praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Gustav Venter Roodt oor Fourie: Nee, Jan-Hendrik, die waarheid is nie altyd mooi nie

Roodt oor Fourie: Nee, Jan-Hendrik, die waarheid is nie altyd mooi nie

E-pos Afdruk PDF
Image

...Jan-Hendrik Coetzer,

Die aanhef van hierdie skrywe verskaf vir my 'n probleem. Ek bedoel, hoe moet ek jou aanspreek? “Liewe Jan-Hendrik” is jy nie vir my nie want jou soort onnoselheid maak my toenemend ongeduldig.

 "Beste" is jy nie, want wat ek uit jou gebelgde klein briefie aan Dan Roodt kan agterkom, is dat jy óf geen erg aan jou nering as joernalis het nie, óf dat jy bloot onbeholpe is. “Geagte” kan ek jou nie noem nie; ek het bloot minagting vir iemand wie se karige begrip net oortref word deur die verslonstheid van sy argumente.

Jou soort gee vir my moed vir die Afrikaner se toekoms. Maar voordat die onderlippie van aandoening begin bewe, laat my net verduidelik:

Naspers het, deur sy Afrikaanse koerantgroep, 'n verderflike invloed op die Afrikaner se denke. Gedagtig daaraan dat Naspers die Afrikaner as sy grootste vyand geïdentifiseer het en homself onverpoosd beywer vir die verdwyning van die volk waaruit die mediagroep gekom het, is dit duidelik dat ons hierdie invloed sal moet neutraliseer. Mense soos jy, met julle onbehendigheid en julle halsstarrige ontkenning van die werklikheid, maak ons werk soveel makliker.

As Beeld, Die Burger, Die Volksblad en Rapport se redaksionele lamlendigheid en joernalistieke geploeter nie so aan my bekend was nie, sou dit vir my baie moeilik gewees het om te glo jou knoeiwerk kom uit 'n verslaggewer se pen. Die droewige waarheid is dat die beteuterde gehalte van jou skryfwerk geensins afwyk van die standaard wat elke dag in Naspers se Afrikaanse koerante gedemonstreer word nie.

Die eerste ding wat jy – en die res van die liberale gemeenskap in Suid-Afrika – moet leer, is dat blote gebelgdheid nie 'n standpunt in 'n samehangende redenasie kan omskep nie. 'n Ferm vertrekpunt, deeglike ontwikkeling van die argument en 'n verantwoordelike toepassing daarvan is darem ook nodig. Ek weet jy is nie oortuig nie, so, as jy nog tot hier kon konsentreer, volg my gerus in 'n ontleding van 'n paar van jou stellings.

Kom ons begin met hierdie raaiselagtige uitlating van jou: “Ek wou gister al kommentaar lewer op bogenoemde rubriek , maar het eers daaroor gedink en besluit om nie óók so laag te daal nie.

Jy moet dit probeer – dan sal iemand soos ek jou dalk ernstig opneem – ongeag jou siening of standpunt.”

Dit is dus jou mening dat om kommentaar op 'n rubriek te lewer 'n veragtelike daad is. 'n Mens wat dit doen “daal laag.” En... dan doen jy dit in elk geval. Nie net doen jy so die verwerplike nie, jy dring by Dan Roodt aan dat hy dieselfde doen. In daardie geval, dui jy aan, sal jy hom ernstig opneem “ongeag” sy “siening of standpunt”. (Liederlike oorbodigheid in die laaste paar woorde, stem jy nie saam nie?)

Nou sien, Jan-Hendrik Coetzer, dis waar ons van julle liberaliste verskil. Ons neem 'n persoon ernstig op vanweë die inhoud en die gehalte van sy standpunte. Jy neem hom ernstig op as hy probeer om “laag te daal”. Uit die res van jou brief lei ons af dat jy Professor Frederick Fourie baie ernstig opneem. Gedagtig aan jou vereiste moes hy darem baie laag gedaal het.

Dit is moeilik om te dink dat 'n “joernalis”, selfs uit die Naspers-stal, so lamlendig kan wees om 'n gemors van die woord “so” te maak, maar julle spul se lompheid ken geen perke nie. Laat ek jou help: Wanneer jy die woord “so” aan die begin van 'n sin gebruik, dui jy daarmee aan dat jy 'n voorafgaande gevolgtrekking gaan toepas. Wat was hierdie gevolgtrekking in hierdie geval? Dit is dat Dan Roodt so laag soos jy moet daal deur kommentaar op 'n rubriek te lewer sodat jy hom ernstig kan opneem.

Hier is jou toepassing van die gevolgtrekking. “So dit gaan dwaas wees van my om jou persoonlik aan te val soos jy met Prof. Frederick Fourie gedoen het  – vir die eenvoudige rede – ek ken jou nie.”

Kom ons sit dit nou alles aanmekaar: Dan Roodt moet so laag soos jy daal deur kommentaar op 'n rubriek te lewer sodat jy hom ernstig kan opneem en dit vir jou dwaas sal wees om hom persoonlik aan te val want jy ken hom nie persoonlik nie. Sien jy Jan-Hendrik? Jy kan nie die “so” op hierdie manier gebruik nie. Jou gevolgtrekking en die toepassing het niks met mekaar te doen nie. Daar is geen koherente ontwikkeling van die argument nie.

En Jan-Hendrik, asseblief, 'n vindingryke skrywer kan die aandagstreep op allerhande skeppende maniere aanwend. Maar jy kan hom nie 'n dubbelpunt se werk laat doen nie, al is jy gewoond aan 'n disleksiese sub-redaksie.

Asof ons nie al genoeg deur jou broddelwerk vererg is nie, irriteer jy ons nou met een van daardie temerige vrae wat 'n handelsmerk van liberalisme geword het.

“Ken jý die persoon wie jy so slegsê in jou rubriek?” vra jy vir Dan.

Wat die antwoord ook al is – ja, nee, miskien – wat het dit met die geldigheid van Dan se rubriek te doen?

In enige logiese stelsel word 'n persoon beoordeel volgens die gevolge van sy woorde en dade. Dan het, soos jy aandui, Frederick Fourie “'n lafaard, verraaier en veral kruiperige suurstofdief” genoem. Jy redeneer dat Dan dit slegs kon doen indien hy Fourie deeglik persoonlik geken het. Was Hitler 'n sielsieke, moorddadige klein tor gewees? Het jy hom persoonlik geken? Moet ek iets meer hieroor sê?

Jy striem Roodt omdat hy volgens jou mening “ongelooflike twak” skryf en dan die vermetelheid het om sy reg op vrye spraak uit te oefen deur dit op sy webwerf te plaas. Jy wend geen poging aan om Dan se uitsprake op die grond van feite of logika te ontleed en te weerspreek nie. (Behalwe om te tjank omdat Roodt gesê het Fourie gaan hom in Australië vestig. Hierdie is die onbenulligste van al Roodt se stellings en al gaan woon Fourie in Dakar, sal dit geen belemmering wees vir Dan se redenasies nie. Maar ek en jy weet Fourie gaan nie in donker Afrika bly nie. Die skrilste advokate vir integrasie, as hulle die geleentheid kry, neem hulle intrek waar daar geen transformasiekwessie is nie omdat die omgewing die suiwerste blank is wat jy kan kry. Wat wed ek jou die liewe Frederick gaan dié patroon voortsit?)

Jou beswaar gaan daaroor dat Dan “persoonlik” raak oor Fourie. Ek sou met jou saamgestem het – as hy Roodt verkeerd was of die beledigings aangewend het bloot om Fourie te kwets. Dit doen hy glad nie. Hy wend feite en goeie logika aan om sy stellings dat Fourie 'n lafaard en verraaier is, te ondersteun. Dis eenvoudig: Fourie het deurgaans stelselmatig in woord, daad en beleid teen sy eie mense gekies. Dit maak van hom 'n verraaier. Toe vlug hy eerder as om die gevolge van sy verraad die hoof te bied. Dit maak van hom 'n lafaard. En 'n kosbare element soos suurstof behoort nie op verraaiers en lafaards gemors te word nie. Dit maak van Fourie 'n suurstofdief.

Soos enige ander liberalis druk jy jou kop onder jou arm wanneer jy dié redenasies nader. Jy het geen behoefte en geen bevoegdheid om die argumente te weerlê nie. Dan tjank jy maar oor Roodt se vermeende onbeskofdheid.

Die arme Frederick Fourie. Nie net is hy afgetakel en gestroop deur sy eie onnosele en verraderlike optrede nie, nou moet hy nog die vernedering ondergaan om verdedig te word deur 'n waghond wat maar toe uiteindelik 'n porseleinkakebeen en droplekkertande het. Jou manhaftigste poging om sy eer te verdedig is om aan te voer dat hy “sy werk met liefde en passie gedoen het”.

Jan-Hendrik, ek was in die weermag en ek het 'n lafaard of twee raakgeloop wat heeltemal in druksituasies gekraak het. Kom ek verseker jou, daar is niemand wat meer hartstogtelik is as 'n lafaard wat bedreig word nie. En verraaiers word dikwels deur hulle emosies oorweldig. Gaan vra maar die Amerikaners en hulle sal jou vertel dat Benedict Arnold 'n hartstogtelike man was. Passie is nie 'n inenting teen óf lafhartigheid, óf verraderlikheid nie.

Dis min of meer hier wat jy weer kripties raak in jou betoog. Jy tree vir Fourie in die bres, nie net omdat “hy sy werk met liefde en passie gedoen het” nie, maar ook onder andere omdat hy “saam met my (Jan-Hendrik Coetzer) hartseer moet wees omdat hy sy uittrede aangekondig het”.

Sug. Ek gaan nie eers iets sê nie.

Jan-Hendrik, jou liberale haarwortels wys onder die kleursel van jou verontwaardiging. Ek glo nie vir 'n oomblik dat jou gebelgdheid ontstaan het omdat Roodt valse aantygings teen Fourie gemaak het nie. As hy skromeloos gelieg het, sou jy tuis gevoel het by hom.

Maar dat hy so blatant die waarheid kan praat, dit is darem te erg vir enige liberalis om te sluk.

(En, Jan-Hendrik, ek is self besig om 'n rubriek oor Frederick Fourie en die integrasiedebakel by Kovsies te skryf. As jy dit te lese kry en jy voel genoop om daarop te reageer, probeer darem om iets sinvols in jou reaksie te sê.)

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: