Die ANC se advokaat, Gilbert Marcus, argumenteer tans in die Johannesburgse hooggeregshof dat die ANC die volksmoordliedjie "Skiet die Boer... met beperkings" wil sing. Blykbaar wil die ANC dit nie gedurig sing nie, maar slegs by sekere geleenthede.
Voor die aanvang van die verhoor het lede van PRAAG 'n betoging teen Afrikanervolksmoord gehou wat ook deur Sunette Bridges bygewoon is. Dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, was geklee in 'n T-hemp met die koningin van Engeland op die rug en die Engelse slagspreuk: "I love Afrikaner genocide". Soortgelyke T-hemde is deur Bridges en die res van die groep gedra, met foto's van die Amerikaanse president Obama, Julius Malema, Jacob Zuma en ander.
Hierna het die PRAAG-groep elkeen met 'n eksemplaar van die Suid-Afrikaanse grondwet na 'n asblik in die straat geloop en dit daar opgeskeur terwyl lede van die media foto's geneem het. In sy kommentaar het dr. Dan Roodt gesê: "Ons aanskou vandag die absurditeit van die regerende party wat sy spraakvryheid om aanhitsing tot volksmoord te pleeg in die hof verdedig. Daarom voel Afrikaners vandag bevrees en dat hul veiligheid en regte lank nie meer deur die grondwet gewaarborg word nie. Ons enigste moontlike uitweg uit die huidige bedreiging vir ons veiligheid is outonomie, eie grondgebied, 'n volkstaat of selfstandige provinsie."
Dr. Roodt het gevra dat die internasionale gemeenskap, asook die Verenigde Nasies, in Suid-Afrika behoort in te meng om die diskriminasie en geweld teen Afrikaners te keer. Deur nie in te meng nie, is die internasionale gemeenskap besig om dieselfde fout te maak as in Rwanda waar haatspraak en etniese geweld toegelaat is om op te bou en uiteindelik een miljoen mense uit te wis.
PRAAG sien die Afrikanervolksmoord wat besig is om plaas te vind as 'n samestelling van twee elemente: geweld en regstellende aksie. Geweld boesem vrees in en wis mense uit terwyl regstellende aksie hulle ekonomies verarm en uit die land verdryf. Beide werk mee aan die vernietiging van die Afrikanervolk en die blanke gemeenskap in Suid-Afrika. Daarom moet die internasionale reg gebruik word om sowel aanhitsing tot volksmoord as regstellende aksie te stuit.
Marcus betoog in die hof vir die ANC dat "hiperbool deel van politieke retoriek is en dat die grootste moontlike ruimte daarvoor toegelaat moet word". Volgens hom moet die liedjie "Skiet die Boer" nie letterlik opgeneem word nie, maar is dit 'n versetsliedjie.
Jackson Mthembu van die ANC woon die verhoor by.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





