Ek weet nou nie wie die regisseur was nie en nog minder kan ek vir jou sê wie verantwoordelik was vir die keuse van die musiek en die ontwerp van die klankbaan. Maar ek kan vir jou met alle sekerheid sê daar was 'n oomblik van begeesterdheid toe hulle, vir wat ons die "Katedraaltoneel" kan noem, op Francisco Tarrega se "Recuerdos de la Alhambra" besluit het.
Want wat hulle deur die musiek beskryf, is nie die gewyde uiterlike aanslag wat die katedraal op die pelgrim se ore loods nie. Dán sou hulle 'n magtige pyporrel gebruik het, met die dreunende majesteit van die basnote, die soepel welluidenheid van die middelregister en die swiepende triomf van die verkoperde hoë note; klanke wat alles - die kolossale strukture, die hemelhoë plafon, die vloer, as't ware die molekules in die atmosfeer self - laat vibreer. En hulle sou seker die ontsag in die jong gemoed beklemtoon het met die donker, diepgewydheid van skimagtige monnike se neuriesang.
Hier vervul die klankbaan egter nie die funksie om bloot die oorweldiging van die visuele te begelei nie, maar om eerder die intieme, innerlike reaksie van die verbysterde seun te vertolk.
Dit is musiek van 'n verruklike eenvoud - wat uitslofend moeilik is om te speel. ("Enige negejarige, kan 'Herinneringe aan die Alhambra' speel," het kitaarvirtuoos John Williams gesê, "met vyftien jaar se oefening.") 'n Eenvoudige, effe weemoedige deuntjie is in die voorgrond op 'n onderlaag van 'n ritselende tremolo, alles deurgewerk met 'n sleurende ritme wat klassiekemusiekluisteraars met weinig moeite sal vereenselwig met die aandrang van die noodlot. Dit is musiek van verlange, heimwee en gelatenheid oor verlies.
Veertien jaar later het die legendariese skepper van atmosferiese musiek, Mike Oldfield, dit vir die hooftemamusiek op die klankbaan van die bekroonde rolprent, "The Killing Fields," gebruik - dié keer gespeel op die panfluit. Dit was spokerige musiek, nabootsend van die ontliggaamde stemme van 'n skare gewone, onskuldige mense wat vergruis is in die bloedkoors van Pol Pot se Kambodja. Ons hoor daarin die vergeefse roepe van mense wat terugreik na 'n eenvoudige, vervulde lewe.
Ons s'n is in teenstelling 'n klein fliek, 'n verstommend onskuldige, selfs naïewe rolprent, een wat onbeskaamd geflikflooi het vir warm gevoelens. Maar as ons dit nou sien, geskakeer deur die kennis van wat ons verloor het, is dit 'n bitter film, vol onvervulbare versugtinge.
"Groete van die Eerste Minister" vertel die verhaal van 'n Karoo-seuntjie, die agtjarige Manie, wat, genoop deur die langdurige droogte op die familieplaas in die Hopetown-omgewing, op sy persoonlike Odusseia vertrek om die hulp van die Eerste Minister en die N.G. Kerk se moderator (wat hy fraai-fraai maar met 'n sekere gepastheid die "moddermaker" noem) te gaan werf.
In sy kruistog word hy begelei deur 'n verskeidenheid gidse, die eerste daarvan 'n langafstandvragmotorbestuurder. Dié is geprikkel deur Manie se vertelling van sy oupa se deelname as penkop aan die Slag van Magersfontein. Terstond besluit die vragmotorbestuurder om Manie te neem om die toneel te besoek. In die teenwoordigheid van 'n groepie jong, forse, glinsteroog beroepsoldate wat die terrein vir opleidingsdoeleindes besoek, wys Manie se mentor vir hom die kontoere en valle en hoeke van die slag uit. En wanneer Manie die slagveld verlaat, nou stemmig, gekonfronteer met 'n nuwe insig oor die vertering van oorlog, laat hy 'n Mauser-doppie wat hy opgetel het op die graf van die Onbekende Klein Doedelsakspelertjie.
Hulle reis neem hulle deur die sentrale hartland van Suid-Afrika, Noord na die industriële kompleks van die Witwatersrand. En hoe ontroer dit nie nou om, vanuit die ruim kajuit van die Mack-vragmotor wat deur Manie se nuwe vriend bestuur word, dáárdie Suid-Afrika van 1970 te sien nie. Want dit is 'n land waarin die ywer en doelgerigtheid van 'n geharde jong volk gesien word, met nuwe snelweë wat uitgelê word, nywerheidsgebiede wat verrys, komplekse wat verskyn, huise in aanbou. Al hierdie drif om te bou, om te vestig, om te verbeter, word gehuls in 'n nasionale atmosfeer van orde, sindelikheid, toegeneentheid en gemeenskaplike agting. Wat 'n land, wat 'n land, wat 'n lánd!
Dramaties gesproke is hierdie gids se rol uitgedien teen die tyd wat hulle Kemptonpark bereik. Manie, wat 'n goedgunstige maar verydelende lokval van die vragmotorbestuurder vermoed, glip uit die vragmotor en verdwyn oor die nuwe snelweg tussen die karre deur.
Sy vlug neem hom na die aanloopbaan van die lughawe wat na Jan Smuts vernoem is, en verder, totdat hy deur 'n lang, hoë skreef van 'n deuropening 'n vliegtuigloods betree.
Recuerdos de la Alhambra... tremolo, ritseling en weemoed in 'n sleurende deuntjie...
Want in hierdie loods - 'n gebou van asembenemende omvang - staan een vliegtuig - 'n glimmende, gladafgewerkte, elegante, gespierde konstruksie, so groot en majestueus dat die aanskoue daarvan geloof en ongeloof deurmekaarwriemel. Want hierdie is 1970, 'n tyd toe die Suid-Afrikaanse Lugdiens 'n hooggeagte redery was. En dit is die jaar van die Boeing 747, waarvan die S.A.L. een van die eerste ontvangers en gebruikers was.
En daar, voor klein Manie wat nou nog verder wegkrimp in sy verwondering, staan hy: Tafelberg. Ons makrostraler met die lang, silwer romp, die vier swaar motore aan die terugswiepende vlerke, beslaan met die heroïese oranje-blanje-blou nasionale vlag en die sierlike Vlieënde Springbok op die hoë metaalvaandel van die vertikale roer.
Tremolo, polsing en weemoed veroorsaak deur 'n onvermoë om oorweldigte emosies te verklaar... en terwyl die kitaarmusiek groter, dringender word, draai Manie op sy hak om, so skielik en doelbewus dat die kyker verstaan dat die Karoo-seuntjie presies sal weet wat hy volgende sien.
Die loods se hoofdeur is op 'n skreef oop en dit vorm 'n helder skag van lig, skraal en so hoog asof dit in die hemel self begin. En heel onder, minuskuul in die regop streep lig is die silhoeët van 'n enkele vrou wat nie soseer verskyn as wat sy net skielik dáár is nie, baie soos 'n engel.
En Manie, sonder huiwering of bedeesdheid nael na haar en slinger sy seuntjiearms om haar. Ons sien nou sy is 'n lugwaardin, poppiemooi in haar vietse poeierblou uniform, hofskoene en regop hoedjie.
Die seun snik met 'n wye, ontroosbaar droefheid: "Tannie... tannie... die vliegtuig, die vliegtuig, die vliegtuig."
Want wat moet 'n seun sê as hy die eerste keer gekonfronteer word met die moontlikhede van sy kultuur en tradisie, 'n beskawing wat iets so majestueus wonderliks soos 'n passasierstraler kon baar en dit kon berg in 'n gebou so groot dis asof dit die oorspronklike Tafelberg self kon bevat?
Die res van Manie se verhaal is so voorspelbaar as wat dit stroperig fraaitjies is. Tog moet ons altyd dankbaar wees teenoor die regisseur en musiekverskaffer wat vir ons 'n oomblik van sulke verstommende filmiese insig gebring het - wat vergelyk met die diepsinnigste oomblik van enige "Killing Fields".
Manie se reis neem hom na middestad Johannesburg en 'n Hillbrow van skoon sypaadjies, versorgde parkies en beleefde mense, waar die grootste middernagtelike misdaadkrisis se bekamping 'n gil ver is voordat die knap, altyd waaksame S.A.P.-lede om die draai gejaag kom in 'n karamelkleurige Chevrolet Kommando met 'n grommende reguitsesenjin en loeiende bande. Orde. Geborgenheid. Samelewing. Vooruitgang.
Natuurlik ontmoet Manie uiteindelik sy "moddermaker", 'n statige ou leraar wat sonder huiwering in sy studeerkamer saam met die seun kniel en bid. En natuurlik neem die dominee hom na die Uniegeboue en die diepste binneste daarvan, reg tot in die Eerste Minister se kantoor. Dié is, onvermydelik, so aangegryp deur Manie se opregtheid en opoffering dat hy sonder verwyl die weerburo skakel en as't ware reën vir die dorre Karoo opkommandeer.
Dit is die einde van Manie se verhaal en hy vertrek. Die rolprent sluit af met Manie, sy ouers en sy oupa wat, begelei deur die kitaarklankbaan, deur golwende grasvlaktes loop van die ou Karoo na lang en goeie reën.
Maar ons is nie klaar nie. Dit is 'n tendens in Hollywood om nuwe weergawes van ou rolprenttreffers te maak. Dis natuurlik vir ons onmoontlik om 'n nuwe interpretasie van "Groete van die Eerste Minister" te skiet. 'n Agtjarige seuntjie op reis van Hopetown na Pretoria sal nooit opdaag nie. Hy sal ongetwyfeld onderweg ontvoer, verkrag en/of vermoor word en sy liggaampie ru-weg gedissekteer word vir die moetiemark.
Miskien kan ons wel 'n addendum vir die rolprent verfilm:
Die hede. Agt-en-dertig jaar later. Manie is nou ses-en-veertig jaar oud. Hy verskyn weer by die Uniegeboue, in die nag. Ná 'n reeks hoogs onwaarskynlike toevalle, bevind hy hom in die nag in dieselfde kantoor waar die Eerste Minister na sy verhaal geluister het.
Daar is nou nie meer 'n eerste minister nie, maar 'n president.
Manie gaan staan agter die statige chroompyp-en-leerstoel waarin die eerste minister gesit het. Hy vryf daaroor en dink aan al die manne wat daardie stoel eens beset het, vir wie die welvaart van elke inwoner van die land belangrik was; manne wat nie gehuiwer het om die juk van miljoene ongeletterde, primitiewe mense, vreemd aan hulle volk, op hulle te neem nie. Hierdie manne het daarin geslaag om 'n volk te bestuur sodat dié in pas kon marsjeer met die mees gevorderde nasies in die wêreld. Terselfdertyd het hulle vooruitgang, opvoeding, veiligheid en mediese sorg voorsien vir die miljoene lede van ander volke in die land. Hulle was eiesoortig daarin dat hulle nie net daarin kon slaag om die strukture en ruimtes te skep waarin 'n gesofistikeerde Westerse gemeenskap ontstaan het nie, hulle het ook die hoogste lewenspeil vir enige Derdewêreldse nasie op aarde bewerkstellig.
En dan dink Manie aan die huidige besetters van daardie stoel en daardie gebou - regeerders wat met sorgvuldige ongetraaktheid wag gehou het oor die moord van bykans vyfhonderdduisend mense in die land, wat met monumentale hubris en gulsigheid die skatte van die land vir hulleself gebuit het en wat vasberade toegesien het dat alles wat goed en reg gebou was, nou onderwerp is aan verval en aftakeling en roof.
Manie, die boer, weet ook dat hierdie regering deur sluheid of onnoselheid die land se vermoë om voedsel te vervaardig, onherroeplik beskadig het en daardeur die aanvoorwerk gedoen het vir 'n toekomstige hongersnood wat die gruweldood van miljoene mense kan kos.
Die Uniegeboue, eens beman deur bouers en beskermers, is nou ingeneem deur afbrekers en verwoesters - dis asof daar uit hulleself 'n miasma van organiese suur die hele atmosfeer van die land ingesypel het en waar dit ook al raak vreet en verteer en verkrummel dit. In enige redelike wêreld sou hulle vanweë hulle venyn, onvermoë en hardvogtigheid tereg gestaan het in die hoogste internasionale howe op aanklagte van misdade teen die mensdom.
As Manie dink aan hoe dit toe was en toe hoe dit nou is...
... tremolo, polsing, sleurende deuntjie...
'n bitter refrein kronkel en kronkel en kronkel deur hom:
Wat het ons gedoen?
Wat het ons gedoen?
Wat hét ons gedoen?
| < Vorige | Volgende > |
|---|





