praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:03:20:40 PM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika Herrie prut tussen Nederland en SA oor oranje

Herrie prut tussen Nederland en SA oor oranje

E-pos Afdruk PDF
Mirte Nieuwpoort en Barbara Castelein, draers van die oranje-rokkie, het Woensdag in die Johannesburgse landdroshof uitgevind dat Suid-Afrika nie 'n gasvrye land is nie.

'n Diplomatieke herrie prut tussen Nederland en Suid-Afrika nadat 'n gespesialiseerde eenheid van die Polisiediens die oranje-meisies vroeg die oggend gaan wakkerklop het.

Die Nederlandse minister van buitelandse sake, Maxime Verhagen, het die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Den Haag, Pieter Goosen, intussen laat weet dat die optrede teen die meisies buitensporig is.

"Hy het aangedui dat die arrestasie van die twee vroue buitensporig en nie korrek was nie," het die woordvoerder vir die Nederlandse ambassade in Suid-Afrika, Christoph Prommersberger gesê.

Verhagen het gesê: "As Suid-Afrika en Fifa 'n maatskappy wil pak oor onwettige advertensie, moet hulle regstappe neem teen die maatskappy, en nie teen twee gewone burgers wat in oranje uitrustings rondgestap het nie."

Nieuwpoort en Castelein verskyn in 'n spesiale Wêreldbekersokkertoernooihof.

Hulle is elk R10 000 borgtog gegee en moet weer in die hof verskyn op 22 Junie.

Hulle het verskyn op aanklagte van oortreding van Suid-Afrika se Handelswaremerkewet van 1941 en die oortreding van die twee afdelings van die Spesiale Maatreëls Regulasies.

Hulle regsverteenwoordigers en borgtog is betaal deur die Bavaria Bier-maatskappy.

Die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika, Robe de Vos, het gesê die ambassade het die polisie gevra om die arrestasies en ondervraging te verklaar.

Prommersberger sê die ambassade ondersoek die moontlikheid om 'n lid van die ambassadepersoneel by die vroue te plaas vir hul veiligheid.

Die polisie, intussen, kon nie sê of daar 'n regsgeding teen alle Suid-Afrikaanse vroue wat oranje rokke dra, is nie.

Na aanleiding van die Nederlandse regering se kritiek, het Saul Molobi Kgomotso, 'n woordvoerder vir die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, gesê Suid-Afrika se wetgewing is ontwerp om Fifa se intellektuele eiendom te beskerm

"Ons het 'n beroep op ondersteuners gedoen om ons wette in ag te neem as 'n soewereine staat."

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: