of dieper in te wortel. Die linkse aanslag op die N.G. Kerk, byvoorbeeld, het weggevaag toe die verbete verenigingstryd deur plaaslike gemeentes en hulle lede afgeweer is. Afrikaanse kuns en vermaak het ook onverwags 'n skans vir die Afrikaner geword. Dit is 'n nasionale sonde om - ten minste as jy blank is - 'n voorkeur vir jou eie ras en kultuur openlik te verklaar. Maar jy kan dit implisiet doen deur jouself te neem waar hierdie velkleur en tradisie vergader.

Hierdie is nie 'n gepatenteerde Suid-Afrikaanse tendens nie. In die VSA mag elke ras, geloof en nasionaliteit - behalwe blankes - openlik om hulle identiteit vergader. Daar is honderde organisasies, selfs skole en universiteite, wat eksklusief vir swartmense in stand gehou word. Die Moslems het húlle organisasies, die Latyns-Amerikaners hulle s'n. Die Jode het oor die driehonderd organisasies wat uitsluitlik en openlik hulle doelwitte bevorder. Maar sou 'n organisasie gestig word om eksklusief blanke belange te beskerm, sal die (hoofsaaklik blanke) pers en vermaakindustrie met 'n helse kakofonie ontvlam en hulle tot onverwyld en onverpoos verguis.

In die Desember-uitgawe van American Renaissance is daar 'n uitstekende artikel deur Ellison Lodge oor hierdie verskynsel. Hierin bekyk hy die blankes in Amerika wat uitdruklik anti-blank is, soos deur die huidige politieke tirannie vereis word, maar wat implisiet wit is. Hierdie bevestiging van blanke kultuur en voorkeur word in die paar "flenters" blanke kultuur wat eksklusief gebly het, gevind. Country en Western-musiek is, byvoorbeeld, omtrent uitsluitlik 'n blanke smaak. Die sangers, met weinig uitsonderings, is blank en hulle albums word omtrent net deur blankes gekoop.

Ellison noem een sport wat so te sê deur net blankes bedryf en geniet word: NASCAR-wedrenne.

Die (hoofsaaklik blanke) pers is uiteraard baie neerhalend oor beide C&W-musiek én NASCAR, wat hulle as 'n sport vir ingeteelde blikore voorhou. En moenie dink die linkses is tevrede om dinge so te los nie. Hulle doen hulle absolute beste om musiek en sport binne te sypel. Maatskappye bied groot belonings, ondersteuning en opleiding aan om swart renjaers te ontwikkel - sonder sukses. Swartmense het geen belang by óf Cowboy-musiek, óf NASCAR nie.

Dit sou alles nie vir die liberales so vrekkens aanstootlik gewees het as beide dié gereserveerde tydverdrywe nie so skouspelagtig gegroei het nie. Country en Western-sterre se glans is van die mees verblindende in die Amerikaanse musiekruim, en dit sonder die volgehoue, oordonderende bewonderende geraas wat die media oor ander musiekvorme, vernaamlik hip-hop, maak. En NASCAR, waarteenoor die media ten beste 'n effe vieserige houding het, is die vinnigste groeiende sport in die VSA.

In Suid-Afrika het die blankes ook enklawes gevind waar hulle onbeskaamd die vreugde kan smaak om onbelemmerd in groot getalle met hulle eie kan saamkom. Hierdie motief is die dryfmiddel in die ontploffing van gewildheid van Afrikaanse musiek, die herlewing van die Afrikaanse filmbedryf, die herontdekking deur advertensiemaatskappye van die Afrikaanse koper... Afrikaners wil maar net Afrikaners wees.

Hierdie nuwe geboorte van Afrikanersolidariteit is so onverwags as wat dit deur liberale Afrikaners ongewens is. En hulle veg terug op hulle beproefde, glibberige, tweetongige manier. Die ou eenvoudige, dodelike taktiek van insypeling, uitbreiding en oorheersing word met groter drif ontplooi. 'n Afrikaanse sepie is net polities gesalf as daar 'n verteenwoordiger van elke velkleur in die nasionale spektrum - van wit, tot amper wit, tot gekleur tot pikswart - in is. Die Huisgenoot Skouspel kan net aangebied word as die Bala Broers of 'n ander swart item as politieke lisensieskyf aangebring kan word. Die gedagte aan 'n suiwere wit vertoning is vir die liberale Afrikaner afstootlik.

'n Ernstige jong boer keer my onlangs voor om my sosiale koors oor die keuse van 'n swartman as Voortrekker-kommandant te neem. Hy is geskok oor my weersin daarin.

"Kan ons niks vir onsself oorhou nie?" wou ek by hom weet. "Is daar nie een gebied waar ons op ons eie toegelaat word nie? Is dit nie genoeg dat hulle ons land, ons skole, ons dorpe oorgeneem het nie? Moet hulle nou doodeenvoudig nog die Voortrekkers ook hê?"

"Ek sou gedink het jy sal reken dis 'n goeie ding," het hy geantwoord. "Dis dan 'n manier om ander mense aan Afrikaans voor te stel."

Ek wou nie verder met hom redeneer nie. Ek sal liewers verveeld wees as om iemand na sulke dwaasheid te antwoord. Maar hy sal leer: Laat een van 'n vreemde kultuur 'n vastrapplek in die Voortrekkers kry en gou bring hy sewe wat groter as hy is saam. En dan word die Afrikaner oor die vaatjie van sosiale gedienstigheid gespalk. Siende dat daar nou so 'n diversiteit in die Voortrekkers is, is dit dan regverdig dat Afrikaans die enigste taal bly? En moet daar nie groter sensitiwiteit vir ander kulture wees nie? Moet die uniform nie verander word om die diversiteit te reflekteer nie? En later - het Afrikaans hoegenaamd nog bestaansreg in die Voortrekkers? En dan, siende dat dit 'n Engelse jeugorganisasie is, moet die Voortrekkers nie maar met die Boy Scouts saamsmelt nie? My gevoel is, as jy iemand wil blootstel aan Afrikaans, gee vir hom 'n biblioteekkaartjie.

Gister het ons vyand die radiostasie RSG in 'n brutale daad van oorlog in hierdie koue stryd ingespan. Terwyl die rugbytoets tussen die Springbokke aan die gang was, het hulle verkies om in gefolterde Afrikaans 'n sokkerwedstryd tussen Maritzburg United en Supersport United uit te saai. Hulle het dit nie vir redes van inklusiwiteit gedoen nie. Sokker is nie 'n Afrikaner-ding nie en die Kleurlinge wat dit wel bo rugby verkies, is hoofsaaklik Engelssprekend. Nee, dit was 'n opsetlike minagtende stywe middelvingergebaar vir die Afrikaner.

Die boodskap is duidelik: Ons weet dat julle rugby vir 'n enklawe van implisiete blanke solidariteit gebruik. Wel, nie met ons stasie (waarvoor julle betaal nie!) Ons sal sokker uitsaai al kan jy na dieselfde wedstryd op 'n halfdosyn ander stasies luister. Ons sal sokker uitsaai al is daar nie 'n enkele luisteraar om dit te geniet nie. Hierdie is minagting van die mees primitiewe, hondsdol soort wat na die Afrikaner gemik kan word.

Dieselfde Amerikaners het 'n spreekwoord: Kom in die spel. Daar word 'n verbete, venynige oorlog teen ons gevoer, en ons is nie eens in die spel nie. Hierdie is 'n oorlog met net een antagonis. Ons Afrikaners het nog altyd 'n weersin in die hele glyspel van propaganda gehad. Maar ons beter baie gou leer. Ons beter in die spel kom, want daarop berus die daadwerklike oorlewing van ons as volk.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: