Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, me. Lindiwe Sisulu, het skriftelik bevestig dat 183 vuurwapens, 5 mortiere en ses vuurpyllanseerders in die weermag gesteel en verlore geraak het sedert 2007. Dit volg in antwoord op ‘n vraag van Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus in die Parlement.
“Dit is uiters kommerwekkend dat outomatiese aanvalsgewere soos R5 en R1 vuurwapens gesteel word in die weermag. Dit is juis hierdie tipe wapens wat veral in transitorooftogte gebruik word, maar ook nou in rooftogte by winkelsentrums en selfs plaasaanvalle. Wat meer kommerwekkend is, is die feit dat vuurpyllanseerders en mortiere ook gesteel en/of verlore geraak het. Dit getuig van swak bestuur en swak dissipline in die beheer van wapens in die SANW. Die minister verklaar dat alle fisiese maatreëls moontlik ingestel is in die weermag, maar steeds word wapens gesteel en raak verlore. Eintlik sê die minister dat sy niks verder kan doen nie, en dit is onaanvaarbaar,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Verdediging vir die Vryheidsfront Plus.
“Daar kan met reg gevra word hoekom word vuurpyllanseerders gesteel, want dit word gebruik teen tenks en voertuie. Hoe lank voor die ammunisie ook gesteel word? Die minister wil ook nie kommentaar hierop lewer nie en dit is onaanvaarbaar, aangesien sy die mense van Suid-Afrika ‘n antwoord verskuldig is om te sê wat sy omtrent hierdie situasie gaan doen,” het Groenewald gesê.
Volgens die antwoord van die minister is daar sedert 2007 24 x 9mm pistole, 47x R5 (5,56mm), 87x R1 (7,62mm) en 1x 7,70mm gewere gesteel en of verlore. Vier 60mm en een 81mm mortiere is gesteel en drie 88mm, twee 40mm en een 70mm vuurpyllanseerders is gesteel en of verlore.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





