AfriForum is bekommerd dat die beoogde militêre opleiding vir "genomineerdes van politieke partye" in stryd is met die bepalings van Artikel 199(7)(b) van die Grondwet, wat bepaal dat die SA Nasionale Weermag en lede van die veiligheidsmagte nie die belange van enige politieke party mag bevorder nie.
Minister Sisulu en verteenwoordigers van die ANC Jeugliga en die Jong Kommuniste Liga het in Mei 2010 planne bekend gemaak om militêre opleidingskampe vir jeuglede aan te bied, kort na die omstrede besoek van Julius Malema aan Zimbabwe, Venezuela en Kuba, vroeër vanjaar.
"Na ʼn openbare uitbarsting het die minister ʼn verklaring uitgereik wat beweer dat die opleidingskampe oop is vir alle politieke partye, maar verteenwoordigers van die drie vernaamste opposisiepartye het reeds aan ons bevestig dat hulle geen formele uitnodiging tot dié effek van die minister ontvang het nie", het Willie Spies, prokureur van AfriForum, in 'n verklaring gesê.
"Dit is van wesentlike belang dat ons nie die foute van ons noordelike bure in Suid-Afrika herhaal nie. Die opstellers van die grondwet het ook verder goeie rede gehad om politieke partydigheid in die Weermag uitdruklik te verbied. In Zimbabwe is jeug-lede van Zanu-PF wat opleiding in militêre milisiekampe ondergaan het, berug en gevrees vir hulle aandeel in geweld en intimidasie tydens verkiesingstye. Ons moet ten alle koste ʼn soortgelyke situasie in Suid-Afrika verhoed", het Spies gesê.
Indien geen antwoord van die minister se kantoor ontvang word nie, sal ʼn hersieningsaansoek more in die Noord-Gautengse-Hooggeregshof uitgereik word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





