Die stadion se naam kan moontlik verander word na FNB-stadion of die Nasionale Stadion.
FNB, wat die regte op borgskap besit het voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi, het aansoek gedoen om 'n interdik teen die verandering van die naam na die Nasionale Stadion.
Dit kom nadat die huidige bestuur van die stadion besluit het om die naam te verander na die Nasionale Stadion vir die Drienasies-wedstryd waartydens die Springbokke teen die All Blacks sal speel.
Volgens Vicky Trehaeven, FNB-woordvoerder, het die bank vroeër hierdie maand aansoek om 'n interdik gedoen teen die naamsverandering.
"Ons het 'n kontrak en hulle (Stadium Management SA) het 'n kontrak en die hof moet besluit watter kontrak is geldig."
Die saak is verlede week uitgestel en 'n beslissing oor die naamsverandering sal op 3 Augustus geneem word.
Volgens Gabu Tugwana, metroraadwoordvoerder, is die stadion se naam vanaf FNB-stadion na Soccer City verander vir die duur van die Wêreldbeker-sokkertoernooi omdat Fifa nie saam met privaat ondernemings werksaam was nie.
Die stadions mag nie korporatiewe handelsmerk-name besit het nie.
Stadium Management SA, die maatskappy wat die kontrak gekry het om die stadion te bestuur, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





