praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:05:30:08 AM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika Suid-Afrikaners gestrand in Mosambiek ná voedselonluste

Suid-Afrikaners gestrand in Mosambiek ná voedselonluste

E-pos Afdruk PDF

Honderde Suid-Afrikaners is vasgevang in onluste wat Mosambiek  tans teister en hulle is gedwing om hul verblyf in die land te verleng. 'n Hele aantal hotelle in Maputo sukkel om diegene wat gestrand is te akkommodeer.

Verskeie mense is dood toe die polisie op onlusmakers losgebrand het wat betoog oor stygende voedsel-, water- en elektrisiteitspryse in Maputo en nabygeleë Matola. Die onlusmakers het 'n groot deel van die hoofstad tot stilstand gebring.

Die meeste mense kon nie by die werk kom nie en passasiers in Johannesburg en elders was gestrand by die lughawe omdat Maputo s'n gesluit was.

DIe plaaslike TV-stasie Soico Televisão het die dodetal op 10 of meer geskat, met ten minste 11 beserings, terwyl die staatsnuusagentskap AIM die dodetal op "ten minste drie" beraam het.

Euginia dos Santos, van die Hotel Cardoso, het gisteraand gesê: "Daar is geen manier waarop mense by die lughawe kan kom nie omdat die paaie geblokkeer is. Dit is beslis te riskant om vandag (Woensdag) lughawe toe te gaan."

As gaste 'n vol bespreekte hotel teëkom, sê Dos Santos sommige, wat nie hulle weg na die lughawe  as gevolg van die onrus kon vind nie, het ingestem om na dubbelkamers te verskuif, om plek te maak vir ander gaste wat reeds kamers bespreek het wat hulle teen giseroggend moes ontruim het.

Dos Santos sê sommige kamers het leeg gebly aangesien meer gaste by die lughawe vasgekeer was met geen manier om by die hotel te kom nie.

'n Suid-Afrikaanse sakeman is deur polisiebeamptes weggekeer toe hy gister probeer het om sy weg na Maputo se lughawe te vind en is gedwing om "'n belangrike konferensie in Johannesburg mis te loop".

"Polisiebeamptes het ons aangesê om terug te draai omdat swartes verbygaande motors met klippe gegooi het en buitebande verbrand het. Ek dink elke sakeman is verontrief," het Julio Dias van Roodepoort gesê.

Hy het gesê hy kon die woede agter die griewe verstaan aangesien "daar geen vakbonde in Mosambiek is nie en geen formele manier vir werknemers om met die regering te skakel nie."

Suid-Afrika se hoë kommissariaat (ambassade) is gesluit ná die voorvalle van geweld. Die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris na Mosambiek Dikgang Moopeloa het gesê Suid-Afrikaners wat Mosambiek besoek, moet die N4 tussen Maputo en Matola vermy.

Vlugte na Maputo deur sowel die SAL as die plaaslike redery LAN is gister gekanselleer.

Die oproer skyn verooraarsaak te gewees het deur 'n 13,4 persent toename in elektrisiteitstariewe en 'n 11,7 persent toename in die waterpryse, plus 'n regeringsaankondiging dat die broodprys op 6 September met 25 persent sou styg.

Die ergste van die geweld was in die omgewing van Benfica, aan die buitewyke van Maputo, waar onlusmakers die Sasseka-voedselverspreidingsdepot aangeval en beskadig het, asook 'n kantoor van die elektrisiteitsmaatskappy Electricidade de Mozambique, het AIM gesê.

Die staatsbeheerde Telivisao de Mozambique het beelde van 'n brandende vulstasie vertoon en berig ander stasies en winkels is ook beskadig.

AIM het gesê dat die polisie by die Benfica en Prasa dos Combatentes-lughaweterminale traangas afgevuur het om betogers te verjaag wat bande brand om die verkeer te versper. Die betogers het klippe na verbygaande voertuie gegooi.

Bolle rook het die hele gebied bedek.

Die oproer het vervoer ontwrig, insluitende die minibusse waarop die meeste pendelaars staatmaak. Skares voetgangers wat werk toe loop, het die strate verstop.

'n SAL-woordvoerder Fani Zulu het gesê al vier vlugte tussen Johannesburg en Mosambiek is as gevolg van die onrus gekanselleer. "Ons kyk na ongeveer 400 passasiers wat as gevolg hiervan nie kon vlieg nie," het hy gesê.

Die Mosambiekse joernalis Paul Fauvet het gesê die SAL het passasiers  aangesê om baie vroeg vandag na die lughawe te kom om te probeer om die volgende vlug na Maputo te haal.

Die organiseerders van die onluste is te blameer vir die sterftes, het die minister van binnelandse sake José Pacheco gesê.

"Ons werk aan die identifisering van mense wat die staking georganiseer het en pak die skuld vir die dood en beserings, sowel as 'n verwoesting van eiendom, op hulle," het hy gesê.

Anonieme mense het teksboodskappe per selfoon gestuur het om Mosambiekers aan te hits om teen die prysstygings te betoog, het Arnaldo Chefo, 'n polisiewoordvoerder, gesê.

Nog 'n woordvoerder van die polisie, Pedro Cossa, het gesê die polisie hanteer die betogings "as 'n bedreiging vir die openbare rus en orde".


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: