Hendrik Davel (34), eienaar van die plaas Sterkfontein, naby Wakkerstroom in Mpumalanga, is Woensdag deur ontstoke begrafnisgangers aangeval toe hy die groep genader het om hulle oor die begrafnis uit te vra.
Sy broer, Sakkie (38), wat hom gaan help het, is ook aangerand en as gyselaar aangehou.
Die groep wou die begrafnis in 'n kraal op Davel se eiendom hou, maar hulle werk nie vir hom nie.
Davel het aan die oorlede vrou se familie vroeër vandeesweek gesê hulle kan haar nie op sy plaas begrawe nie, aangesien sy in Johannesburg gewoon, gewerk en gesterf het.
Die boer het Woensdagoggend opgemerk dat 'n groot tent by die kraal opgerig is. Hy is aangeval toe hy ondersoek gaan instel het.
Naburige boere en polisiebeamptes het later die twee broers uit 'n geslote hut vrygelaat. Die polisie het ook Davel se vuurwapen, wat tydens die aanval gesteel is, teruggekry.
Alf Ueckermann, 'n polisiewoordvoerder, het bevestig dat sake van aanranding en diefstal ondersoek word.





