praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Rubrieke Gustav Venter My dopamien op die altaar

My dopamien op die altaar

E-pos Afdruk PDF
Image

Waarom ons die wêreldbeker nie durf wen nie

Nou goed. Ek erken, ek het 'n dopamienkrisis. Dis so erg, dat ek myself in 'n kringetjie in een of ander barre gemeenskapsaal kan sien opstaan en sê: “My naam is Gustav Venter. Ek is 'n dopamienolis.” Soos enige verslaafde aan die begin van sy rehabilitasie, wil ek nog iemand anders vir my probleem blameer. Dis alles my pa se skuld. Hy het my opgevoed op 'n dieet van storieboeke, flieks, opera en sport.

Die enigste van hierdie vier kultuurpilare waaroor ons enigsins verskil het, was opera: Pa het 'n mate van ongeduld gehad met my Maria Callas-infatuasie. Op die ander gebiede is my smaak grootliks deur syne gevorm. Maar dit is veral oor sport wat ons harte saam geklop het.

Toe ek tien was, is ek saam met my pa Ellispark toe om te kyk hoe speel Transvaal teen die WP. Vir ander was dit dalk net 'n Curriebekerwedstryd. Vir my was dit 'n krygsveld! ridders! manlikheid! slagordes! Die WP het eerste verskyn en ek kon in hulle houdings en bleekblou-en-bleek streeptruie onmiddellik 'n dodelike soort sluheid herken. Kort daarna kom die Transvalers uitgedraf. Sulke fierheid, trots en ooglopende opregtheid in hulle netjiese, soliede rooi-en-wit truie, swart kortbroeke en wit kouse met rooi lyne regom die bokant. Hulle name was soos 'n dromgeroffel voor 'n heldesaal: Greyling, De Klerk, Strauss, Bosch, Muller, Gustav Venter...

Gustav Venter? Nou goed, ek was nie op die spelerlys van die Transvaalse senior rugbyspan nie, maar geen speler op die veld was emosioneel meer intensief betrek as ek nie. Dis asof ek elke duikslag aan eie blad beleef het, asof my lyf saamgepers is vir elke gaping, asof my eie wêreld 'n klein bietjie geëindig het met elke Rooibont-aanslaan. Meer presies, met elke bedreiging is dit asof my binnekant met mentol afgespons is. Andersins was daar die wonderlike gevoel van binnekrag; 'n gloeiende viering van die stryd in my borskas. Angskoud en warmmagtig. Adrenalien en endorfiene. En ek onthou so goed die belofte: As ek seëvier – as Transvaal meer punte as die WP kry – gaan dit voel asof ek deel word van 'n wolk van volslae tevredenheid en 'n gevoel van algehele onoorwinlikheid en onaantasbaarheid. Dit is hoe ek vir die triomf beloon sal word.

Daardie beloning, weet ek nou, kom in die vorm van 'n hormoon wat deur jou are suis: Dopamien.

As 'n skoot dopamien 'n wandeling op die pieke is, is die berowing daarvan 'n nare geploeter in 'n afvoersloot. Wie weet, as Transvaal daardie dag gewen het, was my dopamieninname nooit vir my so 'n krisis nie. Maar toe verloor hulle – “Die WP hardloop kringe om Transvaal”, is hoe die verraderlike Rapport dit die volgende oggend gestel het – en my dopamienbeloning bly toe verstop in die speen. Dit is die ergste: Onttrekkingsimptome sonder die gloed.

Daardie aand voel ek verraai en verneder en ek het 'n afgryslike verwyt in myself, asof ek net harder moes geskreeu het op die paviljoen, net meer intens moes gekonsentreer het... Nou is ek net 'n verrinneweerde, gekweste, verkleineerde flenter van wat ek sou gewees het as ek en my Transvalers net een punt meer as die vandale van die Suide gekry het. Die dors na oorwinning is soos skuurpapier in my keel. Ek sou al my speelgoedgewere ingeruil het vir net een salige skoot van daardie heerlike beloning: 2-(3,4-dihidroksiefeniel)etielamien, ook bekend as dopamien.

Soos enige verslaafde het ek wonderlike verhale van ervarings met my voorkeurdop. Daar is veral twee amperse oordosisse wat ek met groot tevredenheid onthou: Toe die Nuwe Suid-Afrikaanse Springbokke die Wêreldbeker in 1995 gewen het en, veral, toe my opvoedinginstelling, Hoërskool Stoffberg, die Administrateursbeker in 1977 teen ontsaglike oormagte ingepalm het. Lenin het te vertelle gehad dat godsdiens die opium van die gepeupel is. Miskien so. Maar sport is vir seker die kokaïne van die Afrikaner.

Verraaier FW de Klerk het dit in ag geneem met die tydsberekening van sy volksvernietigende referendum in 1992. Die Afrikaner het met 'n grinnik en 'n sekere pupilverrekte dofheid in 'n oorwinningswaas rondgeloop, deurtrek met die loonmiddel, opgedopamien tot by sy kroontjie. Suid-Afrika het so pas magtige oorwinnings oor Australië en Indië behaal in die krieketwêreldbeker.

As jy nie in daardie dae 'n sportslaaf was nie, sal jy beswaarlik kan begryp wat gebeur het. Geen wêreldbekertoernooi voor dit of daarna sal ooit daardie Lord of the Rings-tipe fantasiegevoel bevat nie. Selfs die efferige gehalte van die uitsendings uit Australië en Nieu-Seeland  – korrelrige beeld, tonnelklank, rukkerige aanbieding en al – het bygedra om die effek te skep dat die aksie afspeel in een of ander buitenste ruimte vol gedrogte, towenaars en helde. Dit was asof ons deur 'n wurmpyp tot in 'n heel ander universum kon inkyk. En wie sien ons daar? Ons eie. Keppler en Peter Kirsten en Andrew Hudson en Richard Snell, Brian McMillan, Dave Richardson, Adrian Kuyper, Alan Donald en die twee nuwe jong ridders, Hansie Cronjé en die vlieënde Jonty Rhodes. En hulle spéél. Hulle slaan en boul en gooi en duik. Hulle wén!

So, die Afrikaner-sportslaaf loop rond en dis warm en vol in sy borskas, en hy voel magtig. Die dopamien spuit en spuit en spuit... Maar, soos enige dwelmhandelaar-streep-hoersmous, het FW de Klerk sy hand op die dopkraan gehad. Hy kon in een oomblik die kosbare dopamientoevoer afsny. Stem nee, het hy afgepers, en die manne kom huis toe. Geen wêreldbekerkrieket meer nie. Geen dopamien nie. Toe stem die verslaafdes maar ja.

Dit alles in ag geneem, wie kan my verkwalik dat ek voor die naweek al my hoop daarop geplaas het dat Fiji die Springbokke in die kwarteindrondte van die rugbywêreldbekertoernooi sou verslaan? My dopamienafhanklikheid het die afgelope dekade getaan. Want hoe balanseer jy die behoefte aan sportopwinding met beelde van verkragte meisies, verwurgte ou mense en 'n vernielde jeug? Sportprestasies kan nie 'n glans op die Nuwe Suid-Afrika sit nie. Daar is nie genoeg wêreldbekers op aarde daarvoor nie.

Ter wille van die voorspoed van die Afrikaner en die oorlewing van die res van Suid-Afrika, is dit noodsaaklik dat geen indrukke in 'n dopamienwaas sal verdof nie. Die sportadministrateurs werk mooi saam. Hulle onnoselheid, kleinsieligheid, gierigheid en onredelike aandrang op rassekwotas doen baie om die dopamientoevoer na die gemiddelde Afrikaner af te sny.

Maar 'n verslawing is so verraderlik soos die liefde van 'n slegte vrou. Saterdagmiddag sit ek in die laaste sonlig op my stoep en rook my Calitzdorp-Ebenhardt-kalbaspyp. Ek voel asof ek deel van 'n warm wolk is. Dit is wel met my en die wêreld. Die Springbokke het die verbete Fiji-aanslag afgeweer. Ons is beter as die Aussies en die All Blacks.

Verraaier.

Dit is nodig dat die Afrikaner met helder oë sien as hy 'n einde wil bring aan die kranksinnigheid van die Nuwe Suid-Afrika in sy huidige gedaante. 'n Dopamienwaas gaan nie help nie. Dit sal die Afrikaanse sportslaaf redeloos laat glo dat daar iets beredderbaar is aan die huidige politieke bestel. Dít kan ons nie bekostig nie.

My kop sê die Springbokke moet verloor; my dopamienlus sê hulle moet wen.

Ek is bevrees die Webb-Ellis-trofee kom in die hanskakie, John Smit, se bagasie Suid-Afrika toe.

En ek? Ek gaan teen my dopamienlus in.

Sondag skree ek vir Argentinië.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: