17:06:38 Naas Botha in sy speeljare was 'n flinkvoetige, vlughandige, visionêre voetbalgenie. Sy span kon altyd op hom staatmaak.
Of soos hy sy rug op sy buite-egtelike seun – deesdae 'n atletiese, skrander, innemende jongman – gedraai het. Hy sê dis sy saak, hy het sy redes daarvoor en ons moet dit seker so aanvaar.
Hy het ook lankal sy Afrikanerskap by die ingangsportaal van inklusiewe Suid-Afrikanerisme ingeboek. Wel, dít is nie net sý saak nie. Dié keer staan dit ons vry om te spekuleer dat sy Afrikanerskap te koop was vir die pot lensiesop van 'n M-Net-salaris.
Maar die een verraad wat ons nie van hom verwag het nie, nie eens van hom nie, is dié teenoor die elegante, blinkslanke antiloop, Dorcas Marsupialis, die Springbok. Deesdae pleit hy dat die arme pronkbokkie die doodskoot moet kry. Dis nie dat ons nie sy frustrasie verstaan nie. Ons is net soos hy ter dae sat van die herhaalde dreigement van sulke voetbalimbesiele soos die onsmaaklike Komphela-en-Stofile-firma dat die Springbokkenteken moet waai. 'n Mens voel dan skiet jy maar liewers die gyselaar en ontwapen so die ANC se onbevoegde haatsaaiers.
En tog sou 'n mens gedink het Botha, wat sy rugby saam met sulke stoere voetballegendes soos Hempies du Toit, Louis Moolman, Danie Gerber en Johan Heunis gespeel het, sou tot in beseringstyd toe baklei het vir die Springbok. Want, ná alles, wat sou hy sonder daardie sierlike wapentjie gewees het, wat eens op 'n tyd aan net die beste van die bestes toegeken is?
Maar behoud of genadedood is nie die enigste twee moontlikhede nie. Hier is 'n ander oplossing: Kom ons haal die Springbok van die truie van kwotaspelers en koliekerige pierewaaiers soos Luke “Puke” Watson se truie af. En ons plaas die bokkie in die reservaat, verwyder van die smerige attensies van Komphela, Stofile en Cheeky se galsieke seun. Ons gun hulle dan 'n protea of 'n sorghumaar vir 'n kenteken – of dalk 'n cannabis sativa-takkie, waarvan die oormatige gebruik iets van hulle denkprosesse kan verduidelik.
Daar, in sy veilige kampie, kan die Springbokkie wei in die geil velde van goeie herinneringe totdat dit weer op die borskas van 'n nasionale voetbalspan pryk, 'n span wat die kenteken werd is en dit waardeer en wat, soos in trotste dae van die verlede, op aandag staan onder 'n Oranje-Blanje-Blou vlag terwyl Die Stem speel voordat hulle, ook soos in die ou dae, die teenstander aan die strot gryp en ter voetbalvelde neerwerp.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





