'n Dringende vergadering om die dokumentasie te bespreek van Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika woon, word vir vandeesweek beplan, het binnelandse sake se woordvoerder Ronnie Mamoepa gister gesê.
Hy het gesê die besonderhede van die vergadering met die verteenwoordigers van Zimbabwiese inwoners in SA sou met verloop van tyd vrygestel word.
"Die vergadering sal hierdie week gehou word. Sedert die aankondiging deur die kabinet dat Zimbabwiërs wat in SA lewe gedokumenteer moet word, het daar 'n groot mate van verwarring en verkeerde inligting veral van NRO's en [sogenaamde] immigrasiedeskundiges ontstaan, wat daarop gerig is om verwarring onder Zimbabwiërs in die land te saai," het hy gesê.
Hy het gemeen die suggestie dat Zimbabwiërs en masse na Zimbabwe sal moet terugkeer om die dokument te bekom, is "ver van die waarheid af".
Hy het gesê daar is 'n ooreenkoms tussen Pretoria en Harare dat die Zimbabwiërs die Zimbabwiese ambassade in Pretoria moegt nader of konsulate in Johannesburg of Kaapstad wat hul besonderhede sou afneem.
Die kabinet het Donderdag aangekondig dat 'n spesiale bedeling vir Zimbabwiërs teruggetrek is.
Die bedeling - wat in April verlede jaar in werking getree het - het aan Zimbabwiërs wat Suid-Afrika binnekom die reg verleen om in die land te woon, werk te soek, 'n opvoedkundige fasiliteit by te woon en toegang tot basiese gesondheidsorg vir ses maande te bekom.
Die bedeling sou op 31 Desember verval.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





